Gedagte vir die dag | Woensdag 2 Junie 2021
Matteus 13:34-35: “Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ‘n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. So moes vervul word wat die Here deur ‘n profeet gesê het: “Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.”
Dis storietyd! Dis storietyd!
Sjoe, elkeen van ons het seker die beste herinneringe oor storietye. Of dit nou op TV, of ’n kinderprogram op die radio was (in my tyd was stories deel van die Siembamba-program) of as oupa sê: “Dis storietyd!” Dink byvoorbeeld na oor die mooiste stories wat jyself al gehoor het, en jy sal met my saamstem dat stories die wêreld ’n mooier plek maak.
Dit is so wonderlik om te weet en te sien dat die Bybel ook vol stories is – waar stories en stories wat die lesers leer. Ons groot leermeester, Jesus Christus, het self mense geleer en verduidelik wat die koninkryk van God is, deur stories te vertel. In ons teksvers staan dit dat Hy deur gelykenisse, wat ’n vorm van ’n storie is, mense geleer het.
Gedurende die volgende paar dae wil ons, met hierdie dagstukkies, by ’n paar stories stilstaan en kyk wat ons ook daaruit kan leer. Hiervoor het ek ’n boek op my rak nader getrek, “Stories vir die lewe”, wat saamgestel is deur verskillende storievertellers. Sommer vroeg in die boek, verduidelik hulle die waarde van stories, en ek haal so paar van die aanhalings aan:
“Daar sit meer helende krag in een verhaal, as in ’n rak vol dogmatiese werke” – Ferdinand Deist.
“Die Bybel teologiseer nie oor die groot geloofswaarhede nie, dit vertel bloot die storie van God se dade en God se mense” – John C Vincent
“’n Storie is soos die wind, dit kom van ‘n ver plek af, en ons kan dit nie sien nie, maar ons voel dit” – Laurens van der Post
“In tydlose stories, herken ons onsself beter as in ’n spieël” – Paul Theroux
Daar word ook vertel dat iemand vir Albert Einstein gevra het wat ’n mens kan doen om jou kinders slim te maak. Sy antwoord: “Lees vir hulle ’n storie”. “En dan?” volg die verbasende vraag. “Lees vir hulle nog een” – Albert Einstein
Mag die paar stories hierdie week, vir ons by die punt bring waar ons die lewe opnuut kan waardeer en verstaan watter krag stories het. Lees weer ’n storie, luister weer na ’n storie oor die radio, of vertel weer ’n storie. Dit maak die lewe net ’n beter plek.
Gebed
Here, dankie vir die grootste storie ooit! Die storie wat ons lees in die Bybel, oor die pad wat U met ons as mense loop, en hoe dit ’n hoogtepunt vind in Jesus Christus, ons Verlosser. Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 1 Junie 2021
Jeremia 1:4-10. 4Die woord van die Here het tot my gekom: 5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. 6“Ag, Here my God,” het ek geantwoord, “ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.” 7Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. 8Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het. 9Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. 10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.
Die profeet vertel hier van Jeremia, ’n jong seun wat gedink het sy lewe gaan in een bepaalde rigting, maar dan sê God vir hom dat Hy vir hom iets heeltemal nuut beplan het. Natuurlik was Jeremia bang en onseker oor die nuwe wending wat sy lewe neem en het hy gewonder of hy goed genoeg is om God se groot plan uit te voer. Maar op ’n liefdevolle wyse gee God aan hom die belofte dat hy dit nie op sy eie hoef te doen nie, maar dat God by hom sal wees en hom sal help. Dit is soms die enigste trooswoorde wat ons nodig het wanneer ons in ’n nuwe hoofstuk van ons lewens is – dat ons nie alleen is nie. Mag dit ons troos wees. Maar mag Jeremia se storie ook vir ons ’n uitnodiging wees, want God gebruik ook gewone mense, soos ek en jy om buitengewone dinge in hierdie wêreld te doen. Mag ons in hierdie Pinkstertyd, diep bewus word van die influistering van die Gees en op watter nuwe paaie God ons lei.
Amen
Gedagte vir die dag | Maandag 31 Mei 2021
Gedig deur Koos van der Merwe
Mag jy mooi wees as die lelik verby is
En sag kyk na elke harde tyd
Mag jy bly wees as die huil verby is
En vrede hê na die stryd.
Verkeerde goed kom môre weer reg
En die wyn is soet na die bitter en die sleg
Mag jy opstaan as jy seer geval het
En jou vrae verdwyn as die antwoord kom
Mag jy huis toe kom as jy klaar verdwaal het
En die winter los vir die son
En mag jy droom, mag jy ook vergeet
En op plekke woon wat van horisonne weet
Jy kan opstaan as jy seer geval het
En jou vrae verdwyn as die antwoord kom
Jy kan huis toe kom as jy klaar verdwaal het
En die winter los vir die son.
GEBED
Dankie God,
Ons was moeg, nou roer hoop in ons;
Ons was slagoffers, nou begin ons beheer aanvaar;
Ons was verslaan, nou leer ons leef;
Ons was verlore, nou ontdek ons onsself;
Ons was gevangenes, nou raak ons vry;
Ons was swak, nou raak ons vol krag;
Ons was verraai, nou word ons draers van hoop.
Amen
Gedagte vir die dag | Sondag 30 Mei 2021
Romeine 8: 31-39. “31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? 33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. 35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
Die goeie nuus van God se nuwe wêreld, is dat wanneer ons Christus die Here van ons lewens maak, niks ons van God se liefde kan skei nie. Nie die lewe of die dood nie, geen dieptes of hoogtes, geen siektes of rampe. So mag ons vertellers en vertalers wees van God se groot storie van liefde.
Gebed
Die pad is lank, mag ons saam gaan
Die pad is moeilik, mag ons mekaar help.
Die pad is vol vreugdes, mag ons dit deel.
Die pad is afdraand, Hy is die weg.
Die pad is oop voor ons, mag ons leer om te waag.
Amen
Gedagte vir die dag | Saterdag 29 Mei 2021
Ek lees graag vanoggend Psalm 121 as ’n oggendgebed.
Mag hierdie gebed van meer as 2500 jaar jou herinner om te rus in God se sorg. Mag die woorde jou uitnooi om losser deur die lewe te gaan, meer kanse te neem en minder bang te wees. Want God sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.
Gedagte vir die dag | Vrydag 28 Mei 2021
Romeine 12:1-2. “1En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Pinkster nooi gelowiges uit om te reflekteer oor hoe ons, ons geloof kan beliggaam. Om God se groot storie van liefde uit te leef waar ons ookal gaan en teenoor elke persoon wat ons ontmoet. Tydens Pinkster word ons uitgenooi om diep te luister na die Gees en bewus te raak waar God besig is om iets nuut in ons lewens te doen. As gelowiges, glo ons dat God alreeds besig is om die wêreld ’n mooier en meer betroubare plek te maak. Ons word uitgenooi om dit saam met God te doen. Mag die kerkvader, Francis, se gebed vir ons daartoe inspireer:
Vredesgebed deur kerkvader Francis van Assisi
Lord, make me an instrument of your peace.
Where there is hatred, let me sow love;
Where there is error, truth;
Where there is injury, pardon;
Where there is doubt, faith;
Where there is despair, hope;
Where there is darkness, light;
And where there is sadness, joy.
O Divine Master, grant that I may not so much seek
To be consoled as to console;
To be understood as to understand;
To be loved as to love.
For it is in giving that we receive;
It is in pardoning that we are pardoned;
It is in self-forgetting that we find;
And it is in dying to ourselves that we are born to eternal life.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 27 Mei 2021
Romeine 5:1-5. “1God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Pinkster daag volgelinge van Christus uit om ons geloof nie net uit te leef in die lig nie, maar meer so in die donker, of duisternis. Want dis in die donker – daar waar God ver voel, en waar dit stil raak, dis waar ons uitgenooi word om diep na die Gees te luister. Dis in sulke plekke waar ons ook bewus raak daarvan dat ten spyte van die afstand en stilte kan lig deur die krake in skyn. Dalk is die ligstrale nie baie helder nie, dalk is dit maar flou, maar dit is genoeg om ’n verskil te maak. Genoeg om die wêreld ’n mooier en meer betroubare plek te maak. Mag ons beide die lig en die donker uit God se hand ontvang.
Pinkster gebed
Why is the world so messed up?
I asked God,
So much anger, violence, poverty,
And everywhere I look
I see fear and doubt and loneliness.
Where, in all this sadness,
Is your light –
Your grace-
Your touch?
Take your boots off,
said God.
Gedig geneem van Soul Whispers deur Edwina Gateley.
Gedagte vir die dag | Woensdag 26 Mei 2021
Handelinge 2:1-8. “1Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. 5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?
Pinkster is ’n storie vir ons tyd. Ons leef in ’n tydperk waar woorde ’n toksiese atmosfeer begin skep het. Waar taal en die manier hoe ons met mekaar praat mense en groepe verdeel. Woorde kan ons verwond. Ons herken dit in die omgewing waar ons leef en ons beleef dit in ons eie kerk. Dit is juis hoekom ons die Pinkstertyd so nodig het. Die belangrikste opdrag wat die apostels op daardie dag moet uitvoer, was om bymekaar te bly, saam te bid en geduldig te wag dat die Gees iets nuut in en deur hulle doen. Hulle moes hulleself oopstel om deur die Gees van God verander te word. Ons word ook uitgenooi om as gelowiges bymekaar te kom, en onsself oop te stel vir die nuwe goed wat die Gees ook in ons lewe wil doen. Ons het ’n nuwe taal nodig om brûe na mekaar te bou en nuwe woorde om liefde te vertaal. Die eerste tree wat die kerk moes gee, was om te midde van oorweldigende verskille tussen partye aan te hou om met mekaar te praat en na mekaar te luister. Want as ons mekaar se lewenstaal kan leer praat, word vreemdelinge broers en susters.
Pinkstergebed
God of descending fire, God of Pentecostal streets
Transform us into your people
May we listen to those who speak in the global language of protest- shouts that are mistaken as foreign.
Their tongue/our tongues tell of pain and fear in words we all know by heart
Send us out from our hiding to speak of love, to demonstrate the power of justice.
And may we see the new community you make in the admission and forgiveness of sin
Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 25Mei 2021
Wysheid wat heel maak
Carol Dweck, die Amerikaanse sielkundige het ’n studie gedoen waar sy twee groepe kinders getoets het. Die eerste week het hulle vir die kinders in groep 1 ’n toets laat skryf en met die uitgee van die resultate hulle vir hul intellek geprys. Groep 2 het dieselfde toets ondergaan en na die toets was hulle vir hul probeerslag, maar nie hul intellek nie, geprys. Dweck en haar span het na ’n week vir albei groepe die opsie gegee om ’n moeilike toets te skryf wat aan hulle ’n uitdaging sou bied, of om die makliker toets te skryf wat geen uitdaging sou bied nie. Groep 1 wat vir hulle intellek geprys is, het dadelik die maklike toets gekies, teenoor die ander groep wat almal die uitdagende toets gekies het en beter daarin gevaar het as die eerste groep.
Dweck en haar span het bevind dat wanneer mense bereid is om te probeer en soms nie suksesvol is nie, is hulle daarna meer bereid om uitdagende situasies aan te pak. Haar boek “Mindset” verduidelik hierdie konsep. Tydens die pandemie is dit interessant hoe maklik ons in fopnuus vasgevang kan raak, of binne ’n sekere paradigma sake kan verstaan. Soveel so dat ons nie uitdagings wil aanpak nie en eerder net vasgevang in ’n situasie bly sit.
Die Spreuke skrywer het ’n interessante opinie oor wysheid in Spreuke 26:4-6. “4.Moenie ’n dwaas se vraag op net so ’n dwase manier beantwoord nie; hy sal dink jy is soos hy. 5. Beantwoord ’n dwaas se vraag op net so ’n dwase manier, anders dink hy hy het wysheid. 6. As jy ’n dwaas met ’n boodskap stuur, kan jy net so wel nie ’n boodskap stuur nie en aanvaar dat daar moeilikheid kom.”
Dit is asof die skrywer twee opinies het oor hoe om nie dwaas op te tree nie. Aan die een kant sê hy: moet nie ’n dwaas antwoord soos ’n dwaas nie, aan die ander kant sê hy: maar antwoord die vraag van ’n dwaas op ’n dwase manier.
Die skrywer wil ons bewus maak van ons onderskeidingsvermoë. Die Spreuke skrywer nooi ons om met onderskeidend te leef, want dit is wysheid wat heel maak. Die skrywer sê vir ons, ons moet die situasie lees.
Om met onderskeidend te leef beteken dat ons moet probeer, selfs al beteken dit dat ons foute maak en selfs al doen ons dit verkeerd.
Gebed:
Here, dankie vir die nuwe dag. Dankie dat ons kan weet dat ons binne U genade kan probeer en weer probeer. Dat ons kan leer om te onderskei en wysheid te ontwikkel. Here, mag ons in hierdie tyd met wysheid leef sodat dit ons en die mense om ons heel maak.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 24 Mei 2021
Die Reëls verander
Die fliek Miracle, is ’n sportfliek waarin die Winter Olimpiese spele van 1980 in Lake Placid New York uitgebeeld word. Die bekende yshokkie wedstryd tussen die Soviet Unie en Amerika te midde van ’n tydperk van hewige konflik en die bekende afrigter Herb Brooks van Amerika wat ’n klomp onprofessionele spelers afgerig het om die Olimpiese spele te wen, was alles deel van die film.
Die meeste van die spelers onder Herb Brooks se leiding het gesê dat hy nie noodwendig die reëls kom verander het nie, maar omdat hy hulle anders benader het, het dit tot gevolg gehad dat hulle self die reëls anders benader het.
Reëls het altyd vir groot debat in die antieke wêreld gesorg. Die wet en gebooie het selfs ook sekere mense uitgesluit en ander bevoordeel. Jesus het baie na die wet verwys in sy woorde aan die massas en Hy het ’n ander perspektief oor reëls gehad.
Markus 12:29-31 NLV. Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’ Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.”
Jesus het juis vir die mense van daardie tyd gesê dat hy nie gekom het om die wet te vernietig nie, maar dat Hy gestuur is om die spelreëls anders te benader. Jesus het vir die mense kom sê dat die nuwe benadering tot reëls ander moet insluit en in liefde moet ontvang. Ons kan vandag in die kerk ook in reëls en debatte vasgevang raak. Ons moet onthou dat gesonde reëls is dié wat ander in liefde benader.
Gebed:
Here, dankie dat U die spel ter wille van ons anders kom benader het. Dankie dat ons nie ongesonde reëls hoef te gebruik om ander uit te sluit nie, maar dat liefde alles wat ons doen, oorwin. Dankie dat U ’n nuwe en gesonder leefwyse vir ons in hierdie tyd kom oopbreek. Here help ons ook om mense anders te benader.
Amen.