GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 12 Junie 2021

Jeremia 18:6.Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel.

Ons lees in Jeremia 18, dat die Here vir Jeremia die boodskap gee om na die werkplek van die pottebakker toe te gaan.  Die Here wou daar met Jeremia praat, Jeremia was gehoorsaam aan die Here, en hy het na die werkplek van die pottebakker toe gegaan. Daar aangekom, kry hy die pottebakker waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk,  maar die pot waarmee hy besig was, was nie ’n sukses nie.  Hy neem toe weer die klei, druk dit inmekaar en begin van voor af om weer om ’n pot te vorm soos hy dit wou hê.

Toe begin die Here om met Jeremia te praat: “O Israel, kan Ek nie met julle maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in My Hande.”

Klei het nie planne van sy eie nie, geen ambisie vir diens en geen onwilligheid om sy gegewe taak uit te voer nie.  Dit is net klei.  Vormbaar, buigsaam, heeltemal ondergeskik aan die wil van sy meester.

So is ons dan ook klei in God se hande.  Hy kan ons vorm tot watter soort werktuig Hy ons ookal nodig het.  Is ek en jy bereid dat die Here ons kan vorm tot ’n bruikbare kruis?   Dit is nie altyd ’n maklike vormproses nie, maar die eindproduk verheerlik God.  Gee jouself vandag oor aan God sodat Hy jou soos ’n stuk klei op die pottebakker se wiel kan vorm.

GEBED

“Doen slegs U wil Heer – U wil met my, U, Pottebakker, met my, die klei.  Vorm my en maak my, net soos U wil.  Op U bly wag ek, nederig stil.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 11 Junie 2021

Sefanja 3:14-15. “14Sing, Sion! Juig, Israel!  Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! 15Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie.”

Die opskrif van Sefanja plaas dié boek in die tyd van koning Josia van Juda (640-609 v.C.).  Op internasionale gebied was dit die laaste jare van die Assiriese Ryk met die hoofstad in Nineve.  Sedert die dood van koning Assurbanipal in 633 voor Christus het dié ryk sodanig verswak dat Juda vir praktiese doeleindes weer as ’n onafhanklike land gefunksioneer het.

Sefanja fokus in vandag se teks op die toekomstige vrede wat in Juda en Jerusalem sal heers. Die volk kan solank hulleself verheug in wat gaan kom: “Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!” Die oorlog sal vergete wees, die vyand verslaan. Die Here self sal as Koning optree en hulle van rampe beskerm. Hulle moedeloosheid sal verdwyn. Let op hoe pragtig Sefanja die teenwoordigheid van die Here beskryf: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” (3:17).

Dit is ook die belofte wat ek en jy vandag vir ons kan neem. Die Here ons God is by ons. Hy is die krygsman wat ons red. Die Here belowe ons in sy woord, dat hy met ons is – dag en nag en dat Hy ons nooit alleen sal laat nie. Dit mag dalk vir jou voel asof die hele wêreld teen jou is, maar dit is eintlik anders om. Die Here staan saam met jou. Hy is by ons in die diepste donkerte. In Sy hande is ons veilig. Jy moet onthou God woon in jou, Hy is by jou en in jou!. Glo en vertrou dat die Here by jou is.  tydens jou seer en jou swaarkry.

GEBED

Die Here is VOOR jou om jou pad gelyk te maak.

Die Here is LANGS jou om jou in Sy arms toe te vou.

Die Here is AGTER jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is ONDER jou om jou te dra as jy mag val.

Die Here is RONDOM jou om jou te beskerm.

Die Here is BOKANT jou om jou te seën.

Die Here is BINNE-IN jou om jou te lei met Sy Heilige Gees.

Die drie-enige God is BY jou – van nou af tot in ewigheid.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 10 Junie 2021

Daniel 1:8.  “Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie.”

Daniel het nie toegelaat dat die versoekings van die tyd waarin hy geleef het sy verhouding met die Here beïnvloed nie. Hy het geweet om heilig voor God te lewe, beteken dat hy in alles teenoor God gehoorsaam moet wees. Ongeag wat die magtigste koning in die wereld beveel het, het Daniel geweier om af te wyk van God se plan vir sy lewe.

Vriende, ons almal weet dat ons elke dag teen ons sondige natuur en versoekings moet stry. Die versoekinge raak ook nie minder soos ’n mens ouer raak nie.  Dit bly maar altyd daar.  Ons word daagliks met ’n hele paar versoekings gekonfronteer. Hoe hanteer jy dit?

Weet jy dat Jakobus een keer gekrywe het: “Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”  Jy kan presies doen wat Daniël gedoen het. Jy kan “nee”, sê en kies om God se pad te loop, en jou lewensdoel te beantwoord. Jy kan dit weliswaar nie alleen doen nie. God is deur sy Gees in jou. Hy help jou kies en help jou vas staan in jou oortuigings. Naby aan die Here, is jy veilig. Daar kan jy aan jou lewensdoel voldoen, en ’n gelukkige, mens wees.

GEBED

Here help my sterk staan teen versoekings. Ek wil so graag gehoorsaam aan U wees.

Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 9 Junie 2021

Johannes 21:15.Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”  Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

Petrus het Jesus erg teleurgestel toe hy Jesus verraai het en gesê het dat hy hom nie ken nie. Hy het in die openbaar ontken dat hy Jesus enigsins ken. Jesus het ’n wonderlike manier om ons weer terug te ontvang al het ons Hom teleurgestel. Jesus verneder ons nie en kritiseer nie. Hy neem wel vir Petrus eenkant toe en vra dat hy weer sy liefde aan Hom sal erken.

Miskien is jy ook bewus daarvan dat jy die Here Jesus al op verskeie maniere teleurgestel het. Miskien was jy nie getrou nie, of was jy ongehoorsaam.  Miskien het jy Jesus deur jou leefwyse verloën.  Deur die genade van die Here Jesus sal die Here ons ook nie verneder wanneer ons self skuldig voor Hom staan nie. Hy neem jou vandag ook eenkant toe en vra: “Het jy my waarlik lief?” As jy Hom lief het sal jy Hom gehoorsaam.

GEBED

Here U weet alles van my af. U weet dat ek U lief het. Help my om U te gehoorsaam elke oomblik van elke dag. Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 8 Junie 2021

Matteus 9:36: “Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.”

Ek glo almal sal saamstem dat een van die mooiste liedere wat ons sing in die kerk, en wat ons by Taize geërf het, is Ubi Caritas; “Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.”

Vandag se storie handel oor deernis en luister:

Daar was eendag ’n weduwee wat geglo het die lewe draai net altyd sy rugkant na haar toe. En sy het goeie rede gehad om so te dink. Na haar man se dood, was haar seun haar hele lewe, maar hy het ook gesterf en sy is weer alleen agtergelaat. “Waarom moet ék dan so swaar kry?” het sy dag vir dag gesug. Sy was ontroosbaar.

Ten einde raad, neem haar vriendin haar na die ou wysheer wat op die rand van die dorpie bly. “U weet so baie van die lewe”, sê sy. “Kan u nie tog die ou vrou help om van haar smart ontslae te raak nie?” Die ou man sê toe vir die weduwee: “Gaan soek vir my ’n mostertsaadjie wat uit ’n huis kom waar daar nog nooit hartseer was nie. Daarmee sal ek vir jou ’n wonder doen en jou hartseer genees.”

Die weduwee het onmiddellik met haar soektog begin, want haar hart was baie seer. “Ek sal eerste by die ryk mense van die omgewing probeer,” dink sy – “ hulle sal tog sekerlik niks hê om oor hartseer te wees nie.” By die grootste, mooiste huis klop sy aan: “Goeiedag” groet sy die vrou wat oopmaak. “Ek is opsoek na ’n huis wat nog nooit hartseer geken het nie, dit is seker so huis die, né?  “Nog nooit hartseer geken nie?” vra die vrou terwyl daar trane in haar oë kom. “As dit is wat jy soek, is jy by die verkeerde huis. Ek kan jou alles van hartseer vertel, maar kom binne dan gesels ons.” Die weduwee het ingegaan en na haar geluister. Na ’n paar dae was die vrou nog steeds aan die praat. Toe die weduwee uiteindelik voel dat sy die ryk vrou kon alleen laat, was hulle goeie vriendinne.

Toe besluit die weduwee om by ’n klein, armoedige huisie aan te klop. Maar ook hier was die reaksie omtrent dieselfde. Die hartseer was van ’n ander aard, maar niks minder nie. En so was dit by al die huise waar sy aangekom het. By die koning se paleis, tot by die kleinste hutjie, geen tuiste was sonder sy kwota verdriet nie. In haar maande lange reis van dorp tot dorp, het sy soveel deernis ontwikkel met die hartseer van ander, dat sy van die wonder mosterdsaadjie vergeet het. Die ander mense se pyn het vir haar belangriker geword as haar eie. Haar deernis met ander, het die mosterdsaad geword wat haar genees het.

“Deernis met ander, is twee harte wat saam swaar trek.” Benjamin Disreali

Die enigste geneesmiddel van iets of iemand wat vir jou kosbaar is, is om in ‘n nuwe toonaard te probeer liefhê. Nie meer ter wille van die vrede wat jyself daaruit kry nie, maar ter wille van die vreugde wat jy gee deur ander wat ook swaarkry te troos. J. Neville Ward.

Gebed

Here, leer my asseblief om die nood van ander raak te sien, en toe te laat dat hulle nood my eie nood in perspektief sal plaas.

Amen.

Gedagte vir die dag | Maandag 7 Junie 2021

Spreuke 17:17: “Op ’n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is.”

Daar is seker al duisende stories oor goeie vriende vertel. As ek oor my eie lewe nadink, het ek talle sulke stories oor goeie vriende wat elke dag my pad gekruis het, of ander wat ’n mens net een keer ’n jaar, of minder sien. ’n Mens besef wat is die waarde van vriendskap, en jy kan ook baie stories vertel oor jou en jou vriende se belewenisse.

Vandag handel ons storie oor vriendskap. Daar word vertel: “Aan die einde van die vyftiende eeu, het twee jong leerjongens, Hans en Albrech, in die houtsnee bedryf in Frankryk gestudeer.  Albei wou ook in die skilderkuns gaan studeer, maar nie een van die twee het geld gehad nie. Hulle besluit toe op die volgende oplossing: Een van hulle sal eers gaan werk en genoeg geld bymekaar maak, sodat die ander een van die inkomste kan studeer. Wanneer die eerste een dan klaar gestudeer is en ryk en beroemd geraak het, sal hy weer geld aan die ander een voorsien om te gaan studeer. Die vraag was natuurlik net: “Wie sou eerste gaan studeer?” Uiteindelik het hulle ’n muntstuk opgeskiet om te besluit,  en Albrecht het gewen. Terwyl Albrecht in Venesië gaan studeer het, het Hans as ’n grofsmit gaan werk. Elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, het hy ’n groot deel daarvan vir sy vriend se studies aangestuur.

Die maande het jare geword, en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseer. Hy het na Duitsland, sy geboorteland, teruggekeer en as meesterskilder begin naam maak. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans, finansieël te help met sy studies.

Die twee het ’n blye-wederontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe het hy eers die opoffering van sy vriend waarlik begryp. Die baie jare van brute handewerk as grofsmit, het Hans se sensitiewe hande gekneus en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof dat hy nooit weer die fyn kwas van ’n skilder sou kon hanteer nie.  As nederige dankbetoon vir sy vriend se jarelange opofferinge sodat hy ’n beroemde skilder kon word, het Albrecht Dùrer ’n portret van sy vriend Hans se beskadigde hande geskilder.  Die hande wat so hard en getrou gewerk het, sodat Dùrer sy talent kon ontwikkel.

Die dag toe hy aan sy vriend die skildery met die biddende hande oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering eendag aan miljoene mense bekend sou raak, as die simbool vir gebed nie.

“Hoe onvergelyklik goed, voel dit om die bekende  hand van ’n getroue vriend in jou eie te neem!” – Henry Longfellow

Gebed

Here, so baie dankie dat vriende oor ons pad kom, om ons lewe sinvol, ryk en mooi te maak. Gee dat ek elke dag my vriende en vriendskappe sal koester. Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 6 Junie 2021

Psalm 62:11: “Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie.  As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie”.

Ons is nog steeds besig met ons stories aan hand van “Stories vir die lewe”.

Vandag se storie is baie nou verwant met bogenoemde teksvers.  Die volgende storie word vertel:

Daar was ’n baie ryk man, wie se lewe net om homself gedraai het. Dag na dag het hy bereken hoeveel geld hy reeds gemaak het, en hoeveel meer hy nog kon maak. Hy het net die beste kos geëet, ontwerpersklere gedra en in ’n baie groot huis gebly, met talle bediendes wat na al sy behoeftes omgesien het. Hy het alles wat hy begeer het gehad, was gelukkig met homself en met sy lewe.  Aan wat buite sy huis gebeur, het hy homself selde gesteur.  Wanneer hy buite sy groot venster uitgekyk het, sou hy net anderkant sy pragtige tuin die armsalige plakkershutte van die armes van die land kon sien, maar hy het net oë vir homself en sy besittings gehad.

Op ’n stadium het daar ’n swaarmoedigheid oor hom gekom. Hy kon snags nie meer slaap nie, en was nie meer lus vir die Cordon Bleu-disse wat vir hom voorgesit is nie. Selfs om sy baie geld te tel, kon hom nie meer beter laat voel nie. “Gaan haal vir my die wyste man in die land!” beveel hy sy sekretaris. Ek sal hom enige iets betaal as hy my kan help om beter te voel. “Waarmee kan ek help?” vra die wyse man toe hy by die rykmanshuis opdaag. “Gee my raad!  Ek wil weer vreugde in die lewe ervaar.” Die wyse man het ’n oomblik nagedink, en toe neem hy die ryk man na die venster wat na die straat front. “Wat sien jy as jy deur die venster kyk?” vra hy. “Ek sien mense”, antwoord die ryk man. “Ek sien ’n arm man wat bedel, en ’n seuntjie wat ’n ou dame oor die pad help. Ek sien kinders wat lag en speel!” Daar kom sommer weer lewe in sy stem. Toe lei die wyse man hom na ’n spieël in dieselfde vertrek. “Wat sien jy nou?” vra hy. “Ek sien myself.” Kom sit hier, dan vertel ek jou iets, sê die wyse man. “In ’n venster is daar glas, en in ’n spieël is daar ook glas. Kyk ’n mens deur die venster, sien jy ander mense en hul behoeftes. Plaas jy silwer agter die glas het jy ’n spieël, waarin jy net jouself sien.  Dink daaroor, ek gaan nou.  My advies kos niks nie.”

Die ryk man is so geruk deur die wysheid dat sy lewe daardie dag totaal verander het. Hy het na die behoeftes van ander begin omsien en hy was weer gelukkig, maar op ’n ander manier.

Niks maak die mens so eensaam nie, as jou eie belang, jou enigste belang geword het nie. Niks vernietig ware geluk soos  respektabele selfsug nie.” – George MacDonald.

Gebed

Here, dankie vir alles wat ek het, dankie vir alles wat U my gegee het. Dankie vir al die seën en besittings. Help my om dit met dankbaarheid te besit, sonder dat dit my besit. Help my om te deel soos wat U deel.

Amen.

 

 

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 5 Junie 2021

Spreuke 3:1-2.  “My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf, want dit sal vir jou ‘n lang lewe verseker, dit sal maak dat jy ‘n vol lewe het”.

Saai saadjies van insig . . .

Ja, dis weer storietyd!

In die vroeë jare het daar ’n baie ryk Sultan in Baghdad gewoon. Toe daar vir hom ’n seun gebore word, het hy ’n groot feesmaal gehou.  Al die mense uit die adelstand het dit bygewoon, en die duurste geskenke vir die prinsie saamgebring.  Een wyse ou man het ook by die fees opgedaag, maar sonder ’n geskenk. Toe hy opmerk dat die Sultan hom vraend aankyk, verduidelik hy: “U majesteit, die prins ontvang vandag baie kosbare geskenke.  Ek kon nie een bekostig nie. Maar my geskenk is dalk die kosbaarste . . . Ek belowe om, wanneer die prins eendag groot is, elke dag na die paleis toe te kom en vir hom stories te kom vertel. Die verhale van ons volk se helde, en van die wyses, en die goeies van alle lande.  Vandat hy kan verstaan, totdat hy ’n volwasse man is, sal ek aanhou om vir hom stories te vertel.  As hy dan eendag oor ons regeer, kan u seker wees dat hy wys, eerlik en opreg en regverdig sal wees. Mens leer uit ander se verhale.”

Die ou man het sy woord gehou. Jaar na jaar het hy die prins se verbeelding vasgegryp met sy verhale uit die geskiedenis asook sy stories en sprokies. Teen die tyd dat die prins Sultan geword het, was sy karakter gevorm deur die morele waardes gebaseer op die ou man se verhale. Lank na die storieverteller se dood, was die jong Sultan steeds bekend vir sy wysheid en geregtigheid. In Baghdad is daar vandag nog ’n monument vir die Sultan, met die inskripsie: “Sy insig en goedheid was die gevolg van die saadjies wat die wyse ou man met sy woorde in hom gesaai het.”

Gebed

Here, gee dat ons nooit sal vergeet wat ander vir ons geleer het nie. Dankie veral vir die verhale wat oupa, ouma, mamma en pappa en dalk ander, vir my van kleins af vertel het. Dankie dat dit steeds ’n invloed op my lewe het.

Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 4 Junie 2021

Psalm 23:1-3: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag”.

Dis storietyd!

Ja selfs ’n mooi Psalm, soos die een waaruit ons vandag gelees het, kan ’n mooi storie wees. Die volgende verhaal het ek al baie gehoor en selfs al daaroor gepreek. Ek deel dit graag met julle:

’n Beroemde akteur is eenkeer as eregas na ’n dinee by ’n aftreeoord genooi. Na die ete was daar verskillende lofbetuigings oor die akteur se roemryke loopbaan, en ten slotte is hy gevra om iets voor te dra. Hy vra toe of daar ’n spesiale versoek is.

Die mense was maar skaam, en ook nie so bekend met sy repertoire nie. Toe staan ’n ou dominee op: “Sal u nie vir ons Psalm 23 voordra nie?” Die akteur was effens uit die veld geslaan – want hy was eintlik bekend vir sy vertolking van Shakespeare – “met plesier,” antwoord hy toe sjarmant. “Ek dink ek ken nog die woorde.”

Toe hy met sy pragtige stem en suiwer intonasie die Psalm voordra, het die gehoor aan sy lippe gehang. Nog nooit het die klanke van die pragtige bekende Psalm so mooi op hul ore geval nie. Toe hy klaar was, het ’n spontane applous plaasgevind. “Baie dankie, baie dankie”, het hy gesê. Die akteur was amper aangedaan met sy poging. Spontaan sê hy toe: “Nou wil ek graag ’n guns vra. Sal die persoon wat die Psalm versoek het, nie dit ook vir ons voordra nie?”

“Ek?” vra die bejaarde Godsman – “ek weet niks van die voordragkuns nie, en my stem is al taamlik treurig. Maar as u dit as ’n guns vra, kan ek dit nie weier nie.” Die akteur beduie hy moet na vore kom, maar die ou man glimlag: “Toemaar, ek staan sommer hier by my sitplek.”

Toe begin hy met sy ietwat krakerige stem voordra.  Aan die einde van die Psalm was daar geen applous nie, maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit, en min oë was droog. “Sien julle die verskil?” vra die akteur bewoë. “Ek het julle oë en ore bereik, maar hierdie man het julle harte geraak. Want sien, ek ken Dawid se Psalm, maar hy ken die Herder.”

Gebed

Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Dankie my Herder. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 3 Junie 2021

Filippense 4:4.  Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.

Dis storietyd!

Ons het gister genoem dat ons aan hand van die boek: “Stories van die lewe”, ’n paar stories met mekaar wil deel. Ek sal poog om dit elke keer vas te maak aan ‘n bepaalde teksgedeelte, sodat dit vir ons nog meer van waarde kan wees.

Toe mense eendag ’n wyse man vra hoe ’n mens ’n storie moet vertel, het hy geantwoord: “’n Storie moet so vertel word, dat dit insig en selfs hulp verleen aan dié wat dit hoor, en aan dié wat dit vertel. My oupa was lam”, vertel die man toe verder. “Eendag het mense hom gevra om te vertel van sy held, Baal Sjem Tov. My oupa begin toe vol geesdrif vertel hoe die Baal altyd rondgespring en gedans het as hy baie ernstig gebid het. Terwyl my bedlêende oupa so van sy held vertel, het hy uit sy bed opgestaan. Meegevoer met sy vertelling het hy self begin rondspring om te wys presies hoe Baal Sjem gemaak het. Dit is hoe ’n mens ’n storie moet vertel.”

Van die beste tye wat ek met my kleinkinders persoonlik het, is die tye wat ek stories aan hulle vertel. Partykeer raak ek self meer opgewonde oor die storie (wat ek maar so paragraaf na paragraaf uitdink terwyl ek dit vir hulle vertel) as die kinders self. Ek sien iets van hierdie verligting wat ’n storie kan meebring, in die teksgedeelte van vandag. En hoe jy deur ’n storie te deel, in watter vorm ook al, ook in gebed, of in gesprek met geesgenote die vrede daardeur ervaar. Dit is ’n vrede wat van God af kom, wat al ons verstand te bowe gaan en in ons gedagtes die wag hou in Jesus Christus.

Besluit sommer vandag vir wie jy ’n mooi storie kan vertel. Dalk vir jou kind, of kleinkind, of ‘n vriendin, of iemand in ’n ouetehuis of hospitaal.

“Al wat ons regtig gelukkig sal maak, wat ons sal genees van ons negatiwiteit, is iets waaroor ons regtig opgewonde kan raak” – Charles Kingsley

Gebed

Here, leer my opnuut om stories te vertel wat ander, sowel as myself, vrede sal bring.

Amen.

Ds. Why Duvenhage

 

1 101 102 103 128