GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 Junie 2021

Jeremia 20:11: “Maar die Here is met my soos ‘n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle staan diep beskaamd, omdat hulle nie geslaag het nie, ‘n ewige smaad wat nie vergeet sal word nie.

Dit kan maklik gebeur dat ons dink, “dit sal nooit regkom nie.” Dis onmoontlik, daar is niks wat ek aan hierdie saak kan doen nie. Ek is vas geloop, sonder uitkomkans. Ek staan voor ’n muur, en ek kan nie hierdeur nie.  Wanneer ons onsself in so ’n gedagtegang betrap, kan ons gerus onthou hoe Jesus daaroor gedink het.

Markus beklemtoon dit onder meer in ‘n paar plekke, ek noem enkeles:

Markus 9:23: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.”

Markus 10:27: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

Markus 14:36: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

Matteus 17:20: As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Ons weet dat die Here beeldspraak hier gebruik en verstaan dat God kan verander.  Hoe kan die Here vir my verander? Hier is dit nie ’n geval van ek gaan staan sonder petrol en nou verwag ek dat daar uit ’n magiese bron petrol voorsien moet word nie.

Robert Schuller het in een van sy werke gesê: Jesus is een van die grootste denkers wat ooit geleef het. Maar glo ons dit nog? Glo ons dat dinge kan verander?

In Jesus se omstandighede was dit nogal nie so eenvoudig en maklik nie. Hy was arm, ongeleerd, sonder ’n vaste werk. Soveel so dat eintlik maar baie min  evangelies oor Hom geskryf is. Hy was deel van ’n minderheidsgroep in ’n land wat voorheen aan sy volk behoort het. Onder sy kennisse en vriende was daar nie een baie belangrike persoon wat vir hom toutjies getrek het, of deure oopgemaak het nie. Die volgelinge was maar ’n vreemde klompie soos vissermanne wat nie een geleerd was nie en manne wat nie vreeslik sterk was wanneer hulle moes nie,

’n Tydjie gelede het ons in die tuin van Getseme stilgestaan.  Daar het die manne gelê en slaap toe hulle moes bid en Hom ondersteun. Een het hom verraai, ’n ander een het hom verloën en toe het hy geglo en verkondig dat alles moontlik is, vir die wat glo. Dis ’n boodskap wat sy volgelinge nie vergeet het nie, dit het hul hele lewensuitkyk verander. Want hulle het self gesien dat alles wel moontlik is, hy het uit die graf op gestaan, lafaards wat onbevrees sy boodskap verkondig het en as’t ware sy koningkryk verower. Want wat het gebeur? Hulle het verander. Hulle het die saak anders gesien en insig gekry in die baie mooi spreekwoord: “As die skip nie hawe toe kom nie, swem uit na die skip toe.” Ons wil dikwels hê die skip moet na ons toe kom, en wil hê ons gebede moet so beantwoord word.

Maar ons kan verander word deur self na die skip toe te swem. Glo ons dat die Here se woorde waar is vir elkeen wat glo? Dis nie net ’n sekulêre slagspreuk wat niks met die Evangelie te doen het nie, dis juis die Evangelie self. Ons kan gered word, maar die Here kan ook vir ons die genade gee om te verander, om die moeilikste omstandighede te verstaan, te oorkom en te oorwin.

Gebed

Here, gee vir ons die genade om nuut en anders en te doen. Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 21 Junie 2021

Spreuke 11:1. “Die Here het ’n afsku van ’n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg.”

Ek was verlede week betrokke in ’n gesprek met iemand, wat ’n ondersoek vir die Zondo-kommissie gedoen het. Hy was voorheen in die polisie en het ’n ondersoek eenheid op die been gebring. Die Zondo-kommissie se werk het tot ’n einde gekom, en na my gesprek met hom, het ek ’n gedeelte wat ek al voorheen opgelees het, nagegaan. Arnold Toynbee, bekende geskiedskrywer sê: “Altesaam 19 van die afgelope 21 beskawings in die wêreld, het nie deur magte van buite tot ’n val gekom nie, maar is vernietig deur morele en geestelike agteruitgang.”  Miskien is een van die treffendste bewyse in die verband die opkoms en val van die Romeinse Ryk.

’n Mens kan nie help om vandag in ongeloof jou kop te skud, as jy in Italië sien, wat van hierdie eens ongelooflike Romeinse Ryk geword het nie.

Ons dink ook aan die geskiedenis van die Normandiërs, wat as Noormanne in die tiende eeu hulself aan die weskus van Frankryk gevestig het. Hulle het spoedig ’n gedugte volk geword en het talle skole en katedrale opgerig, ridderorders gevestig en as leiers van die Pelgrimstogte opgetree. Die Engelse en Franse het gebewe wanneer hulle van die Normandiese soldate gepraat het.  Maar binne twee eeue het die Normandiërs van die aarde verdwyn deur die afskaling van geestelike en morele waardes.

Dan wonder ’n mens wat is die toekoms van ons land? Wat is die toekoms van mense met goeie waardes soos gelowige Christene en Moslem gelowiges? ’n Mens wonder of ons land vervalle geraak het, vasgevang in neputisme, korrupsie, swak dienslewering ensovoorts.

’n Mens hoef nie noodwendig swartgallig te wees, wanneer ’n mens Spreuke 11 lees nie. Die Engelse joernalis, Malcom Muggeridge, het terreg geskryf: “geloof, verdoof die lig van die Evangelie, en daar bly ’n duisternis oor.”  Daarom moet ons eerder saamwerk met ander gelowiges en groepe in hierdie land sodat goeie waardes beskerm word. Nie net die Bybel nie, maar ook die wêreldgeskiedenis leer ons oor oorlewing, gehaltediens en beginselvastyd.

Onthou Toynbee se 19 beskawings wat tot nuut gegaan het. Onthou die Romeine en die Normandiërs, as ons daarom mag vra: en wat nou? Dan moet ons die daad by die woord voeg en hou by wat in Hebreurs 4:14 staan: “Laat ons vashou aan die geloof wat ons begelei, en laat die toekoms aan die Here oor.”

Gebed

Here gee dat ons sal hou daarby om reg te weeg, om vas te hou aan die waardes en beginsels van die evangelie.

Amen.

 

 

Gedagte vir die dag | Sondag 20 Junie 2021

Psalm 139: “Here, u sien dwarsdeur my. U ken my, of ek sit en of ek opstaan, u weet dit. U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis, en of ek oorbly, U bepaal dit. U is met al my paaie goed bekend, daar is nog nie ’n woord op my tong, of U Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit, die wete oorweldig my. Dit is te hoog vir my begrip, waarheen sou ek gaan om u gees te ontvlug, waarheen sou ek vlug om u teenwoordigheid te ontkom. Klim ek op na die hemel is U daar, gaan lê ek in die doderyk is U ook daar.”

Gedagte

Ek het ’n bietjie oor ons afhanklikheid van God nagedink. Het ons God nog soos vroeër nodig? Die wetenskap het vir ons groot seën gebring.  Ons beleef dit  ook in die eerste plek met die Covid-inenting wat op die mark gebring is en die ongelooflike navorsing wat die afgelope jaar gedoen was om die mensdom te beskerm. Vir probleme waarmee ons vroeër na God toe gegaan het, is daar nou meestal die een of ander spesialis beskikbaar.  Vroeër sou mense vir baie dinge na die dominee toe gegaan het, maar nou is daar ’n rits kundiges wat  ’n mens kan help om probleme op te los.  Voorheen het ons vir reën gebid, nou maak ons dit bykans self, want ons weet presies wanneer dit gaan reën.  Vroeër het ons vir genesing gebid, maar nou besoek ons liewer ’n dokter.

Gebed

Ek het u nodig, Here, want as U nie die huis bou nie, werk die wat daaraan bou tevergeefs. En as U die stad nie bewaak nie, waak die wagters tevergeefs – die Psalmdigter sê dit so mooi in Psalm 127.  Ek wil U dank vir die insig wat U vir ons gegee het.  Vir die verstand wat ons het om u skepping te kan begryp.  Al speel ons maar net langs die strand met ’n paar klippies en kennis.

Ek wil bid dat u koninkryk nog sterker sal deurbreek in laboratoriums, spreekkamers en navorsingsplekke sodat die wêreld onder u leiding ’n beter plek kan word. ’n Plek met minder lyding, en veel meer vreugde sodat die wêreld al hoe meer kan begin lyk na die bruilofsmaaltyd met vrolike gaste. Want ons weet Here, of ek sit en of ek opstaan, U weet dit. U ken die mens se gedagtes, nog voor dit by ons opkom, waar ons ookal reis, want U bepaal dit.   U is met ons paaie goed bekend. Here bewaar my dat ek nie sal dink dat ek U met lugversorging, pille, masjiene of slim antwoorde kan vervang nie. Hou my dig by U terwyl U my hande gebruik, om die bruilofsmaaltyd voor te berei. Dan sal ek U nie kan vergeet nie.

Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 19 Junie 2021

Handelinge 2 oor die eerste kerk. Ek lees nie die hele gedeelte nie.

Vers 43: (Dis nou na die uitstorting van die Heilige Gees) “Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul.”  Dan sien ons hoe hulle met mekaar die dinge gedeel het, en by die tempel bymekaar gekom. En dan in vers 47:B gedeelte: “terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.

Ek was so twee weke gelede by die bevestiging van Braam Hanekom se dogter, Marietjie Hanekom in die Groote Kerk in Kaapstad. Voor die diens die oggend  het ek uit Seepunt se rigting gery en gesien hoe die mense op die promenade stap, koffiewinkeltjies besoek en bymekaar kuier.  Ten spyte van Covid-19 was daar letterlik honderde mense.

In die besondere kerkgebou, waar ons tot net 100 persone beperk is, het die beverstiging plaasgevind en dit was ’n besondere geleentheid gewees. Ek kon nie anders, as om te dink die wêreld daar buite gaan eintlik sy normale gang teenoor die groepie wat in die kerk bymekaar kom.  Dan begin ’n mens wonder waarheen is die kerk oppad? Hoe dink die ander mense wat daar buite is, oor die kerk, godsdiens, geloof, en ook oor hierdie kerk se mense?

Vir baie beteken die kerk nie veel nie. Die aanhaling van Abigail von Buren het by my opgekom, “A church is a hospital for sinners, not a museum for Christians.” ’n Kerk is ’n hospitaal vir sondaars, nie ’n museum vir heiliges nie.  Miskien is die kerk, of mense se ervaring dat die kerk dood is, omdat ons ’n museum daarvan gemaak het, in plaas daarvan om dit in ’n hospitaal te omskep.  Ons moet mekaar vergewe.  Ons moet mekaar berispe, maar die wat dan sterk is, moet die wat swak is help, sonder om self te struikel. Ons moet let op mekaar se lewens, maar ons moet nooit die eerste klip optel nie. Ons moet streng wees met mekaar, maar ons moet nooit ons liefde verloor nie.

Die wyse waarop ons die kerk se opdragte uitvoer en sekere sondes vir tug uitsonder, kan wees waarom mense ons as heiliges aansien – eintlik meer ’n museum van skynheiliges.  Kom ek en jy maak ons gemeente, waarlik ’n hospitaal vir mense, waar hulle kan suurstof kry as hulle benoud raak. ’n Plek waar ons sondes vergewe en lewens gered word. Kom ons beklee onsself met Christus en maak liefde telkens die voorskrif.

Gebed:

Here, gee vir ons die vermoë om te kan help. Om beddens skoon te maak, krukke aan te gee, om suurstof of maskers op te sit, om ’n koors te neem en ’n koel lappie op iemand se kop te sit. Maak ons gelwoiges met die kleed van Jesus Christus.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 18 Junie 2021

1 Samuel 4:1-11: “Samuel se woorde was aan die hele Israel gerig.  Op ‘n keer het Israel teen die Filistyne gaan oorlog maak. Die Israeliete het by Eben-Haeser kamp opgeslaan, en die Filistyne by Afek. Hulle het hulle leër teenoor Israel laat stelling inneem, en toe die geveg ontplooi is, is Israel deur die Filistyne verslaan. Hulle het omtrent 4 000 manne op die slagveld afgemaai. Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: “Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande.”

Dan lees ons in die volgende gedeeltes dat hulle die ark gaan haal het, en toe hoor hulle in vers 6: Die Filistyne het die geskreeu gehoor en gevra: ‘Wat vir ‘n geskreeu is dit daar in die laer van die Hebreërs?’

Die Filistyne het toe uitgevind dat die ark van die Here in die kamp aangekom het. Hulle het bang geword, want hulle het gesê: ‘God het in die kamp gekom’. Verder het hulle gesê: ‘Dis klaar met ons, want so iets het nog nooit gebeur nie. Dis klaar met ons! Wie sal ons red uit die mag van hierdie geweldige God? Dit is dié God deur wie die Egiptenaars in die woestyn getref is met allerhande plae. Nou sal julle moet dapper wees! Gedra julle soos manne, Filistyne, sodat julle nie miskien slawe word van die Hebreërs soos hulle júlle slawe was nie. Gedra julle soos manne en veg!’

Hierna het die Filistyne gaan veg, en die Israeliete is weer verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy woonplek toe. Daar was ‘n baie groot slagting, dertig duisend voetsoldate van Israel het geval. 11Die ark van God is ook gevat, en Eli se twee seuns Hofni en Pinehas het omgekom.”

Gedagte:

Om aan te sluit by gister se dagstuk het ek weer nagedink oor hoe ons God verloor, en hoe God in die kerk ook kan weg raak.  Ek het destyds die aanhaling van Lenny Bruce in een van Ferinand Deist se boeke gelees: “Everyday people are staying away from the church and going back to God.”

Ons bespiegel baie in hierdie tyd oor hoe die kerk in die toekoms en veral na die Covid-19-pandemie gaan lyk. Ons kan ons verbeel dat God tussen ons is, net omdat ons die kerk is. Maar dis ’n ou fout van die kerk, die Israeliete het hulle dikwels met die soort van verbeeldingsgeloof misgis. Dit was so toe hulle gereken het die ark verseker God se teenwoordigheid. Ek het die gedeelte in Samuel 4 gelees, en hulle het gedink dat as die ark nou hier is, en by ons, dan is dit nie waar God se teenwoordigheid gestalte kry nie.

Ook in Jeremia 7, as jy lees vanaf vers1-15, het hulle ook gereken dat God is in sy tempel is en het hulle gedink die tempel roep hulle na God toe.  Wanneer ons nie kerk is nie en nie God se werk doen nie en Hy nie in ons handel en wandel teenwoordig is nie het Hy geen ander keuse as om op ’n ander manier sy werk te doen nie. Dis vreeslik om te sê, maar dan doen Hy dit sonder ons. Want sy werk moet gedoen word, met of sonder ons.

Ons moet nie dink God is tussen ons, net omdat ons ’n gemeente is, of omdat ons aan die kerk behoort, of omdat ons ’n kerkgebou het nie. Ons sien juis dat dit soms van die redes is waarom mense die kerk verlaat. Want hulle sien nie meer God tussen ons nie.  Waar gaan hierdie mense dan heen as hulle van ons weg gaan?  Daar is inderdaad mense wat sê hulle is klaar met ons, en verkies om na God terug te keer, weg van die Kerk af. Wat doen ek en jy dan? Is ons werklik nog in diens van God?

Gebed:

Here help ons om gestalte te gee aan u liefde en aan u liggaam, sodat hulle vir Jesus Christus, die lewendige God in ons lewens kan sien.

Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 17 Junie 2021

Ek lees dieselfde gedeelte as gister, dink aan die Here terwyl jy jonk is, lees dit gerus. Prediker 12:1-8: “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: ‘Ek het daar niks aan nie.’ Dit is die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën. Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk, wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die meul dof word, die tyd wanneer ‘n mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen lied meer nie.

Dit is die tyd wanneer hy bang is vir ‘n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan, die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val, die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het. Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.”

Gedagte:

Die vers gaan eintlik oor alles wat slegter word wanneer jy ouer word.  Iemand het onlangs die opmerking gemaak: “Wanneer jy gebore word, is jy eintlik besig om stadig te sterf.”  Dit is nie ’n positiewe siening oor die lewe nie.

Ek het in die laaste jaar, baie nagedink oor mense naby aan my wat hulle geloof in God verloor het.  Dikwels is daar onderliggende redes daarvoor.

Een van die redes hiervoor is dikwels dat hulle teleurgesteld is in God – dat daar ’n bepaalde verwagting was.  ’n Mens kan eintlik ’n hele preek maak oor Godsbeelde wat mense het. En ook oor wat mense verwag Hy moet doen, en as dit dan nie so uitwerk nie, is mense teleurgesteld, deur hierdie Skepper wat hulle in hul jong dae leer ken het.

Verder dink ek ook dat mense deur ander mede-gelowiges in die kerk teleurgestel word.  Hulle kyk na ons en dink as dit is hoe Christene optree kan ek myself nie daarmee identifiseer nie.  Die bekende aanhaling van Richard Voster, sluit hierby aan: “The problem with God’s flock, is that the biggest rules come from other sheep, and not the wolwes.”

Derdens is daar die blote feit dat mense in die lewe teleurgesteld is. Die lewe het aan hulle die verkeerde kaarte uitgedeel.  Miskien sluit dit by die teleurstelling in die kerk, en die debatte van wat binne die kerk gevoer word, aan.  Die hele debat oor selfdegeslagverhoudings het tot gevolg gehad dat sommige mense hulle nie meer met die kerk en dit wat God is wou vereenselwig nie.  Daar is waarskynlik nog baie ander redes.

Ek het net weer opnuut besef watter groot gawe dit is om net te kan glo, ten spyte van al die dinge waarin ’n mens teleurgesteld is. Dit  is ’n wonderlike genadegawe om net te kan glo.  Daarom sê ek vir elke dag vir die Here dankie om net te kan glo. Ek is saam met jou dankbaar dat jy, ten spyte van ’n klomp negatiewe goed, ook kan glo.

Gebed

Here dankie vir die wonder van geloof, as ‘n gawe.

 

Gedagte vir die dag | Woensdag 16 Junie 2021

Dis vandag, Jeugdag en ’n openbare vakansiedag in ons land. Ek hoop dat jy wat elke dag voltyds werk  vanoggend ’n bietjie later kon slaap.  Die hele Covid-19-pandemie het ouers met skoolgaande kinders voor baie uitdagings geplaas. Vandag gaan ons nadink oor jonk wees en die jeug.

Daar is altyd sekere teksverse wat ’n mens uit jou kop kan onthou. Ek onthou die jare wat ons nog gepraat het van Sondagskool, deesdae word daarna verwys as kategese. Kategese word gevorm van katagismes, maar ek dink baie van julle het herinneringe daarvan dat wanneer ons in ons jonger dae tekste geleer het, moes ’n mens dit uit jou kop uit geleer het.

Ek het vanoggend nagedink oor hoe ons as kinders daar in Calvinia, waar ek grootgeword het, kerk toe gestap het na die Hantam-gemeente. Ons het so drie-drie in ’n ry gestap en het voor die Sondagskool begin het die teksverse oor en oor uit ons koppe uit geleer.  Ek onthou ook een naweek op die plaas toe my pa vir my gesê het ek moet Dinsdag by die kinderkrans die teksvers waarvoor ek die liefste is, opsê.

Ek lees vandag uit my ma, Susan Visagie, se Bybel die volgende teksvers.  Prediker 12:1: “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: ‘Ek het daar niks aan nie’.”

Dit is ’n ongelooflike voorreg om die Here in jou jong dae te leer ken.  Hopelik kyk jy ook terug na ’n tyd waar jy met die Here ’n intense belewenis, of ervaring gehad het.  Ook van saamwees met ander mense, groepe, of tydens jeugkampe en dat jy ’n goeie en gesonde reis in jou jongdae saam met die Here beleef het.

Ek wil vra dat ons vanoggend saam sal bid vir elke ouer.  Dat hulle wysheid, oordeel en insig sal ontvang sodat hulle die regte besluite kan neem.
Dan ook in besonder vir alle onderwysers, wat te midde van ’n baie uitdagende tyd en besondere eise hulle werk moet doen. Ons wil julle hande hoog hou, vir die rol wat julle speel.  Aan elkeen van julle wat ’n rol in jongmense se lewens speel wil ons sê dat julle nie moet moed verloor nie.  Julle speel ’n belangrike rol in kinders se lewens, omdat julle eie waardes aan kinders afsmeer.

Ons moet ook in die besonder bid vir jong mense wat in die vuurlinie staan binne ’n geweldige uitdagende tyd. Ons gebed is dat hulle staande sal bly, dat hulle iets sal verstaan van wat dit beteken om die Here te ken, en gestalte te gee daaraan – ook in hul alledaagse lewens.

Gebed

Here, dankie dat ons bevoorreg kan wees om U te kon leer ken in ons jong dae. Ons wil in die besonder vir ouers, onderwysers, en ook spesifiek vir die jong mense, tieners en kinders bid – hou hulle vas, Here. Dankie dat ons elkeen kleinkinders of iemand wat ons goed ken, aan u kan opdra. Gee dat kinders U sal leer ken deur die voorbeeld wat oupas,oumas, ouers en onderwysers aan hulle stel.

Amen.

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 15 Junie 2021

Markus 1:35. “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid.”

Dit was algemeen bekend onder die dissipels dat Jesus soggens vroeg gaan bid het. Omdat Jesus dikwels deur skares omring was, het Hy geweet dat Hy ’n stil plek moet vind om Sy Vader se stem te hoor.  Elke keer as Jesus ’n belangrike besluit moes neem, het Hy gebid. Toe dit tyd geword het om Sy dissipels te kies het Hy daaroor gebid. Dit was gebed wat Jesus se program bepaal het. Gebed het die wonderwerke vooraf gegaan. Gebed het Jesus op kritieke oomblikke bemoedig. Gebed het Hom in staat gestel om na die kruis te gaan. En gebed het Hom op die kruispad deurgedra.

Hoeveel te meer het ons nie ook gebed nodig nie?  Hoe lyk jou gebedslewe? Hoeveel keer per dag bid jy? Wel, as jy een of twee keer bid, is dit al wonderlik, maar jou gebede moet eintlik in mekaar begin vloei dat dit ’n lewenstyl word, dat jy niks doen sonder dat jy nie bid nie. Selfs wanneer jy nie daarna voel nie! Gebed is ‘n leefstyl. Dit is so natuurlik soos asemhaal. Jy kan bid vir enigiets op enige plek enige tyd van die dag.

GEBED

Here leer my bid.

Amen

Gedagte vir die dag | Maandag 14 Junie 2021

Efesiers 3:20-21.  “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

Paulus skryf in sy brief aan die Efesiërs dat God magtig is om “oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:20). Dit is ’n merkwaardige woord wat ’n mens gerus maar aanhoudend moet herhaal en bepeins totdat dit deel geword het van jou geloofslewe. Dan sal dan vir ons ’n bron van troos en hoop wees.

Omdat God ons liefhet met ’n onpeilbare en onberekenbare en onbegryplike liefde, kan en wil Hy in ons lewe oneindig meer doen as wat ons selfs kan bid of dink. Ons bid vir so baie dinge en ons dink oor hoe ons graag sal wil hê die dinge in ons lewens moet gebeur. Ons kom voor God met ons planne en begeertes en vra dat Hy tog sal doen wat ons graag wil hê.

God wil graag Sy onmeetlike krag in ons lewens beskikbaar stel. Ons hoef nie langer op ons eie vermoëns staat te maak nie. Hy kan veel meer doen as wat ons ooit kan verwag. Jy kan elke dag God se wonderwerkende krag vir jou lewe toe-eien. Hierdie krag is beskikbaar vir al die uitdagings en probleme op jou lewenspad.

GEBED

Here help my, staan my by en onsluit asseblief U krag in my. Amen

Gedagte vir die dag | Sondag 13 Junie 2021

Spreuke 29:18.  “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk; dit gaan goed met elkeen wat die wet van die Here onderhou.”

Wat verwag God van jou in sy wet soos Hy dit in die Tien Gebooie uiteen gesit het? Hoe sal jy dit opsom? Is die wet steeds geldig? Hoe hou die wet verband met die genade van die evangelie?

Die voorskrifte van die wet verskaf ’n netwerk van vertikale en horisontale riglyne wat oorvloed in die lewe moontlik maak. ’n Wetsgeleerde het Jesus gevra: “Leermeester, wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?” Jesus se antwoord was: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en belangrikste opdrag.” Dit som die eerste vier gebooie van die Tien Gebooie op.  Jesus sê toe: “Die tweede, ewe belangrike opdrag is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dit neem die laaste ses gebooie saam. Jesus som dit só op: “Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

Ware gehoorsaamheid – die soort wat meer is as die van die skrifgeleerdes en die fariseërs – bly nie by die letter van die wet nie, maar grawe tot by die diepe bedoeling van die wet. Dit is liefde. Die wet is dus nie ’n swaar las wat ek saam met my moet dra nie. Dit is eerder om in liefde te leef. Liefde vir God en liefde vir ons naaste.

 GEBED

Laat Heer U vrede deur my vloei

Waar haat is laat ek weer U liefde bring

Laat ek in pyn en smart vertroostend wees

en krag gee deur geloof in U o Heer

O Heer help my om altyd so te leef.

Om ander hoer as myself te ag

Ja om lief te he ander bo myself

En ook eerder te gee as te verwag

AMEN

1 100 101 102 128