Gedagte vir die dag | 2 Julie 2021
Die breër spasie van my denke
Ek het as tiener besef hoe my pa se dood my denke rondom ’n dag en ’n datum van redding verander het. Ek sal nooit vergeet hoe my pa vier maande voor sy dood op ons stoep gesit het met pankreaskanker en ek vir hom gevra het: “Is pa nie bang pa is nie gered nie? Wanneer het pa geweet pa is gered?” My pa se antwoord het my geskok, hy het vir my gesê: “Hanno, ek was nog altyd gered, dit is ’n reis nie ’n gebeurtenis nie”. Ek dink die feit dat ek altyd verwag het dat gelowiges ’n dag en ’n datum moet hê van hulle sogenaamde redding het dit vir my moeilik gemaak om my pa se teorie te verstaan. My pa se woorde het my egter laat besef dat redding is ’n lewenslange reis van foute, gebroke omstandighede en geluk.
Toe die kerk vir ons in die verlede gesê het dat net sekere mense aan die groep mag behoort het dit tot gevolg gehad dat ons gesukkel het om ons denke te skuif en ruimte te skep vir nuwe mense om by die groep aan te sluit. Die kerk het haarself juis onlangs in hierdie situasie bevind. Paulus se verhaal is ’n interessante een, Saulus die offisier wat Christene vervolg, kom tot bekering op pad na Damaskus toe en dan skuif sy denke oor die Koninkryk van God drasties. Paulus reis van Jerusalem na Rome, waar hy in sy brief aan die Romeine die volgende sê:
Romeine 12:2. “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Dit is altyd vir my interessant dat Paulus se pad hierdie woorde tipeer “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”. So asof Paulus se slagspreuk is, dat dit goed is om ruimte te skep rakende ons manier van dink oor God. Hoe ons dink oor wie binne of buite die kerk moet wees, hoe ons dink oor verlossing en wie reg en verkeerd is.
God nooi ons uit om integraal te lewe en ruimte te skep in ons denkwyses.
Gebed:
Here, ons bid vandag dat U ons denke wat oud en rigied is sal vernuwe. Here, ons bid maak ons buigbaar en laat ons spasie skep in ons denke om die Koninkryk van God in die hier en nou te beleef.
Amen.
Gedagte vir die dag | Donderdag 1 Julie 2021
Die integrale lewe
Wanneer ‘n mens die fliek Titanic kyk wonder jy hoe so ’n massiewe skip kon sink nadat dit teen so ’n klein ysberg gebots het. Kenners sê dat meer as 80% van ’n ysberg se massa sit onder die oppervlak van die see, so net 20% is sigbaar. Ons as mense is ook tot ’n mate ook só, wat mense van ons sien is slegs een vlak van wie ons is, want daar is baie wat onder die oppervlak versteek lê. Ken Wilbur, die filosoof en skrywer het die Integral Theory, of Integrale teorie na vore gebring. Hierdie teorie sê dat ons as mense bestaan uit vier spasies: denke, aksies, verhoudings en omgewings. Wilbur het hierdeur twee vlakke uitgewys, wat daarop dui dat ons denke en ons verhoudings elemente is wat deel is van ons menswees wat ander nie kan sien nie. Ons aksies en omgewings is wel die dele wat almal kan sien.
Integral theory se hoof teorie is dat ons net kan groei as ons meer en meer buigbaar raak en ruimte kan skep binne elkeen van die vier elemente. Wat dit van ons vra is om bewus te wees van dit wat binne ons is en dit wat ook buite ons is, sodat ons meer spasie kan skep. Christus het ook vir ons gelei om só te dink:
Lukas 11:33-36.
33 “’n Mens steek nie ‘n lamp op en sit dit dan weg in ‘n kelder of onder ‘n emmer nie. Nee, jy sit dit op ‘n staander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. 34Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. 35Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie. 36As jou hele liggaam verlig is en nie ‘n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer ‘n lamp jou met sy skynsel verlig.”
Dit is interessant hoe Jesus hier die oog gebruik as die lamp van die liggaam, so asof Jesus ook vir ons wil sê dat ons bewus moet wees van dit wat binne ons aan die gang is. In die volgende paar dae gaan ons bietjie hoor hoe ons meer ruimte binne elke element kan skep om meer geïntegreerd in hierdie tyd te lewe.
Gebed:
Here, dankie dat ons weer vandag kan besef dat ons verhouding met U ons hele menswees kom verander en skuif. Dankie dat U die God is wat ons uitdaag om meer spasie te skep binne ons menswees sodat ons meer en meer soos U kan word. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 30 Junie 2021
Die spasie binne my geloof
Vandat ek Sondagskool toe gegaan het as ’n kind was geloof en godsdiens, binne my verstaan, in steen gegiet gewees wees. Die mense wat te veel vrae gevra het oor geloof en godsdiens was as die “moeilikheid-makers” gesien. Dus het ons nooit ons geloof bevraagteken nie, ons het nie as kinders gevra waarom, of hoekom ons glo soos wat ons glo nie. Later in my lewe kan ek in alle eerlikheid sê dat ek jammer is hieroor, want geloof het vir my verdiep en verbreed toe ek begin vrae vra. Ek kon dit wat ek glo beter begin verwoord en ek het nuut begin dink oor hoekom ek sekere denke in my kerk nie aanvaar het nie.
Toe ek teologie gaan studeer het, het my vrae baie meer geraak. Vandag vra ek nog steeds vrae en die vrae neem my op ’n ontdekkingsreis na dieper en breër geloof.
Die Bybel nooi ons om vrae te vra, al dink ons somtyds dat dit in steen gegiet is. Job se verhaal is een van soeke na die antwoord: Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense? God antwoord vir Job nadat hy en sy vriende hieroor redeneer en vrae uit die Stormwind vra.
Job 1-7
1Toe het die Here vir Job aangespreek uit ‘n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het ‘n maatlyn oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?
God antwoord vir Job weer met vrae. God kies om hier vir Job te wys dat die vrae wat ons vra rondom ons geloof ruimte vir ons geloof skep waarin dit kan verdiep en groei. Wat is die vrae wat jy in 2021 oor jou geloof wil vra.
Gebed:
Here, dankie dat U vir ons uitnooi om vrae te vra. Dankie vir geloof verdieping en soeke na die waarheid van wie U is in die wyses waarop U met ons werk. Ons bid Here vir die wat worstel met vrae in hierdie tyd van die pandemie, mag dit ’n verdiepingsreis wees wat hulle nader aan U bring. Amen
Gedagte vir die dag | Dinsdag 29 Junie 2021
Kolossense 1:27. “God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.”
Goeie nuus is iets wat ons elkeen baie opgewonde en bly maak. Die opwindende deel daarvan is altyd om dit met iemand te kan deel. Daarsonder verloor die impak van die nuus trefkrag en word ’n mens van die viering daarvan saam met ander ontneem. Hoe raak die goeie nuus, wat Paulus in vandag se teks met ons deel, jou lewe? Dit is wonderlik om net weer te kan hoor dat Christus in my is en my van binne inspireer tot iets groter. Maar die gedeelte wat ’n mens diep tref is dat God met dieselfde sorg teenoor alle mense optree. Ja, ook die wat nie glo nie. Die rasionaal daaragter is aan die een kant vir ons ingewikkeld om te verstaan. Paulus verwys daarna as ’n geheimenis. Aan die ander kant is dit eenvoudig en tasbaar: Dit is die ervaring van God se liefde wat ons lewenspaaie kruis. Moenie dat hierdie goeie nuus vandag waar jy tussen soveel verskillende mense leef, by jou verby gaan nie.
Gebed
Here, ons kom in hierdie dag diep onder die indruk van U goedheid vir alle mense. Dit is ’n wonderlike boodskap om te deel en waaroor ons verstom staan, omdat die grensloosheid van u liefde en genade te groot is vir ons begrip en verstand. Here ons glo egter dat dit ons wêreld kan verander. Hierin staan ons nie terug in die hoop om wonderwerke voor ons te sien gebeur nie. Help ons om die goeie nuus met ander mense te deel. Daar is soveel maniere om hierdie boodskap te deel – wys ons hoe.
AMEN.
Gedagte vir die dag | Maandag 28 Junie 2021
2 Korintiërs 5:17. “Iemand wat aan Christus behoort is ’n nuwe mens. Die oue is verby en die nuwe het gekom.”
Iewers in die lewe kom ’n mens tot die skok besef dat jy oud geword het. Die soepelheid van ‘n jong lyf verdwyn oornag en die energie wat jy eens gehad het is skielik ook minder. Ek onthou so goed die verontwaardiging van ’n oud kollega hieroor. “Hoe is dit dat die hare op jou kop al hoe minder word, maar die in jou ore al meer?” het hy dikwels verontwaardig gevra. Paulus het tot die insig gekom dat alhoewel sy liggaam agteruitgaan, die Here deur dieselfde proses van oudword besig is om hom daagliks te vernuwe. Alhoewel skete, foute en tragedie ons lewenspad kruis en ons dikwels met letsels laat, leef ons in die sekerheid dat niks ons kan roof van die vernuwing wat die Here oor jare in ons bewerk het nie. Anders gestel ons leef met die sekerheid dat ons met verouderde liggame nuwe mense is.
Gebed
Here, ons word gedurig deur die lewe uitgedaag en herinner dat ons kleipotte is wat maklik deur die lewe en omstandighede gebreek word. Die wonder is juis dat ons elkeen in hierdie broosheid ondervind hoe sterk U krag werklik in ons werk. Dankie dat ons ten spyte van alles wat ons aan ons lywe voel en in ons gedagtes bedink heel mense is. Dankie vir die stuk nuwe lewe wat na ons toe kom en ons sterk maak juis wanneer ons swak voorkom.
AMEN
Gedagte vir die dag | Sondag 27 Junie 2021
Matteus 5:23-24. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring dan jou gawe.”
Ek het gewonder of dit hoegenaamd eers nodig is om vandag iets meer oor die teks te sê as: “Maak waar jy kan, reg met mense om jou.” Die radikale gedeelte van die teks is dat al is jy nie noodwendig die een wat fouteer het nie, word ’n mens aangemoedig om die eerste stap te neem. Die Here praat hier met ons oor die sensitiwiteit wat die Heilige Gees aan ons bied om ander mense se onrus raak te sien. Maar dit gaan nie maklik gebeur as jy onder die indruk leef dat hierdie nie jou probleem is nie. Die Here bring ons vandag tot die besef hoe kragtig vergifnis en versoening is. Waag daarom om met hierdie eerlikheid en sensitiwiteit teenoor mense om jou op te tree. Alhoewel dit nie noodwendig jou skuld is nie, kan hierdie gebaar nuwe lewe vir jou en ander bring.
Gebed
Here, ek is dikwels net te moeg of te gejaag om na daardie stem in my siel te luister wat uitroep om net vir ’n oomblik by mense om my stil te staan en te vra: “Wat is verkeerd, of is daar iets wat ek gedoen het wat jou kwaad of hartseer gemaak het? Hoe kan ek jou help?”. Bewaar my Here van my eie fyngevoeligheid wat myself wil beskerm en my weerhou om hierdie wonderlike woorde te spreek. Help my vandag om met ’n ligte hart tussen mense in te stap in die wete dat die groot krag van U vergifnis my en die persoon met wie ek hierdie gesprek voer omring.
AMEN
Gedagte vir die dag | Saterdag 26 Junie 2021
Genesis 12:2. “Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees.“
Ek vermy dit al lank, maar moes onlangs die som maak om te bepaal of my pensioenfonds voldoende voorsiening vir my aftrede sal bied. Terwyl ek besig is daarmee maal die bekommernisse van soveel dinge wat nog kan skeef loop en my planne omver kan gooi, deur my kop. Gaan ek genoeg hê vir die dag wat kom? Vandag se teks kom krap ons aftreeplanne deurmekaar en hersien die toekoms scenario’s wat ons skep. Die Here het Abraham geseën, nie om eendag nie, maar vandag tot seën van ander te wees. Met sy afsterwe het Abraham net die stukkie grond besit waarop hy begrawe is. Maar hy het tot en met sy dood ’n ryk en vol lewe geniet. Ons kan die belofte van die Here se seën as ’n beloning (pensioen of ’n groot enkelbedrag) wat iewers vorentoe gaan uitbetaal om ons by ’n plek van vrede en sekuriteit te bring, sien. Ontdek deur Abraham se verhaal die belofte van God se seën vir jou vandag. Hoe is die Here se Gees prakties besig om met hierdie seën in jou te werk? Hoe kan jy vandag met die middele en gawes tot jou beskikking, of in die posisie waar jy jouself bevind, tot seën wees? Leef vandag met spontanïteit oor wat God jou reeds gegee het.
Gebed
Here, in vandag se tye is ons altyd bewus daarvan dat ons spaarsamig moet omgaan met ons geld en hulpbronne, sodat daar iewers vorentoe vir ons genoeg mag wees. Maar U genade en seën werk anders. Maak my oë oop vir dit wat U my reeds gegee het en laat die spontanïteit daarvan nou reeds oorvloedig uit my vloei. Ek het soveel om vandag met mense te deel. Dit is vir my skrikwekkend om te besef hoe hierdie eenvoudige gebaar vandag soveel mense om my se lewens kan verander. Dankie Here vir hierdie oorvloed wat ek mag beleef.
Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 25 Junie 2021
Hebreërs 12:6. “Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou terugwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem”.
Hebreërs 12 praat met ’n tweede generasie gelowiges oor die realiteit van gebeure wat ons lewens anders laat verloop as wat ons gehoop en gedink het. Daarom die baie bekende eerste gedeelte wat na die teks opbou: “Hou die Here voor oë, dan sal jy nie geestelik moeg word en uitsak nie”. Dit is in die lig daarvan om nie geestelik uit te sak nie, dat ons hoor hoe die Here ons skerp en lelike kante in die lewe aanspreek. Om toe te laat dat die Here op hierdie manier met ons werk en ons tot insig bring is ’n pynlike proses wat ons eerder kies om te vermy. Ons verkies eerder oomblikke van insig wat ons goed laat voel en inspireer. Hoe praat die Here deur hierdie teks met jou? Hoe is Hy besig om jou gedagtes, jou eie wil en gevoelens te buig? In watter rigting stuur hy jou, al het jy self nie kies om te gaan nie?
Gebed
Here, daar is vandag dinge oor myself wat ek eerder verkies om mis te kyk. Dinge wat niemand anders as ekself van bewus is nie. Dinge wat ek diep in my van ander wegsteek. Maar U Here deurgrond my. Ek is bewus dat U Gees alles in my raaksien en dat U my op bewustelike maniere deur gedagtes, mense en omstandighede lei, waar my voete natuurliksgewys nie sou kies om te stap nie. Dankie dat U vandag deur liefde hierdie plekke vir my toeganklik maak en dat ek daar my rus kan vind. Help my om U stem vandag deur ander en omstandighede te hoor sodat ek van rigting kan verander.
AMEN
Gedagte vir die dag | Donderdag 24 Junie 2021
Hebreërs 4:12. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg.
Dat die Bybel steeds vandag vir ons lewendig en kragtig is, is ’n gedagte wat maklik by ’n mens verby kan gaan. Oor jare het ons ’n verskeidenheid Bybels versamel wat iewers op ’n rak staan en waarvan ons uiteindelik net een gebruik. Hoe gereeld ons hierdie een Bybel gebruik is oon ’n ander vraag. Ons teksgedeelte moedig ons aan om in ’n gereelde ritme te kom om die Bybel te lees en om dit met ’n spesifieke ingesteldheid te benader. Wanneer ons tyd neem om die woorde daarvan te lees, die betekenis daarvan te oordink, en toe te laat dat dit ons gees en lewensomstandighede aanraak, dan verander iets binne ons. Dit is soos wanneer jy sukkel om te sien en ’n bril, verkyker, teleskoop of mikroskoop skielik vir jou ’n totaal ander perspektief op die beeld bring. Daar is egter geen ander manier om daarby uit te kom as om toe te laat dat die Bybel jou daarheen begelei nie. Lees jou Bybel en bid elke dag, want dit gee jou krag.
Gebed
Here, daar is vandag so baie dinge wat in my gedagtes rondmaal en take waarby ek moet uitkom. Dag vir dag sukkel ek om behoorlik by alles uit te kom en take af te handel. Dankie dat ons elke dag vir ’n oomblik deur middel van die Bybel en gebed alles wat vir ons voorlê in perspektief kan sien. Dat ek ontslae kan raak van die angstigheid en vrees wat in my leef en my siel kan bedaar om enige situasie te hanteer. Dit is vandag vir my wonderlik om te weet dat U teenwoordigheid my op hierdie manier omring.
Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 23 Junie 2021
Fillipense 4:13. “Vir al hierdie dinge, sien ek kans omdat Christus my krag daarvoor gee.”
’n Storie word vertel dat ’n onderwyser van Albert Einstein blykbaar in Munich blykbaar op tien jarige ouderdom vir hom gesê het: “Albert, jy sal nooit in jou lewe iets word nie.” Niemand weet vandag wie die onderwyser was nie, maar almal ken vir Albert Einstein by die naam. ’n Musiek kritikus het blykbaar in 1873 in Boston hom soos volg oor een van Beethoven se werke uitgelaat: “As Beethoven se sewende simfonie nie op een of ander manier verkort word nie, sal dit gou in onruip raak.” Dit terwyl die wêreld vandag nog met oorgawe na die sewende simfonie luister, maar niemand weet wat van die kritikus geword het nie.
So praat mense deur die eue neerhalend, nie net oor mense wat bekend was en iets bereik het nie, maar ook vir ander mense. Dink aan Josef se broers wat gesê het: “Kyk daar kom die ou dromer aan, kom ons maak hom dood en gooi hom in die put, dan sal ons sien wat word van sy drome.” Genisis 37:19-20
Later toe Josef regeerder in Egipte was, en sy broers hom wou verkoop om aan die lewe te bly, lees daaroor in hoofstuk 43:26. Moses en Dawid het ook die pad van vernedering geloop voordat hullle later leiers van hul volke geword het. Om van Nebukadneser nie eers te praat nie – hy wat vir Daniël in die brandende vuurkuil gegooi het en deur die menslike sameweling uitgestoot is en saam met die beeste moes gras eet. Ons as gelowiges mag nie toelaat dat mislukkings en teleurstellings en die feit dat goed nie uitwerk nie, ons ontmoedig om nie op te kyk, en weer op te staan nie.
Die Oostenrykse psigiater, Sigmund Freud, het ’n groot saak daarvoor uitgemaak, dat onvervulde ideale ’n rol speel in siektes wat met vrees en frustrasie gepaard gaan. Gelukkig laat ’n ander Oostenryker, Victor Frankl weer die klem val op die noodsaaklikheid van die positiewe doelstellings om betekenis aan die lewe te gee. Dié positiewe boodskap word telkens aan ons in die Bybel deur gegee, maar onder andere in Markus 9:23: “Vir elkeen wat glo, kan alles,” het Jesus gesê. Paulus sluit hierby aan en sê: “Ek is tot alles in staat, deur Christus wat vir my krag gee.”
Athur Godfrey het gesê: “Al is jy op die regte spoor, sal jy omgery word as jy daar bly sit”. Daarom kan ons die toekoms met moed ingaan.
Gebed
Here, dankie vir die genade om die glas half vol te sien, in plaas van half leeg. Help ons asseblief wanneer die glad vir ons half leeg lyk.
Amen