GEDAGTE VIR DIE DAG

Dagstuk | Woensdag 12 Junie 2024

Vandag is Woensdag 12 Junie en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit Pinkstertyd te leef. Ons is nou al 3 weke na die Pinksterfees geleentheid, maar tog leef ons vanuit daardie krag elke dag om ook op praktiese maniere hande en voete te wees binne die nuwe kerklike seisoen wat ons noem koninkrykstyd. Die uitnodiging aan ons bly dus nogsteeds om vanuit die krag van die Gees te leef.

In Koninkrykstyd vier ons die heerskappy van Jesus as die Here, wat regeer op aarde. Ons dink ook daaraan dat Jesus sy dissipels uitgestuur het na die wêreld om sy Koninkryk uit te leef. Daarom is die seilboot ‘n belangrike simbool, omdat dit dui op Jesus wat sy dissipels (die kerk) die wêreld in stuur.

Ander simbole wat evangelisasie, barmhartigheid en dissipelskap uitbeeld sluit ‘n koringaar (die sending oes), ‘n oop Bybel (die evangelie), ‘n kroon (Jesus se heerskappy), en ‘n driehoek of drie sirkels in (die Triniteit). Ons verantwoordelikheid om die aarde te versorg asook geestelik te groei, is ook prominente temas in dié tyd en daarom is die kleur groen simbolies vir Koninkrykstyd, sowel as ‘n aardbol (ekologie) en ‘n boom (groei).

Hebreërs 4:16 “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word”.

Mag ons as kerk & huis gereelde ruimtes van ontmoeting skep waar ons mekaar kan herinner aan God se barmhartigheid. Mag dit ruimtes wees waarna ons in vrymoedigheid kan gaan.

Mag jy vandag beleef dat daar vir jou by God plek is.

GEBED: Here, dankie vir ons saamwees & familiewees. Ons bid vir die kerk van vandag met die wete dat U die Een is wat dit instand hou en versorg met U groot barmhartigheid. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dagstuk | Dinsdag11 Junie 2024

Vandag is Dinsdag 11 Junie en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit Pinkstertyd te leef. Dit is nou al drie weke na die Pinksterfees geleentheid, maar tog leef ons vanuit daardie krag elke dag om ook op praktiese maniere hande en voete te wees binne die nuwe kerklike seisoen wat ons noem koninkrykstyd. Die uitnodiging aan ons bly dus nogsteeds om vanuit die krag van die Gees te leef.

Daar is geen groter bewys van God se beloftes aan ons as die uitstorting van die Heilige Gees nie. Die Heilige Gees word as die “deposito” beskou van al God se beloftes aan ons wat sal realiseer – of soos ons in Efesiërs 1:14 lees: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos”.

Jy mag elke belofte van God glo, omdat die Heilige Gees hier by ons is!

Daar is baie beloftes in die Bybel opgeteken, maar het jy al ooit gewonder watter een van hierdie beloftes van God die meeste herhaal word? Is dit dat God ons sondes sal vergewe? Is dit dat daar vir ons lewe na die dood is? Nee, dit is dat God ons nooit alleen sal laat nie. God is by ons!  Ons is dus nie weeskinders nie.

Die belofte kom van vroeg in die Ou Testament.  Dink aan die belofte van God aan Josua in Josua 1:9: “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan”.  Jy lees dit oor en oor… Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.

Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. Dit is presies wat Jesus se naam ook beteken:  “Immanuel”. God is met ons! Mag ons dus in hierdie seisoen van koninkrykstyd hierdie Immanuel (God by ons) help bekend maak.

GEBED:

Here, dankie dat U die waarmaker van hierdie belofte is.

Amen

Dagstuk | Maandag 10 Junie 2024

Vandag is Maandag 10 Junie en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit Pinkstertyd te leef. Dit is nou al drie weke na die Pinksterfees geleentheid, maar tog leef ons vanuit daardie krag elke dag om ook op praktiese maniere hande en voete te wees binne die nuwe kerklike seisoen wat ons noem koninkrykstyd. Die uitnodiging aan ons bly dus nogsteeds om vanuit die krag van die Gees te leef.

Daar is min mense wat só ‘n groot verskil gemaak het, soos Paulus.  Jy kan ‘n toegewyde gelowige wees – soos Saulus inderdaad was. Hy wou juis die geloof waarvan Jesus deel was beskerm.  Jy kan selfs fanaties in jou toewyding wees – soos Saulus was. Saulus het soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Maar, toe hy die opgestane Jesus op Damaskuspad ontmoet, het alles verander.  Saulus ontdek dat hy nie die Jesusvolgelinge vervolg nie, maar die lewende Jesus sélf.

Daardie ontmoeting het sy hele lewe verander.

Vanuit daardie ontmoeting skryf Paulus vir die gemeente in Korinte in 1 Kor 15:17: “As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos…”.   Vir hom staan die kruis tussen sy “Saulus-dae” en sy “Paulus-lewe”.  Dis die kruis tussen sy ou self en sy nuwe self.  Dit is die kruis wat ook tussen ons ou self en ons nuwe self staan.  Maar, as alles net by die dood van die kruisiging gestop het, hoe kon daar nuwe lewe moontlik wees?  Of vir jou en my?  Máár, dit is danksy die opstanding dat Paulus dan verder gaan in Gal 2:19 deur te sê  “en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe”.

Jesus leef, en Jesus se Gees leef in ons.

Hoe leef mens dus nou deur die krag van die Gees in hierdie seisoen wat ons noem koninkrykstyd? Soos Jesus, as Hy in Joh 6:38 sê dat Hy nie van die hemel af gekom het om Sy wil te doen nie, maar die wil van Hom (die Vader) wat Hom gestuur het. (Joh 6:38). Die uitnodiging dus is om eerstens te soek na die wil van die Here en na Sy koninkryk.

GEBED:  Here, dankie vir u Gees en die nuwe lewe! Mag ons geesvervuld U wil doen. Amen.

Dagstuk | Saterdag 8 Junie 2024

Ek lees graag vandag vir ons ‘n gedeelte wat Lina Spies geskryf het wat sy noem, die geloofsbelydenis van ’n afvallige. Miskien help haar woorde ons ook om ons eie belydenis te verwoord:

Ek glo in die skeppende God
van die wordende heelal
wie se naam te heilig was
om uit te spreek:
Jahwé, die God van Israel,
wat ’n vader geword het
vir Jesus van Nasaret,
die wonderskone boodskapper
van die onmoontlike liefde,
deur wie God my vader
maar ook my moeder is.
Ek glo in die Heilige Gees
wat mense in alle tye
inspireer tot werke
wat die stempel dra
van die ewige.
Ek glo dat omdat ek lewe
ek aan alle lewendes
sorg en deernis verskuldig is
en ek glo dat as ek sterf
ek opgeneem sal word
in die durende siklus
van vernuwing en verval
en dat die lewe triomfeer
in elke geboortekreet
omdat die lewe magtiger is
as die dood.

Dagstuk | Vrydag 7 Junie 2024

Teksvers: Psalm 46: 1-3

God is vir my ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.

Die digter herinner ons dat lewe en ook geloof nie altyd eenvoudig is nie. Baie van ons het al ontdek dat geloof jou nie beskerm teen die terugslae en teleurstellinge van die lewe nie. Ook nie van die twyfel wat daarmee gepaardgaan nie. Die teoloog Thielicke het op ’n stadium gesê dat ware geloof ons dikwels deur die vuur van die lewe neem. As die teoloog Carel Antonissen hieroor dink skryf hy dat geloof ons help om, terwyl ons worstel met die raaisels van die lewe, die vertroue behou dat alles nie hopeloos is nie. Dat die God van die Bybel, van Abraham en Sara, Izak, Jakob, Maria en Jesus, steeds werk en sorg. Selfs al loop alles skynbaar skeef. Hierdie antieke gebed herinner ons aan hierdie troos. Naamlik dat geloof nie ’n vaste sekerheid of besit is wat jou van rampe en ellende vrywaar en waarop jy heeltyd kan roem nie. Dit is eerder ‘n pad wat jou, soos met die gelowiges van vroeër, deur die vure en afgronde van die lewe neem, maar waarop jy algaande ontdek én leer vertrou dat jy op ‘n wonderlike manier steeds gedra en gelei word.

Gebed

Here ons raak diep bewus dat u by ons is. Self in die mees onwaarskynlike plekke en tye van ons lewe. Dankie dat U ons dra selfs al weet ons nie waarheen ons oppad is nie.

Dagstuk | Donderdag 6 Junie 2024

 

Teksvers: 2 Tessalonisense 3:16

Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle wees!

Daar is ’n ou ritueel in ons tradisie. As die eerste gelowiges van mekaar afskeid geneem het, het hulle mekaar gegroet met die woorde: “Mag die vrede van God altyd by julle wees”.  Die Hebreeuse woord vir vrede was Shalom, wat beteken het harmonie, of heelheid. Die eerste gelowiges het geglo dat Jesus, die Shalom van God beliggaam het. Jesus het gewys hoe God se harmonie en God se heelheid lyk. Mag hierdie antieke seënwens ook die seën wees wat ons van God ontvang. Mag ons dit oor onsself uitspreek en onsself uitstrek na die uitnodiging om in harmonie en heelheid met God en met onsself te leef. Mag ons dan, terwyl ons onsself inleef in hierdie ou antieke seën, dit ook uitspreek oor almal wat oor ons pad kom.

Gebed

Bidplek deur Koos van der Merwe

toe ek vanoggend in u lig kom sit

toe ek stamelend by u voete bid

toe ek soekend deur u boek kom blaai

en donkerwinde in my waai

toe ek dors en honger brood kom vra

en my kla en sonde na die bidplek dra

kon ek ooit vermoed dat hier alleen

deurboorde hande my sou seën

dat hier in my gebrokenheid

ek deel sou word van heiligheid?

ek wil weer in u lig kom sit

en by deurboorde voete bid

en soekend deur u boek kom blaai

waar hemelwinde oor my waai

 

Dagstuk | Woensdag 5 Junie 2024

Teksvers: Spreuke 5:21

‘n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy

Ek het groot geword in die kerk met hierdie woorde dat God dwarsdeur my kan sien. Dat God my ken en kyk of ek reg doen. En vir ‘n lang tyd het ek hierdie woorde net verstaan as ‘n soort afskrikmiddel wat sorg dat ek die regte besluite neem en die regte ding doen.

Die afgelope klomp jare is ek besig om iets ander te ontdek. Dat die Here ons sien en alles van ons weet, is egter nie net ‘n verskuilde dreigement of afskrikmiddel nie. Dit is ook ‘n groot vertroosting. Carel Antonissen skryf dat dit beteken dat die Here inderdaad wéét van al ons swakhede en sondes, maar dat Hy tersefdertyd, soos ‘n bekommerde ouer, altyd kyk, altyd daaroor peins hoe Hy ons kan help en bystaan. In kort: die God wat na ons uitreik in Jesus, kyk altyd na ons met deernis en vergewende liefde. Hy sien ons altyd aan in sy genade.

Johannes van die Kruis het op ‘n keer hiérdie waarheid mooi verwoord toe hy gebid het:“Here toe U na my gekyk het, het u oë my met u genade gestempel” – “When you regarded me your eyes imprinted grace in me.”

Die troos wat daar vir ons is, is dat God met genade na ons kyk. En dat wanneer God jou lewe so betrag, God dit met ‘n sagte oog doen. Mag ons ook vandga bereid wees om so na ander mense te kyk.

O Here, dankie dat U voortdurend met genadige oë na ons kyk. Dit is die troos waarmee ek vandag weer kan lewe. Amen.

Dagstuk | Dinsdag 4 Junie 2024

Ons lees vandag ‘n bekende Psalm voor, wat die eerste gelowiges verwys het na as ’n pelgrim se gebed. Waar jy ookal vandag is en hoe ookal jou week mag wees, ontvang hierdie ou woorde en mag dit vir jou vandag die krag gee om hierdie dag in te stap en te ontvang as ‘n geskenk:

Ek kyk op na die berge:

waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

2My hulp kom van die Here

wat hemel en aarde gemaak het.

3Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;

Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.

4Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie

en Hy slaap nie.

5Die Here beskerm jou,

die Here bewaar jou van alle gevare.

6Bedags sal die son jou nie steek nie

en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.

7Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar,

jou lewe sal Hy beskerm.

8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,

nou en vir altyd.

Dagstuk | Maandag 3 Junie 2024

Teks: Markus 6:30-34

Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”

32Hulle het met ‘n skuit na ‘n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ‘n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

Vir n baie lang tyd het ek ‘n prentjie van Jesus gehad wat altyd hard aan die werk was. Wat haastig, doelgerig en gefokus van een dorp na die volgende gegaan het en met ’n onuitputbare energie besig was om die wêreld te red. In hierdie storie lees ons van ’n Jesus wat sy eie moegheid raakgesien en erken het. Ons lees van ’n Jesus wat sy eie dissipels se uitputting opgemerk het en wat op ‘n sagte deernisvolle manier reageer. Ons ontmoet ’n Redder wat iets uitwys wat onder die oppervlak lê van wat ons as “produktiewe” lewens beskou – ’n diep behoefte na ruimte.  ’n Behoefte na refleksie, na alleenheid, na rus.  Wat my laat dink dat die prentjie van ’n haastige, besige Jesus, miskien my eie projeksie is. My eie vrees vir vermorste tyd. So miskien nooi hierdie storie ons ook uit om weereens vir onsself af te vra, waar lê die balans in ons lewens. Om eerlik te wees oor die eise wat die lewe stel en dan te kom rus by die Een wat met deernis na ons kyk.

Dagstuk | Saterdag 1 Junie 2024

Sondag 19 Mei was Pinksterfees en met Pinkster het ons gefokus op hoe die Heilige Gees ons harte hervorm om meer soos Christus te wees en te verlang na God se Koninkryk. Hierdie week herbesoek ons die temas van Pinkster.

2 Korintiërs 3:18

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

Refleksie

Die Gees is besig om iets op ons harte te skryf en ons harte nuut te maak, al hoe meer te verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.

Die woord weerspieël is vir my so ’n mooi beeld. Toe ek klein was, het my ma altyd gesê as ek te veel TV kyk, dan gaan ek vierkantige oë kry, deesdae is dit meer reghoekig. Ek dra nou ’n bril wat bietjie reghoekig is, so ek dink iets daarvan het waar geword. En ek dink daar is dieper waarheid daarin. Jy word soos dit waarna jy kyk. Jy word soos dit waarop jy jou aandag rig, wat jy lief het, wat jy aanbid.

Paulus gebruik amper die beeld van ’n spieël. Ons hele lewens is eintlik so bietjie soos om in ’n spieël te kyk. Meeste van mense is eintlik maar net gerig op onsself. Die lewe is maar net ’n spieël wat op onsself gerig is, op die begeertes van ons eie harte. Maar Paulus sê, as die Gees in ons lewe kom, dan is dit asof ons in die spieël kyk en nie meer onsself sien nie, maar vir Christus.

En hoe meer ons in hierdie spieël kyk, hoe meer ons harte op God gerig word, hoe meer ons deelneem aan hierdie beeld van die Koninkryk van God, hoe meer lyk ons soos Jesus.

Jy word soos dit waarna jy kyk. Jy word soos dit waarop jou hart gerig is. Die werk van die Gees is om ons harte op God te rig en ons al hoe meer te verander na die beeld van Christus

Mag jy vandag, in die manier wat jy leef gevorm word na die beeld van Christus en mag jy in alles wat jy doen, die heerlikheid van die Here weerspieël.

Luister in vandag se gebed wat die Here oor ons sê, uit Esegiël 36:26:

Gebed

Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Amen.

1 2 128