Callie groet, maar bly ’n Stellenberger

Ds. Callie Visagie is een van die gelukkige mense wie se voorkoms glad nie sy ouderdom verraai nie, maar glo dit of nie, hy bereik in Januarie 2022 aftreeouderdom en gaan dan na  39 jaar in die bediening as leraar van die NG Kerk, uittree.  Hy was 25  jaar en een maand lank leraar by Stellenberg-gemeente en Stellenberger het met hom gesels oor die wel en wee van ’n leeftyd se diens aan ’n gemeente en sy mense.

Jy is nou al 25 jaar (en een maand) ’n voltydse leraar van Stellenberg-gemeente en voorheen was jy ’n predikant in Wellington.  Hoe het jy destyds oor die beroep na ’n stadsgemeente gevoel en wat het die deurslag gegee dat jy die beroep aanvaar het?

Na 14 jaar in ’n wonderlike gemeente het die beroep na Stellenberg ’n goeie geleentheid vir my gebied om te skuif.  Ek het destyds op ’n aanhaling afgekom wat lui: A paradise that you cannot leave, is hell.  Ek glo dat hierdie beginsel in enige gemeente geld, die konteks en toepassing verskil net.  Die behoefte om lidmate se persoonlike verhouding met die Here te bou, om ruimtes vir samesyn (onderlinge verbondenheid in ’n geloofsgemeenskap) te skep en die uitlewing daarvan in die kerk, maar ook in die samelewing en op persoonlike vlak, was deur my hele bediening my dryfveer.

Wat was aanvanklik vir jou die grootste verskil tussen die plattelandse en die stadsgemeente?

Die kerkraad – bestaande uit ongeveer 200 lede.   Dit was gelykstaande aan die totale aantal besoekpunte wat ek in Wellington bedien het!

Watter ander loopbane het jy oorweeg, indien jy nie teologie sou gaan studeer het nie?

Ek was ingeskryf vir BRek by die Universiteit van Stellenbosch en my kamermaat het dit uiteraard ook studeer.  My roeping om voltyds vir die Here te werk, het ek in die laaste gedeelte van my weermagopleiding in Bloemfontein ontvang en dit het uiteindelik daartoe gelei dat ek van kursus verander het.

Jy ken ontsettend baie mense in die gemeente.  Hoeveel huisbesoeke skat jy het jy jaarliks (voor Covid-19 ons getref het) aan gemeentelede gebring?

My eerste kollega, oom (dr.) Hennie Conradie, het ’n groot invloed op my gehad en hy het my motiveer om ten minste elke dag met drie lidmate of gesinne kontak te maak.  Party dae was dit meer en ander dae weer minder, maar bereken teen ’n gemiddelde van drie besoeke per dag, sewe dae van die week, is dit ’n heel realistiese weergawe van die aantal besoeke wat ek jaarliks gedoen het.

Wat is vir jou lekker aan ’n huisbesoek by lidmate?

Jy as leraar word inderwaarheid meer deur so ’n besoek geseën as die mense wat besoek word!  In my jong dae toe die drif en drang sterker teenwoordig was, het ek myself teen enkele mense “vasgeloop”, maar dit bedaar gelukkig soos ’n mens ouer word en met my bediening in Stellenberg was dit net altyd vir my ’n ongelooflike voorreg dat mense hul huise en harte oopmaak en dat ek op dié manier kon deel raak van hul lewensreis.

Leraars beleef dikwels mense se vreugdes en swaarkry saam met hulle.  Hoe het dit jou  beïnvloed?

Dit is een van die grootste  voorregte van predikant wees.  Die voorreg om ’n salaris te verdien terwyl ’n mens by die vreugdes en swaarkry van mense betrokke kan wees.  Om vir mense te kon bid, om saam te lag, te huil en te deel in die lief en leed van ander.  Weinig ander beroepe bied aan iemand die besondere voorreg om aan mense se lewens te help bou en so op ’n beskeie wyse gestalte aan die liefde van Jesus te gee.

Jy is baie lief vir sport en het jare lank rugby gespeel, fiets gery en muurbal gespeel.  Watter van dié sportsoorte is jou eerste liefde en hoekom?

’n Mens beleef verskillende seisoene in jou lewe – ook wat fisiese oefening betref.  As ’n mens ’n sport beoefen, voel dit vir my jou hart moet darem vinniger klop, met respek gesê teenoor die gholfspelers.  Elke keer as ek op die muurbalbaan is, voel ek ongelooflik bevoorreg, dankbaar en geseënd om ten spyte van die jare wat agter my lê, te reken dat daar moontlik nog vele goeie, aktiewe jare vorentoe wag.  My lyf sal seker die finale bepalende faktor wees oor wanneer ek my huidige voorkeursport sal moet laat vaar.

Jy het ’n besondere liefde vir die digkuns.  Hoe en waar het dit ontstaan en wie is jou gunstelingdigters?

Ek het onlangs by die feesmark my standerd 10-Afrikaans-onderwyser raakgeloop en ek kon hom bedank vir sy invloed in dié verband.  Gunstelinge?  Sheila Cussons, Lina Spies, te veel om op te noem.

Het jy ’n mentor, of ’n rolmodel?  Watter waarde het die persoon tot jou lewe toegevoeg?

Ek het diep nagedink oor dié vraag en besef daar is nie iemand spesifieks nie, maar eerder talle.  Ek is baie lief vir die aanhaling: I am a part of all that I have met.  Ek kan vele mense opnoem wat ’n diep indruk op my gemaak en diep spore in my lewe getrap het.  Ek voel bevoorreg dat ek in my lewe deur wonderlike mentors, kollegas, bure, vriende en selfs kinders, omring is.

Jy laat dit altyd baie maklik klink om vyf kinders groot te maak.  Wat is jou filosofie rakende die opvoeding van kinders?

Ek dink twee dinge.  Eerstens, ouers probeer hul bes om die regte voorbeeld vir hulle kinders te stel en om hulle na die beste van hulle vermoë op te voed, maar dan is die uitkoms daarvan uiteindelik in die Here se hande.  Daar is geen waarborge of ’n volmaakte resep nie.

En dan die tweede kan saamgevat word met dié aanhaling van Leslie Stephen: The only way in which one human being can properly attempt to influence another is to encourage him to think for himself, instead of endeavouring to instill ready-made opinions into his head.

Om ‘n oupa te wees is ’n groot voorreg.  Wat is vir jou die lekkerste omtrent oupa-wees?

Om deel te wees van ’n ketting van geslagte en ook om te sien dat ’n mens se kleinkinders met dieselfde waardes grootgemaak word as waarvoor jy staan!

Aan watter tydgleuf in jou lewe en jou bediening dink jy met heimwee terug?

Ek moet bely aan geeneen spesifiek nie.  Ek was begenadig om elkeen op ’n besondere manier met  vele mense te kon beleef en ervaar.  Die lewensfase waarin ek nou is, is op sy eie manier vir my baie besonders.

Toe jy destyds in Amerika gaan ploeg het, was dit vir daardie jare nogal ’n groot avontuur wat heelwat mannemoed geverg het.  Wat het die tyd in die vreemde vir jou beteken en hoe het dit jou uitkyk op jou lewe hier in Suid-Afrika verander?

Ek het besef dat ek ook kan oorleef as ek alleen is!  Ek het ure en ure alleen op ’n trekker deurgebring.  Ek het al meermale daarna verwys as die mees spirituele en betekenisvolle tyd in my lewe én in my verhouding met die Here.  Maar dit was nie noodwendig aanvanklik die bedoeling met die ervaring nie.  In die vier maande wat ek daar was, het die Here my met nuwe oë na myself, my voorregte, opvoeding, familie, gemeente en ons land laat kyk.

Mense wat jou goed ken, sal weet jy sien meestal die glas halfvol en het die vermoë om baie min of geen probleme, in situasies te sien.  Hoe het jy dié besondere ingesteldheid om kwessies altyd in ’n positiewe lig te sien, ontwikkel?

Ek is dankbaar as iemand reken dit is my lewensingesteldheid.  Persoonlikheid, blootstelling en positiewe mense rondom jou is alles bydraende faktore om ’n gemeenskap (en gemeente) met veerkragtige mense te skep.

En dan daardie befaamde fudge-resep!  Wat is die geheim vir die romerige, sagte en hemels-heerlike fudge – soos net jy dit kan maak?

Wat my nederig hou, is die feit dat ek al baie meer vir my fudge-resep as vir my preke gekomplimenteer is!  Die resep is geen geheim nie en ek het dit ook jare gelede “uitgelap” toe kollegas hulle gunstelingresepte voor een van die gemeentebasaars moes deel.  Wat ek nooit besef het nie, is hoe ingewikkeld kosmaak is.  Daar is vele veranderlikes wat in berekening gebring moet word om van iemand ’n connoisseur te maak al dan nie.  Die geheim van fudge lê onder meer in die klop!

Jy en Marieta gaan na jou aftrede binne die gemeentegrense in jul woonhuis aanbly.  Het julle spesifieke aftreeplanne soos om te  reis, of stokperdjies wat afgestof gaan word?

Ons gaan graag baie lojale gemeentelede bly.  Ons wil graag meer reis en om my besig te hou, het ek heelwat planne in die pyplyn.  Ons vertrou dat ons na aftrede op ’n ander vlak diensbaar kan wees, en sin- en betekenisvol kan leef.