Beseringstyd – het jy hulp nodig?

Deur: Rudolph van Schoor

Hoe weet ek dat ek in sogenaamde beseringstyd is? Dat ek die een is wat hulp nodig het?

Dit is nie altyd maklik om te besef, of die tekens dat ’n mens hulp nodig het, raak te sien nie. Dit gebeur dikwels dat die mense ná aan jou, diegene is wat jou eerste van die gevaartekens bewus maak. Dit kan ook ’n argument by die werksplek, of ’n projek wat skeefloop as gevolg van jou swak konsentrasie en uitbranding, wees, wat ’n mens laat besef dinge is nie meer in balans nie.  Iewers in die maalstroom van die lewe is daar ’n oomblik waartydens ‘n mens besef dinge is net nie reg nie en dat jy nie meer heeltemal jou ou self voel nie. Die gevaar lê daarin dat mense dikwels hierdie oomblikke van gewaarwording ignoreer.

Ons ignoreer dit om verskeie redes, maar eerstens omdat dit moeilik is om aan jouself te erken dat jy nie meer alles op jou eie kan hanteer, of uitredeneer nie.  Verder ondervind ek ook dat mense gevaartekens ignoreer omdat hulle bloot voel hulle nie kan nie die tyd afstaan om hul gemoedsprobleme uit te stryk nie. Soos een van my kliënte vir my gesê het: “Die werk kan nie stop nie. Die projek moet sy loop neem.”  Maar, ek is egter steeds van mening dat die stigma wat daaraan verbonde is om hulp te vra, vir die meeste mense die grootste struikelblok in die weg van die soeke na hulp is.  My vermoede is dat die voorstelling wat baie van ons het, rakende hoe iemand wat hulp soek, lyk, baie ver van die realiteit verwyderd is.

Dit is jammer dat mense dikwels wag tot hulle eers ’n algehele ineenstorting van die gemoed, erge depressie, of onbeheerbare angs beleef, voor hulle bereid is om hulp te vra. Die werklikheid is dat daar vroegtydige tekens is wat ’n aanduiding gee dat jy dalk nodig het om ’n professionele persoon as ’n klankbord te gebruik. Dan kan jy voorkomend optree, of iets wat reeds begin skeefloop het, onmiddellik hanteer en voorkom dat dit in ’n algehele ineenstorting, wat dikwels opname in ’n kliniek vereis, ontaard.

Hier is ’n paar riglyne om as meetsnoere te gebruik wanneer jy jouself evalueer:

  • Slaap- en eetpatrone begin verander. Jy word vieruur in die oggend wakker en kan glad nie jou gedagtes orden en tot bedaring bring nie. Jy gebruik kos, alkohol of koffie as hanteringsmeganismes. Sommige mense eet te veel en ander hou op met eet.
  • Jy voel die heeltyd asof iets jou jaag tot op die punt waar jy paniekerig raak.
  • Buite jou normale karakter ervaar jy hoë vlakke van irritasie wat lei tot uitbarstings.
  • Jy sukkel om by die werk te konsentreer en jy kom agter jy presteer nie soos altyd nie.
  • Probleme of insidente uit die verlede, wat jy geglo het jy reeds verwerk het, duik weer op.
  • Dikdermspasmas en algehele tamheid.
  • ’n Fatalistiese uitkyk op die lewe.
  • ’n Algemene afname in lewenslus en blymoedigheid. Aktiwiteite wat jou gewoonlik gelukkig maak, het nie meer dieselfde impak nie.
  • Die konstante uitstel en afstel van belangrike take en hierdie patroon is buite jou normale optrede.

Hierdie riglyne is nie allesomvattend nie, maar dien as rigtingaanwysers. Die kruks is die volgende:  Die oomblik wanneer jy besef jy voel nie meer in beheer nie, of wanneer jy nie meer jou normale self voel nie – is dit tyd om ’n professionele persoon te gaan spreek. Tree liewer proaktief op en jy sal met nabetragting nooit spyt wees nie.

 

Rudolph van Schoor | Lewensafrigter en traumaspesialis is die bestuurder van die Stellenberg Ondersteuningsentrum.