Beseringstyd!

Deur: Rudolph van Schoor

Hoe weet ’n mens dat jy in beseringstyd is en dat jy die een op die rugbyveld is wat mediese hulp nodig het?

Dit is nie altyd so maklik om dit te besef nie en is dit dikwels die mense na aan jou wat dit raaksien en vir ’n mens moet sê.  Onenigheid by ’n mens se werkplek, of ’n projek wat skeefloop a.g.v. jou eie swak konsentrasievermoë en uitbranding, kan ook soms die gewaarwording by ’n mens laat ontstaan dat alles nie pluis is nie. ’n Mens besef gewoonlik iewers in ’n helder oomblik dat dinge nie meer in balans is nie en dat jy nie meer heeltemal jouself voel nie. Die gevaar lê daarin dat ons hierdie aanduidings ignoreer.

Ons ignoreer die tekens van uitbranding, of enige ander psigiese ongesteldheid om verskeie redes. Dit is moeilik om aan jouself te erken dat jy nie meer alles op jou eie kan hanteer, of uitredeneer nie en dit is ’n tipiese reaksie om die tekens te ignoreer bloot omdat jy voel jy kan nie bekostig om soveel tyd aan jouself af te staan nie. Soos kliënte dikwels al vir my gesê het “Die werk kan nie stop nie. Die projek moet voortgaan.”

Verder is een van die grootste redes vir ontkenning ongelukkig steeds die stigma wat daaraan verbonde is om hulp te vra.  Ek vermoed dat die persepsie of prentjie wat ons het oor wanneer ’n mens hulp vra, baie anders lyk as die werklikheid daarvan.

Dit kom voor asof mense dink dat slegs ’n algehele psigiese ineenstorting, erge depressie, of onbeheersde angs, wat tot ’n kliniekopname lei, dit regverdig om hulp te vra.  Dit lyk asof mense slegs langdurige selfdoodgedagtes en -planne, ’n konstante donker en neerdrukkende gemoedstoestand, ekstreme isolasie van mense, verlammende angs, of ’n onvermoë om te kan werk, as maatstaf gebruik om vir hulp te kwalifiseer.

Die werklikheid is dat daar heelwat vroegtydige tekens is wat ’n aanduiding gee dat jy dalk nodig het om ’n professionele persoon te spreek en as ’n klankbord te gebruik. Dan kan jy voorkomend optree, of iets wat reeds begin skeefloop, makliker hanteer en juis verhoed dat dit tot ’n algehele psigiese ineenstorting aanleiding gee.

Evalueer gereeld jou eie lewe en funksionering aan die hand van die volgende:

  • Slaap- en eetpatrone wat begin verander. Wanneer jy byvoorbeeld vieruur in die oggend wakker skrik en dan sukkel om jou gedagtegang tot bedaring te bring.
  • Jy begin kos, alkohol, of koffie as hanteringsmeganismes gebruik. Party mense eet te veel en ander hou weer op met eet.
  • Dit voel die heeltyd asof iets jou jaag, tot op die punt waar jy meestal angstig of paniekerig voel.
  • Strydig met jou normale aard ervaar jy hoë vlakke van irritasie wat tot uitbarstings lei.
  • Jy sukkel om by die werk, of in die klas te konsentreer en jy kom agter jy presteer nie soos altyd nie.
  • Ou probleme of insidente uit die verlede wat jy al verwerk het, maak weer hul verskyning en ou wonde word weer oopgekrap.
  • Dikdermspasmas, tamheid en konstante moegheid.
  • ’n Fatalistiese uitkyk op die lewe.
  • ’n Afname in algemene lewensgenot. Aktiwiteite wat voorheen plesier verskaf het, het nie meer dieselfde aangename uitwerking nie.
  • Die konstante uit- en afstel van belangrike take en hierdie patroon is buite jou normale optrede.

Bogenoemde dien as ’n rigtingwyser.  Die lys kan uitgebrei word, maar die kruks bly egter dat wanneer ’n mens nie meer in beheer of soos van ouds voel nie, het dit tyd geraak om ’n professionele persoon te spreek. Die strewe na balans bly die sleutel na algemene welstand.

 

| Rudolph van Schoor is ’n traumaberader en lewensafrigter verbonde aan die Stellenberg Terapiesentrum.