Belydeniskamp: ’n Grootse belewenis

Deur: ds. Why Duvenhage

Dit het toe uiteindelik gebeur! Vanaf 8-10 April kon 28 matriekleerders van die gemeente weer, soos voorheen, ’n baie opwindende belydeniskamp beleef.  Met die Covid-19-grendeltyd en inperkingsmaatreëls was dit lank nie moontlik om hierdie ervaring op ’n kampterrein te kon meemaak nie, maar danksy baie genade kon ons die kamp hierdie jaar weer aanbied.

Die kamptema was: Ek glo – juis omdat die graad 12’s eersdaags hulle geloofsbelydenis gaan aflê.  Ek en ds. Johan Visser was die kampkommandante wat die lesings hanteer het en die onderwerpe is dan saam met kleingroepleiers in groepies bespreek.   Ons is dankbaar vir die leiding wat leiers, bestaande uit ouers en teologiese studente, aan die groep gebied het.

Al die gebruiklike rituele wat oor die jare heen sinoniem met die Apostelbatterykampterrein geraak het, is natuurlik ingespan om die kamptema en die vier belangrike geloofsbelydenisvrae by die jongklomp in te dril.  Ondergrondse gebedstasies in ’n ou bunker en ’n enorme kampvuur het gesorg vir vele hoogtepunte die Saterdagaand.

Soos altyd was die staptog na die kruis die Sondagoggend, een van die naweek se hoogtepunte. Hier het jongmense en leiers die voorreg gehad om op ’n pragtige Kaapse herfsdag oor die Atlantiese Oseaan te tuur en saam nagmaal te vier.

Ons is die Here baie dankbaar vir die geloofsvorming van ons jongmense wat geskied deur toegewyde ouers, mentors en kleingroepleiers. Bo alles weet ons, en glo ons, dat hul geloofsoortuiging in die eerste plek bewerk word deur die Gees wat in hul woon en werk.

Ons beste wense en gebede vergesel hulle vir hulle toekoms.