Anruné omarm die lewe . . . met een arm

By die onlangse fondsinsamelingsfunksie ten bate van Vosburg-gemeente het die vernuftige pannekoekbakster wat met nét één hand volstoom gebak het, waarskynlik heelwat Stellenbergers se oog getref.  Anruné Liebenberg se ma, Anne-maré, was die sameroeper van die pannekoektafel en Anruné is summier by die bakkery ingesleep.  Wanneer ’n mens vir Anruné beter leer ken, besef jy gou dat dié mooi vrou nie huiwer om enige iets aan te pak nie en haar getuienis sal enige luisteraar laat hoendervleis kry.

Wanneer ’n mens die naam Anruné Liebenberg “google”, vertel die webwerf Wikipedia en sommer ’n hele paar ander ook, vir ’n mens dat Anruné ’n gedugte paralimpiese atleet van Suid-Afrika is.  Sy skroom glad nie om haar getuienis te deel nie en het in 2019 Stellenberg-gemeente se jeugdiens besoek en met tieners oor haar lewe en geloofsreis gesels.

Sy is gebore met ’n toestand, genaamd aangebore-amputasie van die linkerarm.  Stellenberger het die geleentheid gebruik om die dinamiese vrou beter te leer ken en deel graag haar getuienis met lesers.

 Volgens nuusbronne en webwerwe is jy bekend as ’n 400m- paralimpiese atleet – is dit die enigste item waarin jy spesialieer of is daar ook ander?  

Ek het op 10-jarige ouderdom aan atletiek begin deelneem en was in die laerskool altyd ’n langafstandatleet.  Later, in die  hoërskool, het ek ook die 400 meter, 800 meter, 1 500 meter gehardloop en aan aflosse deelgeneem.  Toe ek in graad 12 was, was my klasitems nie in by die Paralimpiese Spele ingesluit nie en toe het ek noodgedwonge na die 400 meter, 200 meter en 100 meter oorgeskuif.   My gunstelingitem bly maar die 400 meter.  Ander atlete sal weet dat dit ’n baie uitdagende, maar ook bevredigende afstand is.

Waar het jou passie vir atletiek begin en was jy van nature altyd ’n uitblinker?

Ek was in Benoni op skool.  Ek het wonderlike onderwysers gehad en kan vandag steeds my graad 1-juffrou onthou.  Ek was in Hoërskool Jeugland in Kempton Park en het ’n wonderlike afrigter gehad wat werklik ’n liefde vir die sport by leerders gekweek het.  Dit is waar my passie vir die sport begin het, maar ek was aanvanklik nie so goed in atletiek nie en het toe besluit om Desembermaand te begin oefen.  My oupa het my destyds tydens dié Desembervakansie begin afrig en my pa het ook hand bygesit.  Ek onthou nou nog my pa se lang fluit waarmee hy aangedui het as ek moet begin versnel om binne ’n sekere tyd klaar te maak.

Dis ongelooflik om te sien hoe behendig jy met een arm is. Hoe leer ’n mens dit vir jou aan?

Wanneer ek nou daaroor dink,  besef ek dit moes vir my ouers ook moeilik gewees het om ’n baba, of kind met net een arm en hand groot te maak, maar ek glo die Here het hulle gelei om my die regte dinge te leer.  My ouers het my laat glo dat ek geen beperkings het nie en enige iets kan doen.  Sekere goed soos touspring, of om jou onderarmhare te skeer, kan ’n mens eenvoudig nie met een arm doen nie.  Danksy tegnologiese ontwikkeling in kunsledemate het ek onlangs ’n bioniese hand bekom.  Dit het my in staat gestel om vir die eerste keer in my lewe my eie onderarmhare te skeer.  Ek kon die skeermes met die hand se vingers vasknyp.

Ek is eenvoudig grootgemaak dat as jy val, staan jy maar net weer op.

Wat beteken jou deelname aan atletiek vir jou en wat is jou persoonlike hoogtepunte?

Dit is vir my ’n geskenk uit die hand van die Here.  Ek het in 2010 by gestremde sport betrokke geraak en dit het my lewe en hart verander.  God het my op ’n pad geneem waar ek soveel van myself en ander mense leer ken het.  Atletiek gee my ook die geleentheid om baie tyd saam met die Here deur te bring.  Ek praat elke dag met die Here terwyl ek van my huis in Durbanville na Stellenbosch, waar ek oefen, ry en dit is kosbaar.

Ek het verlede jaar in België die wêreldrekord gebreek.  Dit was beslis ’n persoonlike hoogtepunt.  Ek was so emosioneel en het besef dat ek dit nie in eie krag kon doen nie, maar dat God, my man, my familie en my afrigters almal deel is van my span en saam met my erkenning vir my sukses verdien.

Wat doen jy om te ontspan?

Ek spandeer graag tyd saam met my man en is ’n groot koffiedrinker.  Ek geniet graag ’n lekker koppie koffie of ’n ete.  Ek geniet dit om tyd te maak en in die winkels rond te dwaal en die  nuwe modes te bekyk.  Ek hou ook baie daarvan om naaldwerk te doen en het daardie kreatiewe sy by my ma geërf.

En van 08:00 tot 17:00?

Ek is ’n onderwyseres en het voorheen skoolgehou by Inspire Special Needs Tutor Centre in Durbanville.  Dit was ’n wonderlike ervaring om ’n onderwyser vir kinders met spesiale behoeftes te wees.  Daar het ek besef dat elke kind uniek is en op sy/haar eie tyd moet ontwikkel.

Ek is baie bevoorreg dat my man my atletiekloopbaan ook ondersteun en die afgelope twee jaar oefen ek voltyds vir die Paralimpiese Spele wat hopelik volgende jaar in Tokio aangebied sal word.

Hoe sien jy jou verhouding met die Here en jou getuienis oor sy rol in jou lewe?

Dit staan sentraal in my lewe.  Ek is bevoorreg dat ek deur my swaarkry ’n verhouding met Here kon opbou.  Dit is vir my belangrik dat my getuienis eerlik moet wees.  Deel met ander die goeie goed in jou lewe, maar ook die slegte.  Vertel vir ander van jou uitdagings, moet dit nie probeer wegsteek nie.  Ek besef opnuut dat ons tyd moet maak om na mekaar se stories te luister.  Daar is soveel mense met ongelooflike stories van oorwinning, versoening, en nog baie meer – luister daarna.

Ek dink dit is baie belangrik dat ons ook tyd inruim om gereeld met die Here te praat.  Sing ook vir Hom.  Ek het nie noodwendig die beste stem nie, maar wanneer ek die Here loof en prys, doen ek dit uit volle bors.

My gesin het in 2016 ’n baie moeilike periode beleef.  Ek het daardie jaar meer gehuil as wat ek enige iets anders gedoen het en wanneer ek nou daaraan terugdink, besef ek dat die Here my en almal in my gesin vasgehou het.  Ons het sterker daardeur gekom.

Wat sou jy graag vir jongmense wou sê?

Ons leef in ’n wêreld wat vir ons wil voorskryf hoe ons moet lyk en hoe ons moet optree.  Dan is ons nog boonop baie lief daarvoor om mekaar af te kraak.

My boodskap aan jongmense is om jouself eerstens lief te hê.  Ek moes ook maar deur my krulhare, sproete, bleek vel en boonop die verlies aan ’n arm worstel en aanvaar dat God my liefhet soos ek is.  Onthou jy is ’n skepping van God.  Behandel jouself sagkens, dan sal dit sommer makliker raak om ander ook mooi te behandel.

Wees dié een wat ander mense komplimenteer.  Sê vir iemand anders sy het mooi oë, of hare – dalk verander dit daardie persoon se hele dag.

Vir watter mens is jy die liefste in die wêreld?

Dit sal my man, Stefan, wees.  Ons het sedert die begin van ons verhouding saam ’n reis met die Here begin en ek glo die Here het hom vir my gekies.  Ek het kort na ons verlowing ’n ernstige rugbesering opgedoen en deur daardie besering het die Here ’n persoonlike pad met ons gestap.

My man offer baie op sodat ek my droom kan uitleef en die feit dat ek kan sien hy is trots op my, is vir my ongelooflik kosbaar.

Baie sterkte met die voorbereidings vir die 2021-Paralimpiese Spele, Anruné.  Ons wens jou net die beste toe en wees verseker dat die hele Stellenberg-gemeente bankvas agter jou sal staan. Red.