Annibrand Junior-gesiggies vol vreugde

Deur: Brenda Visser

Toe die Annibrand-kleingroepe weer in die kerk hervat het, het die kinders se vrolike entoesiasme my aan die borrels in gaskoeldrank laat dink.

Vir die kinders en kategete was dit heerlik om mekaar weer in lewende lywe te sien en al die nuuswaardige gebeure wat die afgelope ses maande in almal se lewens plaasgevind het met mekaar te deel. Daar is darem ook tyd ingeruim om oor die lestema van die oggend te gesels.  Die lesse is relevant, sluit by die eredienste se preektemas aan en is verkort tot slegs 30 minute per les.  Graadgroepe word afwisselend uitgenooi om ná die oggenddiens vanaf 09:50 tot 10:20 by kleingroepe in die kerk in te skakel.

Sommige ouers neem sommer spontaan aan die groepies se bespreking deel en ander geniet na die diens ’n heerlike cappuccino terwyl hulle vir die kinders wag.  Die nuwe en aangepaste Annibrand-werksmetode werk goed en ons gaan dus in die vierde kwartaal voort daarmee.

Ek en die jeugkommissie is baie opgewonde oor 2021.  Daar is ’n hele paar nuwe planne en verrassings, maar ek wil nie die aap te vroeg uit die mou laat nie.  Die ou gunstelinge sal nog met ons wees, maar wees gewaarsku – maak seker jy skryf reeds in 2020 in by Annibrand Junior, anders loop jy gevaar om groot pret mis te loop!”

Brenda Visser | Kinderwerker van Stellenberg-gemeente