Alteno steel harte by die feesmark

Die 24-jarige Alteno Solomons het vanaf Wenen in Oostenryk gekom om vir ’n paar maande by sy ma en susters in die Kaap te kom kuier.  Met sy ma, ’n vloerbestuurder by die feesmark, se aanmoediging het hy toe sommer ook ’n werkie by die mark losgeslaan.

Alteno was die mark se amptelike trollie-organiseerder en moes toesien dat trollies deurentyd bymekaargemaak en op hulle plek, by die ingang van die mark, besorg word.  Maar vir dié vriendelike jongman was die mense wat die mark besoek, belangriker as trollies.

“Ek wou seker maak mense is gemaklik en voel veilig as hulle by die mark uitstap,” sê Alteno.  “Daarom was dit vir my belangriker om seker te maak ek help iemand om inkopies te dra, of stap langs iemand wat die terrein nie goed ken nie en moontlik kon struikel.  Dit was soms vir my ongemaklik omdat ek kon agterkom mense dink ek bied hulp aan om geld te verdien, maar eintlik wou ek net help en wou nie noodwendig ’n fooitjie verdien nie.”

’n Foto van Alteno wat besig was om ’n feesmarkbesoeker te ondersteun, het op die feesmark se Facebookblad beland.  Daarna het die kommentaar van besoekers en selfs van uitstallers wat vertel hoe die vriendelike jongman hulle op verskillende wyses behulpsaam was, eenvoudig ingestroom.  Andrea Mouton-van der Merwe het onder andere geskryf: Hierdie man is ’n engel van Bo! Ek het verlede Donderdag flou geval by die feesmark en hy het by my gesit en gewag totdat die ambulans gearriveer het.  Die wêreld het meer mense soos hy nodig.

Alteno, wat in Elsiesrivier grootgeword het, het danksy sy mooi stem ’n plek in die destydse Fidentia-koor, wat aan Stellenberg Hoërskool gekoppel was,                 losgeslaan.  Sodoende het hy toe ook ’n leerder van Hoërskool Stellenberg geword en graad 12 daar voltooi. Na skool het hy voltyds vir ’n graad in musiek aan die Universiteit Vrystaat gaan studeer.  Intussen het sy pad egter deur aanlyn gesprekke op die internet met dié van ’n Oostenrykse meisie gekruis.  Die twee het verlief geraak en Alteno beoog om binnekort weer by haar in Oostenryk aan te sluit.  Daar wil hy graag Duits leer praat en verder in musiekproduksie studeer.

Hy vertel dat sy ma hartseer is omdat hy nou weer weggaan, maar gelukkig het sy en die meisie, Patricia, ’n baie goeie verhouding en hy bel ook elke dag sy ma wanneer hy in Oostenryk is.  Alteno sê dat hy nooit Suid-Afrika heeltemal wil verlaat nie.  Hy hoop om nadat hy gevestig is in Oostenryk, die geleentheid te hê om soos ’n swaeltjie tussen Suid-Afrika en die pragtige Wenen te pendel.

Alteno se gedrag laat ’n mens onwillekeurig dink aan die bekende aanhaling: If you can be anything, be kind.

Ons wens jou alles wat mooi is toe met die nuwe ervaringe in Oostenryk, Alteno. Wie weet, dalk sien ons dié swaeltjie weer volgende jaar by die feesmark.  Red.