Deur: Retha van den Berg
“Ons is nou almal wyser en gryser, en selfs ’n bietjie verbleik en gekreukel,” was die kommentaar van een van die stuk of dertig oudlede van Stellenberg se Aksie Uitreik wat op Vrydag 9 September in die ou kafeteria byeengekom het. Ou uitreikvriende wat tussen 1990 en 2008 deel van Aksie Uitreik was, het mekaar herontmoet en gesellig saamgekuier oor ’n koppie koffie en ’n smaaklike hamburger.
Ds. Carel van Wyk, oudleraar van die gemeente, het ’n seremonie waargeneem waar ons ’n kersie kon aansteek vir oudlede van Stellenberg se Aksie Uitreik wat ons reeds ontval het, asook vir dié van ons wat die reünie bygewoon het en al ’n geliefde deur die dood verloor het. Maar soos ons vir Carel ken, het sy aanbieding later in veel ligter luim oorgegaan met sy humoristiese vertellings van gebeure tydens uitreike. Soos die kat wat, terwyl hy die evangelie (in Engels!) probeer deel het, op sy skoot kom sit het en toe met vlymskep naels sy nylonbroek aan flarde geklou het.
Oom Mike Rossouw het ons weer eens laat rol van die lag toe hy vertel het van die kwaai hond wat net nie wou byt nie. By ’n huis waar hulle wou besoek aflê, het die huiseienaar sy hond op die uitreikspan losgelaat met die opdrag: “Sa! Vat hulle!” Om die een of ander rede kon die span darem vertrek sonder om raakgebyt te word. “Want as die Here die leeus se bek kon sluit vir Daniël in die Bybel, wat is hierdie ou hond dan nou?” het oom Mike vertel. Die uiteinde was dat die man die uitreikspan uiteindelik laat terugkom het, want, het hy gesê: “Julle het iets wat ek nog nie ervaar het nie.” En hy het sy lewe aan Jesus oorgegee.
Ds. Koosie Delport weer, ook ’n oudleraar van Stellenberg, het verwys na die talle uitreike wat Stellenberg onderneem het. Hy vertel hoe hul tydens een uitreik met ’n Boesmanvrou oor Jesus gepraat het. Haar reaksie was eenvoudig: “Ek ken Hom! Ek het Hom gevat! Hy is al wat ek besit!” Ds. Koosie het ons ook daaraan herinner dat ’n mens net na jou hand kan kyk om die hele evangelie van die goeie nuus te verduidelik. “Die duim spreek van genade, die wysvinger wys na ons as sondaars, die middelvinger na God die Vader en die ringvinger na Koning Jesus en wat Hy vir ons kom doen het. Die pinkie is dan geloof, dit wat ons moet doen om genade te ontvang. Deur ons hand ontvang ons troos, maar ons maak dit ook oop om aan ander te gaan gee.”
Ds. Johannes Lata, wat dikwels saam met Stellenbergers uitgereik het, het vroeër in sy loopbaan ’n Xhosa-effektiewe-weergawe van EE3 opgestel. Hy het verduidelik dat geen lidmaat by sy gemeente kan aansluit voordat hul nie EE3 se opleiding oor hoe om die evangelie met ander te deel, ondergaan nie. “Per slot van rekening beteken dit dat jy moet weet dat jy seker is dat jy die ewige lewe het,” het hy gesê.
Ds. Chris Bester, wat reeds dertig jaar aan EE3 Suid-Afrika verbonde is, het ons oortuig dat die evangelie die kernbesigheid van die kerk is, en die Woord ons kragstasie. Die Here bou sy kerk op die belydenis van gelowiges. Hy het meer vertel van al die programme wat EE3 beskikbaar stel, vir mense van alle ouderdomme (ook kinders), en vir alle kerke wat Christus bely. Meer spesifiek noem hy die program “Bemagtig Suid-Afrika” en “Project CallUp”. As jy graag meer hieroor wil weet, gaan kyk gerus na die kleurvolle interaktiewe webruimte www.ee3.org.za.
Die herontmoeting was goed. Sal ou uitreikers mekaar ooit vergeet? Nie sommer nie – uitreik begin tog immers in die eerste instansie uitreik na mekaar.
| Retha en haar man, Johan van den Berg, is jare lange lidmate van Stellenberg-gemeente en was baie jare aan Aksie Uitreik verbonde.