Stellenberger het met ds. Johan Visser, die gemeente se nuwe dominee, kennis gemaak om hom ’n bietjie beter te leer ken. Johan is tans leraar by die Woodland Hills Gemeenskapskerk in Bloemfontein en sal vanaf 1 Februarie 2022, na ds. Callie Visagie se aftrede, voltyds in Stellenberg-gemeente werksaam wees. Hy is ’n oud-Kapenaar en opgewonde om weer in die Kaap te kom woon en werk.
Johan vertel dat hy in Brackenfell grootgeword het waar hy ook op laer- en hoërskool was. Sy pa het na jare diens vir die destydse Spoorweë, sy eie konstruksiebesigheid begin. Die Vissers was ’n musikale familie en sy pa het by heelwat musiekfeeste, onder andere die KKNK, opgetree.
“My vrou, Nicola, se nooiensvan was Shley,” vertel Johan. “Sy is Engelssprekend en het in die eertydse Umtata, tans Mthatha, grootgeword. Sy was in Adelaide in die Oos-Kaap op hoërskool en my skoonouers woon nou in Morgan Bay teen die Oos-Kaapse kuslyn. Dit bly ons gesin se gunsteling-vakansiebestemming.”
Johan en Nicola het mekaar by die Hugenote Kollege in Wellington ontmoet. Hy was op daardie stadium besig met sy studie in jeugwerk en Nicola was ’n finalejaarstudent in maatskaplike werk. Hulle is dertien jaar getroud en het drie kinders. Johan beskryf hul oudste dogter Ava-Jane (10 jaar oud) as ’n saggeaarde en sportiewe meisie. James, ses jaar oud en die middelkind, is lekker besig en lief vir maatjies en fietsry. Olivia, die jongste (4 jaar oud), is die poppie in die huis en hou van dogtertjiegoed soos haar mamma se grimeersakkie.
Oor hoe Johan besluit het om teologie te gaan studeer en tot die bediening toe te tree, verduidelik hy dat hy nie in ’n kerksisteem grootgeword het nie. “Ek het wel van kleins af gehoor van Jesus en Hom geken,” vertel Johan. “Ek het egter in die hoërskool ’n besondere ontmoeting met die Here gehad en toe ’n kerk gesoek waarby ek betrokke kon raak en belydenis van geloof kon aflê. Deur die genade het my lewenspad met dié van ds. Nico Simpson, wat uiteindelik ’n ongelooflike mentor in my lewe geraak het, gekruis.
”Na skool het ek eers saam met my pa in die kontruksiebedryf gewerk, maar die roeping om voltyds vir die Here te werk het my nie gelos nie en al sterker in my hart begin brand. Ek het vir ’n jaar en ’n half in Engeland gaan werk om geld vir my beoogde studie bymekaar te maak. Tydens my verblyf in Engeland het ek by ’n plaaslike gemeente se jeugbediening betrokke geraak en ’n passie vir jongmense ontwikkel. Vandaar dan my besluit om my vir die jeugwerkkursus by Hugenote Kollege in te skryf.
“Nicola het na haar studiejare ’n werk in George gekry en ek het by haar aangesluit toe ek ’n pos as jeugwerker by die Presbiteriaanse Kerk op George gekry het. Daar het ek ook baie saam met leiers en lidmate van die Anglikaanse Kerk gewerk en ’n nuwe wêreld, gevul met verskeie vorme van spiritualiteit, het vir my oopgegaan.
“Steeds het die hunkering in my gebrand om my teologiese studie aan te pak en my as predikant te bekwaam. Ek onthou nog hoe ek en Christi Thirion, nou leraar by NG kerk Kenridge, tydens een van ons staptogte in die Outeniquaberge, saam oor my droom gebid het. Kort na my en Christi se gesprek gaan daar toe ’n jeugwerkpos by die Paarlberg-gemeente in die Paarl oop. Ek het aansoek gedoen en aan die kerkraad verduidelik dat ek graag die ruimte gegun wil word om ses jaar se teologiese studie aan te pak terwyl ek as ’n jeugwerker vir die gemeente werk. Tot my groot verbasing het hulle ingestem om my voltyds aan te stel en my die geleentheid gebied om deeltyds te studeer. Tot vandag toe is ek baie dankbaar teenoor Paarlberg-gemeente wat dit vir my moontlik gemaak het om te studeer. Die gemeente se leierskap het die beginsel om ’n ‘gestuurde gemeente’ te wees, verstaan en uitgeleef.
“As jeugwerker het ek baie by jongmense geleer. Hulle energie is aansteeklik en ek was dikwels tydens jeugaande en -byeenkomste verras om te hoor oor hoeveel wysheid en insig jongmense beskik. Dit is selfs vir ’n 50-jarige kategeet moontlik om verhoudings met jongmense te bou. Hulle is net op soek na iemand wat eg is in sy/haar lewe en verhoudings. Hulle is nie bang om uitdagende vrae te vra nie en dit maak my opgewonde, want dit help my om my eie roeping gereeld te ondersoek.”
In Stellenberg-gemeente gaan Johan grootliks fokus op familiebediening, wat ook aan die familiediens verbind is. Dié bediening is gerig op gesinne met laer- en voorskoolse kinders. Johan sê dat die Covid-19-pandemie groot eise aan jong gesinne gestel het.
“Dit is ’n uitdaging om nou weer balans tussen skool, werk en kerk te vind. Elke gesin het sy eie ritme en wanneer die ritme versteur word, laat val ons dikwels van die balle wat ons in die lug probeer hou. Ons moet mekaar nou help om weer gesonde ritmes te vind in byvoorbeeld die vestiging van geloofsgewoontes. Ons sal ruimtes van ware rus, waarin ons oor God kan reflekteer, moet herontdek. Kinders se geestelike gesondheid is vir my en my vrou baie belangrik en ons sien al meer simptome van ons veeleisende samelewing in die kinders om ons. Dis ’n saak wat dringend aandag moet kry. Ek het onlangs weer die boek Slow Church gelees en besef dat ons ook ’n slow family moet word. Ons sal meer tyd as familie om die tafel moet spandeer, stadiger eet en die geure en smaak van die lewe rondom ons bewustelik moet geniet. Dit is in hierdie ruimtes waar ’n kind se identiteit gebou word en gesonde familiewaardes gekweek word.”
Johan beskryf homself as ’n introvert met ’n nadenkende en reflekterende gees. Hy sê ware rus waartydens hy met homself en God kontak maak, is vir hom baie belangrik. Hy gebruik tyd op sy fiets of terwyl hy draf, vir oordenking en besinning. Behalwe vir sy liefde vir die natuur en die behoefte om tyd in die natuur te deur te bring, is hy ook ’n kranige kitaarspeler en liedjieskrywer. Die liedjie, Skree Vrystaat, wat gereeld op die kykNET-kanael gespeel word, is ’n skepping uit sy pen.
Johan sê dat gesinstyd vir hom baie belangrik is. Hy skeduleer deesdae individuele afsprake met sy kinders om seker te maak dat hy aan elkeen afsonderlik aandag skenk. Die Vissers geniet die buitelewe, ry graag fiets en hou gereeld buitelugpieknieks.
“Ons is baie bederf met die natuurskoon in die Woodlands Hill-landgoed waar ons tans woon,” vertel Johan. Daar is verskeie wild op die landgoed wat vrylik rondloop en die stap- en bergfietsroetes bied geleentheid om die natuurskoon te verken. Maar ons is opgewonde om weer in die Kaap te kom woon. Ons gaan weer naby my ouers woon en gaan die geleentheid hê om ou vriendskappe te hervat.
“Daarmee saam is ek baie opgewonde om weer in ’n makrogemeente saam met ’n leraarspan te werk. Ek is so opgewonde om saam met die kreatiewe span, asook met die dinamiese leierskap van die nuwe gemeente, te werk. My persoonlike slagspreuk vir die lewe is: Ons help mekaar slaag. Ek glo dat binne dié span gaan dit ’n werklikheid wees.”