Gemeentelike finansies in ’n veranderde kerktoneel

Deur: Ds. Callie Visagie

Die uitdaging wat die veranderde omstandighede aan ons kerklike omgewing teweeggebring het, is enorm.  Vir die eerste keer in die langer as 40-jarige bestaan van ons gemeente word daar nou reeds vanaf Sondag 22 Maart geen eredienste in ons kerkkompleks gehou nie. Dit stel ’n besondere uitdaging aan ons funksionering as gemeenskap van gelowiges. Die geleenthede wat die digitale era vir ons met opnames (aanvanklik in die kerkgebou en nou met die inperking vanuit ons huise) bied, gee nuwe definisie aan ons kerkwees.

Dit stel unieke uitdagings aan ons kreatiwiteit om betekenisvol met mekaar te kommunikeer en die bande met mekaar te behou.  Ons saamwees in Christus en waar twee of meer in my naam vergader kry op ’n besondere manier virtueel gestalte (familielede met veral kinders en kleinkinders wat oorsee is, ken iets hiervan). Met die uitsendings van die preke op die internet kry ons wonderlike terugvoer – ook van vorige lidmate van Stellenberg wat nog ’n band met die gemeente het en nou hierby kan inskakel.  Die aanbied van die Bybelskool en die program vir die Groot Lydensweek word digitaal beskikbaar gestel en moontlik het baie meer lidmate die geleentheid om, noudat dinge stadiger geraak het, deel te hê aan die programme (sien artikels hieroor).

Die veranderde omstandighede het ook ‘n beduidende invloed op ons gemeentelike finansies. Wêreldmarkte is onder druk, werksverliese staar mense in die gesig, die rand het reeds meer as 28% van sy waarde verloor, Suid-Afrika is afgegradeer tot rommelstatus, ens. Dit is ‘n realiteit dat elke huishouding baie hard hierdeur geraak sal word. Dit verg verantwoordelike rentmeesterskap van ons eie huishoudings, maar nét soveel vir die van Stellenberg-gemeente.

Die Fondsebediening onder voorsitterskap van Danie Claassen is reeds in gesprek met mekaar hieroor en hoe gemeentelike fondse voortaan hanteer en bestuur moet word.  Ons begroting van R 10 miljoen is soos volg saamgestel (grootste bedrae is afgerond):

  • Gewone bankkollektes (Sondae) 11%,
  • Maandelikse dankoffers (EFT, debietorders, Snapscan) 50%
  • Feesmark 23%
  • Tiendemaand 19%.

Weens die feit dat daar nie eredienste op Sondae is nie, word bankkollektes nie soos normaalweg ingesamel nie.  Lidmate kan egter steeds ’n bydrae gee deur ’n elektroniese oorbetaling, of deur middel van die SnapScan-toepassing, of bloot ’n bedraggie by hul maandelikse dankoffer te voeg.

Dankie aan elkeen wat ‘n bydrae lewer om in die moeilike tyd ons geloofsgemeenskap in stand te hou. Mag ons as verantwoordelike rentmeesters steeds optree soos Paulus aan die Korintiërs (2 Kor.9:7) skryf: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”

 

Bankbesonderhede: ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632 005.

SnapScan-skanderingskode