Stellenberg raak by voedselnood betrokke

Volgens ds. Why Duvenhage was dit vanuit die staanspoor duidelik dat voedselnood groter gaan raak tydens die landwye inperking.  Ons moet as gemeenskap, die land en die wêreld saam ’n virus beveg, maar honger mense en kinders is weerloos teen die aanslae van dié siekte.  Stellenberg het saam met verskeie ander kerke en met MES (as koördineerder) betrokke geraak by voedselhulp aan haweloses in Bellville.  Ons gemeente is op Dinsdae en Donderdae verantwoordelik om ’n sopkombuis vir dié weerlose mense aan te bied.

Lidmate wat die voedingsprojek finansieel wil ondersteun, kan ’n bydrae maak na: NG Kerk Stellenberg, Absa-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005. Gebruik HANDE EN RANDE as verwysing.

Die gemeente is ook saam met Shiloh indirek by ’n tweede voedingsprojek betrokke.  Shiloh het opdrag en befondsing van die Wes-Kaapse regering ontvang om vir ’n periode van ses maande kospakkies aan alle voedingskemapunte in Metro-Oos en Metro-Noord te voorsien.  Hulle beoog om maandeliks ongeveer 1 340 kospakkies te versprei.  In die verlede is klaar voorbereide maaltye daagliks deur Shiloh by verspreidingspunte soos klinieke, kleuterskole, nagskuilings en ouetehuise besorg, maar in die lig van die Covid-19-pandemie en die inperking van mense se beweging, wil die regering die klaar voorbereide etes met kospakkies vervang.  Die projek word deur Low Bothma, ’n lidmaat van ons gemeente en ook  ’n werknemer van Shiloh, gekoördineer.

Van ons kant af stel ons die gemeente se saalkompleks beskikbaar vir die verpakking van die kospakkies.  Die saalkompleks sal as ’n depot dien vir voorraad wat deur kettingwinkels afgelewer word en van waar dit weer na verspreidingspunte versend sal word.  Tydens die pakproses  sal Shiloh se standaard Covid-19-veiligheidsmaatreëls ook in Stellenberg se saalkompleks gevolg word.  Dit sluit maatreëls in soos:

  • Slegs persone aan wie Shiloh vooraf die voorgeskrewe amptelike magtigingsdokumente uitgereik het, sal toegang tot die saalkompleks verleen word. Alle buitedeure bly gesluit en word alleenlik oopgemaak deur aangewese persone wanneer vrywilligers aanmeld vir diens of huis toe gaan; produkte deur die Shoprite distribusiesentrum afgelaai word; verpakte pakkies uitgelaai word vir aflewering aan die verspreidingspunte, of indien ’n vrywilliger buite wil gaan rook.
  • Temperatuurlesings met behulp van ’n infrarooi geenkontak-voorkoptermometer, handreinigingsmiddel en toegangsregister word by die ingangsdeur tot die saalkompleks gebruik.
  • Elke persoon werksaam in die lokaal, sal uurliks handreiniging moet doen.   Gereelde ontsmetting  van werksoppervlaktes en ander areas waaraan baie geraak word.
  • Beskermende klere in die vorm van weggooibare plastiekvoorskote sal twee keer per dag aan elke persoon voorsien word.
  • Die vereiste 1m² vrye ruimte per persoon sal in alle lokale toegepas word.

Ons benodig helpers om met die verpakking van die kospakkies behulpsaam te wees.  Indien jy bereid is om te help, kontak my gerus deur ‘n WhatsApp te stuur na 082 570 5931.