Stellenberg-gemeente het diep spore in die Transkei getrap

Deur: Ds. Christo Wooding

Stellenberg-gemeente het in die 1990`s by my werk in Kokstad betrokke geraak, deur ons onder andere finansieel te begin ondersteun.  My ouers, Bart en Rita Wooding, wat hul lewe lank as sendelinge in Transkei gewerk het, het met hulle aftrede verhuis en by Stellenberg-gemeente ingeskakel.  Dit is dan ook hoe die gemeente se kontak met die VGK Kokstad en die werk in Transkei begin het.

Die eerste uitreik vanaf Stellenberg na Transkei het in 1996 plaasgevind.  Johan en Elcine Hulme het ’n span na Waterloo gelei.  Dis een van Kokstad se buiteposte, waar ’n kerkie gebou is.  Ds. Charlie Holtzkamp het die span vergesel en daarna het verskeie uitreike na Kokstad gevolg.  Onder andere is kamers by ons kerk in Kokstad gebou en Stellenberg betaal steeds ’n deel van ons salaris en ons is besonders dankbaar vir dié ondersteuning wat ons in staat  stel  om voort te gaan met ons werk in die Transkei.  Ek en Deleste, my vrou, tree DV oor twee jaar af, en dan kom die era van ou sendelinge uit die NG Kerk in die Transkei ook tot ’n einde.

In 1999 is ds. Rikus en Truda Fouche na Lusikisiki en Bambisana beroep, en hulle het daar gewerk tot die einde van 2005. In dié tyd het Stellenberg ook vir ds. Fouche en sy werk by die twee gemeentes finansieel ondersteun en destyds, onder leiding van ds. Willem Malherbe, selfs ’n kerk op Lusikisiki gebou.

Vanaf 2006 tot 2019 was ek konsulent by Lusikisiki en Bambisana en het so betrokke geraak by Stellenberg se projekte in die twee gemeentes. Ds. Why Duvenhage was verantwoordelik vir Stellenberg se uitreike na die twee gemeentes en was veral geraak deur die verval van die Bambisana-sendingstasie.  Hulle het toe gesoek na ’n geskikte plek waar die uitreikspanne van Stellenberg en Amerika kon tuisgaan en ook as basis vir uitreike kon dien.

So het die heropbou van die ou sendingstasie, wat oorspronklik in 1959 deur die NG Kerk opgerig is, toe begin.   Verskeie uitreikspanne van Stellenberg  en  ook Amerikaanse spanne onder leiding van ds. Why Duvenhage het deur die jare hard gewerk aan die herstel van die kerk, die pastorie en ander geboue.  Kosbare tyd en geld is opgeoffer.  Ewigheidswerk is gedoen en baie lewens is onherroeplik verander. Kleuterskole en sopkombuise is begin en mediese spanne uit Suid-Afrika en Amerika het gesondheidsorgdienste in die gemeenskap aangebied.  Van Stellenberg se jongmense het vir jare permanent op Bambisane gewoon en  kosbare werk in die gemeentes  en ook binne ons ring gedoen.

Vir my was dit ’n grootse ervaring om alles te kon meemaak en te sien hoe die Here sy koninkryk bou, op wyses wat ek myself nooit kon voorstel nie. Ek het destyds gedink dat die bediening op Bambisana en Lusikisiki tot niet sal gaan, maar God laat vaar voorwaar nooit die werke van sy hande nie.  En vandag is Lusikisiki en Bambisana selfstandige gemeentes met hul eie leraar.  Die entoesiasme, ywer en toewyding  van die jongmense  van Stellenberg en Amerika,  sal my altyd  bybly.  Hulle het werklik geen bang haar op hul koppe nie en leef met oorgawe vir Jesus.  Ons sosiale uitstappies saam met die jongmense na Waterfall Bluff aan die Wildekus,  was beslis hoogtepunte in my lewe.

Stellenberg-gemeente kan met trots terugkyk na ongeveer 26 jaar se betrokkenheid in die Transkei. Oor dié tydperk heen is baie bereik en ek sê graag dankie vir die volgende:

  • Ek het in 1983 in die Transkei begin werk. Sedert 1993 kon die Oos-Kaapse Sinode nie meer my en van die ander sendelinge, se salarisse bekostig nie.  Dit was baie moeilike en onsekere  tye, maar ek het geglo my roeping lê in die Transkei.  Stellenberg was een van die eerste gemeentes wat by my werk  betrokke geraak het, en ons ook finansieel  begin ondersteun het.
  • Julle finansiële steun het ds. Fouche destyds in staat gestel om sewe jaar vrugbare werk by Lusikisiki en Bambisana te doen.
  • Kerke, skole en ander strukture is deur Stellenbergers gebou en sal altyd daar wees as getuienis van jul werk.
  • Bambisana-sendingstasie is deur die Stellenbergers van totale verval gered en herstel. Bambisana is nou die enigste fasiliteit binne ons ring wat ons vir konferensies en werkswinkels kan gebruik.
  • Die geweldige getuieniswaarde van die groepe gelowiges, oud en jonk, wat bereid was om na daardie afgeleë gebiede te gaan en onder die Pondo`s te werk en selfs te woon, is onmeetbaar.  Soveel lewens is deur die Lig van die Evangelie aangeraak en vir altyd verander.
  • Die skole het aan soveel kinders uit arm gemeenskappe ’n geleentheid in die lewe gebied en gaan steeds voort om dit elke dag te doen.
  • Die besoeke aan die gemeentes, die opleiding wat gedoen is, julle ondersteuning aan die kerkraad en  Nomthandazo, ons geestelike leier,  het Lusikisiki en Bambisana  nie alleen deur donker jare sonder leraars  gedra nie, maar hulle ook in staat gestel om te groei.  Soveel so dat hulle vandag self ’n leraar kan beroep, terwyl soveel ander gemeentes in Transkei net tot niet gegaan het.

Ten slotte net weer ’n groot dankie aan Stellenberg vir jul insette in die Transkei. Dit het ’n blywende verskil gemaak.  Julle het jul gemeente se leuse, naamlik: Reik uit oor alle grense,  deur woord en daad gestand gedoen.

Ds. Christo Wooding en sy vrou Deleste is sedert 1983 in die Transkei as sendelinge werksaam.