Die lewe in ’n aftreeoord

Met aftreeoordontwikkelings wat toenemend in woonbuurte verrys en heelwat Stellenberg-lidmate wat hulself in dié nuwe woonkomplekse vestig, het Stellenberger besluit om eerstehands inligting in te win oor dié nuwe leefstyl.

Heelwat Stellenbergers het na die Othello-aftreeoord in Brackenfell verhuis, waar  Stellenberger  by ou bekendes, Vic en Santjie van der Merwe, gaan inloer het.

Vic en Santjie was voorheen die eienaars van die Lekkerbly-gastehuis in Gillianstraat, Eversdal.  Hulle het drie jaar gelede besluit om die gastehuis op te gee en na Othello-aftreeoord te verhuis.  “Die verhuising was ’n groot uitdaging aangesien die nuwe eienaars nie ook die huis as ’n gastehuis wou bedryf nie.  Ons moes dus baie van die huis se inhoud tot niet maak en het baie beperkte tyd gehad om die huis te ontruim en van al die oortollige meubels ontslae te raak.

“Die aanpassing in die nuwe leefruimte was nie moeilik nie aangesien ons in ’n losstaande huis binne-in die aftreeoord woon.  Ons het dus genoeg ruimte.  Ek verneem mense wat vanaf ’n huis na ’n woonstel, waarvan daar heelwat in die oord is, verskuif, sukkel aanvanklik meer om by die beperkte ruimte aan te pas.”

Op die sosiale front vertel Vic dat ten spyte van die feit dat hy en Santjie baie sosiale mense is, hulle ondervind dat huisbewoners moeiliker nuwe vriende in die aftreeoord maak. Die huise is meer geïsoleer as die woonstelle en dit is ooglopend dat daar groter samesyn tussen woonstelbewoners is en dat dié groep inwoners baie vinnig nuwe vriende maak en nuwe verhoudings vestig.  Daar word gelukkig baie georganiseerde aktiwiteite, soos breigroepe, boeremusiekaande, bingo, ’n tuinbouklub en sanggroepe by die oord aangebied en inskakeling by die aktiwiteite help ’n mens om ander inwoners van die oord te leer ken.  Die oord bied ook verskeie ondersteuningsdienste soos maaltye, wasgoeddiens en verpleging aan.  Vic sê dat hulle tans net van die etes gebruik maak.

“Mense wat wik en weeg  of hulle na ’n aftreeoord moet verhuis, moet in gedagte hou dat die sekuriteit aan ’n mens geweldig baie gemoedsrus bied en dat diegene wat in die woonstelkomplekse woon, baie vinnig nuwe mense, wat in dieselfde lewensfase as jy is, leer ken.  Ek dink 70-tot-75 jarige ouderdom is die perfekte tyd om dié skuif te maak,” sê Vic.