Die kerk bekyk depressie van naderby

Deur: Dr.  Christelle Bekker

Die Wêreldgesondheidsorganisasie dui aan dat depressie wêreldwyd een van die hoofoorsake van ongeskiktheid en gesondheidsprobleme verteenwoordig.  Op eie bodem ly een uit elke ses persone in Suid-Afrika aan depressie, of ’n angsversteuring en kom middelmisbruik as poging tot selfmedikasie, algemeen voor. Daarmee saam ly ’n onbepaalde hoeveelheid mense aan posttraumatiese stres weens die gewelddadige aard van die samelewing.

In opdrag van die Wes-Kaapse Sinode doen ek navorsing oor die hulp en ondersteuning wat die kerk aan depressielyers bied.  Die kerk wil meer oor dié siektetoestande te wete kom, sodat hulle vir lidmate wat aan geestessiektes ly, die regte ondersteuning kan bied.  Dit is dan ook waarop my navorsing fokus.  Vorige navorsing het aangedui dat jongmense wat depressiewe episodes beleef, verwyderd van die kerk en godsdiens raak, terwyl ouer mense weer dikwels hulp en ondersteuning juis by die kerk en hulle godsdiens soek.

Gelowiges is soms geneig om geestessiektes te wil vergeestelik en glo dat geestessiektes deur skrifgedeeltes genees kan word.   Depressie is ’n fisiese siekte en kan nie sonder psigiatriese hulp wat medikasie insluit, verlig word nie.  Dit is glad nie wenslik om vir ’n depressielyer oppervlakkige raad soos dat hulle net positief moet dink, of die mooi in die lewe moet raaksien, te gee nie.  Om skrifgedeeltes in ’n tyd van ’n depressiewe episode met iemand te deel, is ook dikwels teenproduktief.  Depressiewe episodes veroorsaak dikwels dat mense die kerk vermy, aangesien hulle op daardie tydstip gewoonlik baie ver van God voel en selfs aan sy bestaan twyfel.  Wees eerder nie-veroordelend en spandeer net tyd saam met die depressielyer indien jy ter ondersteuning wil wees.

Ek is besig om onderhoude te voer met depressielyers om vas te stel hoe die kerk mense met geestessiektes kan ondersteun.  Ek benodig nog tien vrywilligers met wie ek ’n onderhoud kan voer.  Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees en hoef nie noodwendig meer eredienste by te woon nie. Hulle moes wel lidmate van die NG Kerk gewees het ten tye van die aanvang van hul depressie. Die onderhoude is eenvoudig, anoniem en sal deelnemers glad nie ongemaklik laat voel nie.  Kontak my, dr. Christelle Bekker 083 2669 659, gerus indien jy bereid is om aan die navorsing deel te neem.