Lydenstyd het nou aangebreek en loop in die volgende weke op na Paasnaweek wanneer gelowiges Christus se kruisiging en sterfte sal herdenk. ’n Bekende kerklied wat ons in lydenstyd sing, lui soos volg: “Vervul, o Heer, my hart met stille wyding waar ek herdenk die diepte van u lyding” (Liedboek 391). Die lied gaan verder en sê: “U lyding breek my trotse hart en rede; dit buig my neer, en skep in my u vrede . . . wat my . . . verander”. Dit laat ’n mens nadink oor hoe die lydenstyd jou persoonlik raak.
Reis bewustelik in die volgende paar weke van lydenstyd saam met die gemeente deur Jesus se lyding en laat toe dat die gebeure rakende sy lyding en sterwe jou daaglikse roetine, denke en emosies aanraak. Oor die eeue heen het gelowiges in hierdie tyd gevas as ’n voortdurende herinnering aan Christus se lyding. Oorweeg dit om jou ook van ’n luuksheid of lekkerny te ontneem sodat jy meer bewustelik met Jesus se lyding kan omgaan en dit met jou eie en ander se lyding laat resoneer.
Jy sal beleef hoe die Here jou hiermee op ’n besondere manier omvorm sodat jy sy vrede sal ervaar, soos die woorde van die Paaslied ons herinner. In die verlede het ons baie rooi kruise uitgedeel en lidmate gevra om dit gedurende lydenstyd op die voorkant van hulle huise aan te bring. Gee weer jou ou rooi kruis ’n lagie verf, of maak een wat jy by jou voordeur opsit waarmee jy getuig – dis lydenstyd!
Skakel in by ons Lydenstydprogram
- Woon Sondae se lydensdienste by.
- Die spesiale lydenstydprogram begin op 1 April en word op 1, 8, 15, 22 en 29 April aangebied. Ons kom tydens die vyf weke in groepe byeen om ’n Bybelstudiehandleiding te bestudeer. Jy kan by bestaande groepe inskakel, jou eie groep met vriende skep, of by die weeklikse groepbyeenkomste wat in die kleinsaal aangebied word, inskakel. Die handleidings is op Sondagoggend 8 Maart @ R20 elk, na die erediens te koop, of gedurende die week by die kerkkantoor. Navrae: Ds. Potgieter 079 893 8104.
- Nagmaal op Donderdagaand 9 April om 19:00 in die kerk.
- Erediens op Vrydagoggend 10 April om 09:00 in die kerk.
- Paasdiens met nagmaal op Sondag 12 April om 06:15 en 09:00 in die kerk.