Barrydale se nuutste vonds

Deur: Reinhold Swart

Elke jaar neem ek Fransonette, my bruid van die afgelope 36 jaar,  op ’n huweliksherdenkingsuitstappie.  In die grootste geheimhouding beplan ek die tog,  besluit selfs op ’n tema en vroulief moet ’n nuwe  “going away”  vir die geleentheid aanskaf.  Ek het my granaatpitjie al weggevoer na dorpe soos Redelinghuys, Malgas, Baardskeerdersbos, Kommetjie, Paternoster en Pniel,  waar ons  by kerslig oor vonkelwyn sit en koer het.  Selfs ’n tentekamp in die Witzenberg,  ’n Duitse kasteel in Houtbaai en ’n Airstream-woonwa in Elgin het al verblyf gebied.

Een van ons sielkunde-vriendinne hou hierdie model tydens haar huweliksberadingsessies voor.   Blykbaar met goeie resultate.  So, ou swaer,  indien jy van hierdie wenke gebruik maak,  en jy pluk die sappige vrugte van jou moedige poging,  kom gee maar ’n bottel bekroonde Bolandse wyn by ons huis af.

Verlede Desember het ek op Barrydale,  daar waar die Overberg en die Klein-Karoo hande vat,  besluit,  aangesien ek ons eertydse gemeentevriende,  Bremer en Erna Gericke,  beloof het ek sal hul opsoek en Kaapse soetigheid saambring.  Van laasgenoemde het ek ongelukkig heeltemal vergeet.

Die oggend tydens ons besoek het Bremer, terwyl ons aan roosterbrood en Erna (steeds ’n vrou van vele deugde)  se tuisgemaakte konfyt gesmul het,  vir ons vertel van die groot werk om hul eie “bouval”  leefbaar te maak.  Dit het egter meer na rehabilitasie as restourasie geklink!  En uit die “puin” het ’n Kaaps-Hollandse-Herlewingspronkstuk verrys.  Ek het in die literatuur gesien daar word ook verwys na die Ou Koloniale Herlewingstyl.  Bremer het so tong-in-die-kies gesê ons mag daarna as Die Opstal verwys.  Met reg ook!

Van die werk op die terrein het Bremer  self gedoen.   In die lig daarvan dat dit ’n oudpredikant se skepping is,  is dit nie sleg gedoen nie.

Op die Gerickes se werf is die opvoedingstake en pastorale werk egter nog nie afgehandel nie.  Die groot haan wat doer tussen die vele vrugtebome skrop,  is ’n swak karakter.  Hy het geen respek vir die henne nie,  en hy is afknouerig.  Bremer moes hom al vele kere betig en onder hande neem,  maar darem sonder om  onsag te raak.  Ons oudleraar het mos ’n groot afkeer van die hardhandige optrede teenoor vroue en hoenders.

Die nuwe werklikheid wat hier deur Bremer ontdek is, is dat niks op Barrydale haastig gebeur nie.  ’n Stukkie kliptuinmuurtjie wat eintlik net ’n dag se werk is,  het drie dae geduur,  die afdakkie oor die stoep van ’n week, het drie weke geneem.  Is iets daarmee verkeerd?  Nooit gesien nie – waarom sal jy iets vandag uitstel as jy dit môre kan uitstel !

Nadat ons diep gedelf het in die skatkis van mooi herinneringe, is ons toe van die oud-Stellenbergers weg om die  dorpie verder te verken.

Die aand gaan kyk ons na die NET VIR PRET-organisasie se grootformaat poppekasoptog  in die buurt daar oorkant teen die bult,  daar waar uit respek nog dominee gesê word.  Ek hou van ’n afstand dop hoe Bremer tussen die dorpenaars beweeg,  met daai skalkse glimlag op sy gesig en hoe hy so heuphoogte vir bekendes wuif.  Nooit oordadig nie.

Ja-nee,  niks het verander nie.

Ek was altyd van mening dat Barrydale net DIESEL EN CREAM is.  Toe nie.  Deesdae bied die dorp veel meer.  Die Gerickes is mos ook nou daar.

Gaan kuier gerus.

*Reinhold en sy vrou, Fransonette, is jarelange lidmate van die gemeente.  Hulle woon in Mosellestraat 4.