Ons groet vir Peter en Chané Kotze

Deur: ds. Callie Visagie

Dit is met groot hartseer dat ons die afgelope maand moes kennis neem van ds. Peter Kotze se voorneme om nie voort te gaan met sy bediening in Stellenberg nie. Vir bykans drie jaar het hy en  Chané ’n besondere rol gespeel in vele tieners en jong volwassenes se lewens en het hulle ook in die harte van baie volwassenes gekruip.

Peter se opregte afhanklikheid van die Here, integriteit en sy voorbeeld van ’n lewende verhouding met die Here, was onder meer van die fondamente waarop hy sy bediening in die gemeente gebou het.  Sy rol in die gemeente het aan hom die geleentheid gebied om werklik ’n vriend vir vele tieners te kon wees en hy het daarin geslaag om hulle elkeen op sy eie geestelike reis te begelei. Hy was ’n dominee met wie jongmense nie net maklik kon identifiseer nie, maar was ook ’n voorbeeld van iemand wat die weg na Jesus ken en daarna streef om soos Jesus te leef.

Peter se besondere gawe waarmee hy die jeugdienste ingeklee het, veral in noue samewerking met Plofstof (die jeugband), was vir baie tieners ’n weeklikse hoogtepunt en die jeugdiens het in ’n ruimte ontwikkel waar daar diepe omgang met die Here was en gebed ’n sentrale fokuspunt gevorm het. Verder het Peter se deernisvolle en sagte omgang met mense na die hele jeugbediening deurgesuur en baie mense aangeraak.

Peter behou sy bevoegdheid as predikant in die NG Kerk en het aangedui dat hy nou eers verdere studie onderneem en dan opnuut oor sy roeping sal besin.

Chané, wat haar eie arbeidsterapiepraktyk bedryf, was nie net betrokke by die kategese as ’n graadleier nie, maar het ook meegedoen aan verskeie van die gemeente se jeugkampe, asook die Reach-groepe wat weekliks vir tieners aangebied is.

Op Sondagaand 2 Desember tydens die jeugdiens om 18:00 is Peter se amptelike afskeid.  In die oggenddienste om 09:00 op 9 Desember in die kerk en tydens die gesinsdiens groet die gemeente hulle as egpaar. Op beide 2 en 9 Desember kuier die gemeente na afloop van die eredienste gesellig saam.  Alle lidmate is baie welkom om dié geleenthede by te woon.