Waarom spraakterapie? Dit is waarskynlik ’n vraag wat baie ouers aan verwysende dokters of onderwysers stel.
Spraakterapie is ’n professie wat al vir ’n geruime tyd bestaan en die bekende fliek The King’s Speech het nuwe lig op wat spraakterapie behels, gewerp. Spraakterapeute werk met ’n breë spektrum mense wat wissel van pasgebore babas wat sukkel met voeding en die suigrefleks, tot bejaardes wat moontlik na ’n beroerte met kommunikasie en voeding sukkel.
Spraakterapie kan met die volgende help:
- Sluk-, suig- of eetafwykings, ook genoem disfagie.
- Vroeë taalontwikkeling – soos bv. vir kinders wat op 18 maande nog nie basiese woorde soos mamma of pappa baasgeraak het nie.
- Gesplete lip/verhemelte-rehabilitasie.
- Hakkel.
- Stemterapie – vir mense wie se stemme ooreis is, byvoorbeeld onderwysers, of pasiënte wat a.g.v. keelkanker van nuuts af moet leer praat.
- Artikulasieterapie, waar kinders geleer word om bv. die r- of s-klank korrek uit te spreek.
- In ’n twee- of meertalige huis gebeur dit soms dat taalverwarring by kinders voorkom.
- Beroetes en breinbeserings.
- Outisme, downsindroom en ander spesiale diagnoses waar kommunikasie nie normaal ontwikkel nie.
Elke persoon het die reg om te kommunikeer, daarsonder word jou menswaardigheid geskaad. Kontak ons gerus by Stellenberg Ondersteuningsentrum 021 976 8029, of aanlyn by www.jbspeechtherapy.co.za.