Stellenberg Ondersteuningsentrum wat berading en mediasiedienste aanbied, het ook nou ’n musiekterapeut wat haar dienste by die sentrum beskikbaar stel. Almarie du Preez, ’n geregistreerde musiekterapeut, vertel ons meer van dié nuwe benadering in terapie.
Wat is musiekterapie? Dit is wanneer musiek en klank in verskillende vorme gebruik word om ’n persoon se fisiese, emosionele, sosiale en geestesgesondheid te verbeter.
Musiek is ’n wonderlike universele medium wat al eeue lank gebruik word om geestes- en fisiese gesondheid te bevorder. Musiek is een van die min mediums wat die hele brein op een slag stimuleer.
Binne die musikale terapeutiese proses word ’n veilige ruimte gebied waarbinne die individu sy/haar gevoelens kan uitdruk sonder dat woorde gebruik word. Natuurlik is daar ruimte vir praat ook, maar om jou gevoelens om te sit in woorde is nie altyd vir almal maklik nie. Met musiekterapie doen die musiek die praatwerk en bied die musikale proses waardevolle inligting aan die terapeut rakende die kliënt se emosies en innerlike belewenis.
Moet kliënte dan musikaal wees om baat te vind by musiekterapie?
Geensins. Elke persoon beskik oor die vermoë om musikaal te kommunikeer deur middel van die bepaalde stemtoon, tempo en volume waarmee gepraat word. Die musiekterapeut beskik oor die nodige professionele musikale vaardighede om die musikale proses te fasiliteer. Die terapeut gebruik verskeie instrumente (bv. klavier, kitaar, tromme, perkussie) en tegnieke (musiek, luister, liedjieskryf, beweging, dans, sang en ontspanning) om die terapeutiese doelwitte te bereik.
Wie kan baatvind hierby?
Musiekterapie is geskik vir volwassenes en kinders van alle ouderdomme en terapie word individueel en in groepsverband aangebied. Dit is veral geskik vir persone wat trauma beleef het; sukkel met verhoudings- of verslawingsprobleme; emosionele en gedragsprobleme; fisiese en sensoriese gestremdhede; kroniese pyn; asook vir diegene wat minder gemaklik voel met verbale kommunikasie.