Die gemeente se medewerkers is oor ons kontinent en die res van die wêreld versprei. As gelowiges is dit vir ons belangrik om dié dissipels van Jesus te ondersteun in die uitbou en uitdra van God se koninkryk. Ons plaas hierdie maand die fokus op Johan en Rita Bloemhof, ’n sendelingpaar wat al 35 jaar kinderevangelisasie in Frankryk behartig. Ons junior kategesegroepe ondersteun hulle in dié belangrike bediening. Stellenberger het met die hulp van die internet met Johan gesels om meer van hulle werk te wete te kom.
Waar presies in Frankryk werk julle? Ons is naby Parys gevestig in die dorpie Lisses.
Julle bediening fokus op kinderevangelisasie – wat behels dit presies ? Ons werk saam met Child Evangelism Fellowship France. Die organisasie sal volgende jaar al 70 jaar in Frankryk werksaam wees. Ons het veertig werkers in die groep en versprei die Goeie Nuus deur kampe, huisklubs, opelugwerk, kerke, ens. Ons doen ook baie korttermynuitreike saam met Suid-Afrikaners wat ons kom help.
Hoe het die invloei van vlugtelinge in Frankryk julle werk beïnvloed? Dit bied nuwe geleenthede om in die vryheid wat Frankryk bied, die Evangelie ook aan hulle te bring.
Praat julle Frans? Ja, dit is ons bedieningstaal en ook die eerste taal van ons vier kinders, hulle gades en ons sewe kleinkinders.
Wat is volgens jou die grootste uitdagings in julle werk? Kerke en gelowiges wat nie ’n visie het vir die verloregaande wêreld nie.
Waaroor is julle opgewonde? Hoe God oor al die jare getrou bly in die sendingveld en die groot deure wat Hy steeds oopmaak om die Evangelie nog verder te kan versprei.
Glo jy die bediening maak ’n verskil? Ja, ’n baie groot verskil in miljoene mense se lewens wat vir die eerste keer ’n deel van die Bybel in die hand kry, asook kerkplanting en dan veral t.o.v. kinders wat gered word.
Waarby kan Stellenbergers spesifiek betrokke raak? Dit sal wonderlik wees indien meer volwassenes saam met die entoesiastiese kinders van Stellenberg bid vir die redding van mense in Frankryk en op korttermyn saam met ons aan uitreike kom deelneem.