deur: Anene Nortier
Op Sondag 25 Februarie het ds. Why Duvenhage ’n erediens in die Shofar-gemeente vir hawelose mense in Bellville gelei. ’n Paar Stellenbergers het saamgegaan en na die erediens die kerkgangers met ’n warm maaltyd verras. Anene Nortier deel haar ervaring van die oggend met ons lesers.
Sondagoggend . . . vroegoggend . . . hulle sit in rye op die sypaadjie met ‘n bekertjie genadekoffie – party met ‘n lewensblyheid wat duister is en dan ook húlle op wie se gesigte die moedeloosheid al spore gelos het.
Kan dit wees dat hierdie harde bestaan harte só sag kan maak? Of is dit dalk juis húlle wat vanoggend met lig in hulle oë en bondeltjies vasgebinde slaapgoed onder die arm deel is van hierdie Heilige byeenkoms? “Waar twee of meer in my Naam vergader, dáár is Ek!”
Die koffiery binne die saaltjie word in stilte gevorm en die seer hande wat die bekertjies vat en bedank, vertel hulle eie storie. ’n Vrou kom ingestap. Nederig. Skaam dalk? Of moedeloos? Met haar sagte voetstappe van jare se myle, neem sy stil-stil haar plek in. Niemand kyk op omdat sy laat is nie, niemand wonder nie. Wat maak dit saak?
Spontane lofprysing breek uit die harte van hierdie hawelose gemeenskap en weer tref die eenvoudige rykdom soos ‘n geweerskoot. Hier, waar liggaam en siel met genade aanmekaar gehou word, klingel die sente in die ingeduikte trommeltjie wat omgestuur word.
“Dit verseker Ek julle: Hierdie vrou het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.”
Getuienisse word gedeel oor hoe elkeen skuiling vind in die Vader en hoe ons dankbaar moet wees en raaksien hoe Hy ons vashou – hier, in Bellville se strate. Hier waar alles so gevaarlik is? Hier waar menswaardigheid iets is wat moeilik ervaar word? Ja, hier!
Soms fluister die Vader in jou oor en soms praat Hy hard. Soms is dit nodig om weer te kniel, jou eie nietigheid te besef en uit te reik oor ongemaklike grense heen!
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”