Teksvers: Psalm 46: 1-3
God is vir my ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.
Die digter herinner ons dat lewe en ook geloof nie altyd eenvoudig is nie. Baie van ons het al ontdek dat geloof jou nie afskerm van die terugslae en teleurstellinge van die lewe nie. Ook nie van die twyfel wat daarmee gepaardgaan nie. Die teoloog Thielicke het op ‘n stadium gesê dat ware geloof ons dikwels deur die vuur van die lewe neem. As die teoloog Carel Antonissen hieroor dink skryf hy dat geloof ons help om, terwyl ons worstel met die raaisels van die lewe, die vertroue behou dat alles nie hopeloos is nie. Dat die God van die Bybel, van Abraham en Sara, Izak, Jakob, Maria en Jesus, steeds werk en sorg. Selfs al loop alles skynbaar skeef. Hierdie antieke gebed herinner ons aan hierdie troos. Naamlik dat geloof nie ‘n vaste sekerheid of besit is wat jou van rampe en ellende vrywaar en waarop jy heeltyd kan roem nie. Dit is eerder ‘n pad wat jou, soos met die gelowiges van vroeër, deur die vure en afgronde van die lewe neem, maar waarop jy algaande ontdek én leer vertrou dat jy op ‘n wonderlike manier steeds gedra en gelei word.
Gebed
Here ons raak diep bewus dat u by ons is. Self in die mees onwaarskynlike plekke en tye van ons lewe. Dankie dat U ons dra selfs al weet ons nie waarheen ons oppad is nie.