Dagstuk | Dinsdag 21 Mei 2024

Die tema van hierdie week se dagstukkies gaan oor die wyse waarop God in ons verlede, hede en toekoms by ons teenswoordig is en hoe die Heilige Gees  besig is om tot ons deur te dring. Vandag se oordenking praat oor God wat insig gee in ons verlede.

Teks: Psalm 130:1-4. Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? Maar by U is daar vergifnis: daarom word U steeds gedien. Ek stel my vertroue in die Here.

Wanneer ons oor die verlede praat verwys ons dikwels daarna as die ‘goeie ou dae’. Die opmerking sê nie soseer iets oor die verlede nie, maar verklap eerder iets oor hoe ons oor ons hede en toekoms voel. Dinge is slegter! Dit is die gevoel dat die wêreld toenemend besig is om uit beheer te slinger. Dink vir ‘n oomblik hieroor: Vandag en môre gaan eendag ons kinders en kleinkinders se ‘goeie oud dae’ wees. Die verlede wat ons idealiseer was nie so rooskleurig soos wat ons dink nie. Ons voorgeslagte is deur groot pandemies, ekonomiese ineenstortings, wêreldoorloë en wispelturige politieke omwentelings wat deur diktators bestuur is. Ook ons eie onlangse verledes vertel van konflik, foute en spanning wat ons tot vandag toe in ons saamdra. Hoe kan hierdie ‘ou dae’ dan vir ons goed wees? Die antwoord is radikaal. Omdat God nie mense vir hulle sondes vergeld nie en ons by plekke uitbring om God se vergifnis te ervaar wat ons weer in staat stel om genesing en vernuwing te bring. Daarsonder sou ons nie vandag bestaan het nie. Vergifnis bring ons nie by ‘n plek uit om sondes van die verlede te vergeet nie, maar juis om ons te herinner aan die verlossing wat vergifnis bring. Hoe praat hierdie gedagte vandag met jou as jy oor jou eie lewe en ons land se verlede nadink?

Gebed

Vader in die hemel. Moet tog nie ons sonde voor ons staanmaak nie. Hou ons eerder staande teen die sonde. Gee dat ons elke keer wanneer ons aan U dink, nie vrees en skuld sal ervaar oor wat ons of ander mense alles aangevang het nie; maar eerder vrede en vreugde oor wat U alles vir ons gedoen het en hoe U ons en ander deur vergifnis kom omdraai het om nuwe lewe in gebrokenheid te bring. Help ons vandag om te onthou dat U ons elke keer kom soek en kom haal het.