Deur: Ds. Schalk van Wyk
Hemel en aarde, die twee hoort saam; hulle hoort van die begin af saam; hulle hoort vir ewig saam. En die hemel, sê die prediker in 5:1, is waar God is, en die aarde is waar ons is.
Tog glo miljoene Christene dat die hemel ons ewige woonplek sal wees. Sommige, soos ons wonderbare Bybelvertaler, digter en kerkman, Totius, gaan selfs sover as om te dink:
Die wêreld is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk, en ‘k merk dit
aan die reier wat mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesiesvlei.
En is die laaste strale weg, dan rys ʼn koue op uit
dié vlei. ʼn Koue gril deurhuiwer my; en ‘k sien dit
dan aan alle ding wat in die skemer my omring,
die wêreld is ons woning nie.
Ek gee toe, dalk kan ons sê dat hierdie ou wêreld, hierdie stukkende wêreld waar ʼn koue gril ons soms deurhuiwer, dikwels nie na ʼn woning voel nie, maar op die oomblik, terwyl ons lewe, is dit al woning wat ons het. Om die waarheid te sê, ook in die ewigheid gaan die wêreld ons woning wees; weliswaar die nuwe wêreld, die nuwe aarde – maar steeds die wêreld. Teenoor Totius, wie se nagedagtenis ek met groot bewondering eer, wil ek sê: nie die wêreld nie, maar die hemel is ons woning nie! Ons gaan in die ewigheid nie by God in die hemel woon nie! Inteendeel, so lief het God die wêreld dat God eerder by ons op die aarde kom woon. Die tempel was altyd vir Israel die teken dat God by hulle wou woon, maar in die nuwe Jerusalem, op die nuwe aarde is daar nie ʼn tempelgebou nie, God self sal die tempel wees (Openbaring 21:22) omdat God volledig, nie iewers in ʼn inperkende gebou nie, maar oral op die aarde teenwoordig sal wees.
God het immers nooit sy plan met die skepping prysgegee nie. Hierdie plan was, is, en sal wees om ʼn aarde wat mooi en goed is, lief te hê, in stand te hou en te versorg,
Daarom het die Seun van God mens geword en in die stof van hierdie aarde kom stap.
Daarom het die ou stukkende aarde waarvoor God lief is, saam met die Seun vir wie God lief is aan die kruis gesterf;
Daarom is Jesus se siel nie uit die dood opgewek nie, maar die lyf waarmee Hy hier op die aarde geloop, geëet en gedrink het, is opgewek – Jesus se lyf was nie leeg omdat die siel weggegaan het nie, sy graf was leeg omdat Hy met liggaam en gees daar uitgestap het;
Daarom gaan ons op die nuwe aarde mense wees waaraan jy kan vat, nie siele wat deur jou kan sweef nie;
Daarom het God nie met die opwekking van Jesus toegangskaartjies hemel toe in Christus se hand gestop nie, maar eerder die kaart en transport van die nuwe hemel en aarde aan Hom oorhandig.
God het ons mense gemaak vir die aarde – en dit was nie ʼn fout waaroor God later by wyse van spreke gesê het: “Oeps!”, nie. Hy het nooit bedoel dat ons siele moet wees nie, Hy het bedoel dat ons mense moet wees met ons voete op die grond.
Deur die jare heen het mense my gevra of ek dink daar gaan diere wees in die hemel. Ek het altyd geantwoord, nee beslis nie, maar op die nuwe áárde sal daar sekerlik diere wees. Ek kan my nie voorstel dat die God wat lus was om voëls, visse en diere te maak, ʼn nuwe aarde sonder diere sal bedink nie. Dalk is Jesaja 65 se beeld van die Nuwe Jerusalem
die beeld waarin
“25Die wolf en die lam sal saam wei,
die leeu sal strooi vreet soos ’n bees,
en stof sal die kos van die slang wees.”
– dalk is hierdie beeld nader aan die kol as enige een van die prentjies wat ons in ons koppe oor die hemel het.
Maar wat dan as ons doodgaan voor die nuwe hemel en aarde geopenbaar word? Ek het doelbewus die woordjie “geopenbaar” hier geskryf, want dit is soos Paulus daaroor praat. In ons ouer Bybelvertaling (1983) het die vertalers in Romeine 8:18 geskryf oor die toekoms wat God vir ons sal laat “aanbreek”. Die 2020 vertaling hou noukeuriger by die Griekse teks en skryf daarom:
“Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie.”
Met hierdie woord sien ek die prentjie van ʼn teaterverhoog waar die toneel, die dekor, reeds opgestel is. Die gehoor sit in afwagting en kan dit nog nie sien nie, maar dit is reeds gereed, dit is net nog agter die gordyn. Wanneer die gordyn opgaan en die dekor is iets besonders, het ek ʼn gehoor al hoor snak na hulle asem en dan klap hulle hande vir die mense wat die toneel gebou het. Die Griekse woord wat met ‘openbaar, openbaring” vertaal word, beteken inderdaad om ʼn bedekking weg te neem, om die doek wat oor iets lê, op te vou. Sou Paulus dalk meen dat die nuwe werklikheid reeds bestaan en dat ons dit net nog nie kan sien nie?
So, kom ons gaan terug na ons vraag: Maar wat dan as ons doodgaan voor die nuwe hemel en aarde geopenbaar word? Daarop antwoord die Bybel nie regtig duidelik nie. Dalk gaan ons vir ʼn rukkie lank as siele sonder liggaam by God in die hemel woon. Aan die ander kant vermoed ek eerder dat ons dadelik oorgaan na die tuin waarvan Jesus die Tuinier is; dat ons dood beteken ons glip onder die gordyn deur na die verhoog wat reeds voorberei is. Dit is die gevoel wat ek kry as Jesus aan die kruis vir die sterwende man langs hom sê:
“Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43)
Paradys is ʼn ou Persiese woord vir ʼn ingeslote, beskermde tuin. In die Nuwe Testament kry ons die woord hier in Lukas; een slag by Paulus as hy praat oor ʼn wonderbare ervaring wat hom te beurt geval het (2 Korinthiërs 12:4), en een maal in Openbaring 2:7.
Dit word egter nog interessanter as ons na die Griekse vertaling van die Ou Testament gaan kyk. Die skrywers van die Nuwe Testament, en die eerste Christen-gemeentes het meesal die Griekse vertaling van die Ou Testament (wat kortweg bekend staan as die LXX) gelees. Die LXX vertaling is een of ander tyd tussen die derde en die eerste eeu voor Christus gemaak. Ewenwel, in hierdie Griekse Bybel verwys “paradys” deurgaans na die tuin van Eden. (Jy kry dus in die LXX die woord paradys in Gen. 2:8; 13:10; Esegiël 31:8 en Jesaja 51:3). As Jesus sê, “jy sal saam met my in die paradys wees”, het Hy bedoel, soos wat die woord destyds gebruik is, om vir die man te sê: Jy gaan saam met my in die tuin van Eden wees. Jesus en die booswig se siele gaan dus nie dadelik hemel toe nie, maar tuin toe, die tuin waarvan Hy die Tuinier is! Ons lees immers eers later van Jesus se hemelvaart. Dit gebeur nog nie hier wanneer sy lyk in die graf gebêre word nie. Hy, en die man langs Hom, gaan reeds op ʼn manier in die paradys, die tuin, die nuwe tuin – die ou tuin van Eden bestaan immers nie meer nie – wees.
Hierdie is voorlopig genoeg om aan te herkou. Ons moet nog vorentoe meer helderheid oor die sake soek.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss. Hy verwag nie dat almal noodwendig met hom saamstem nie en nooi lesers om hom per e-pos te kontak by swvanwyk@gmail.com.