Pieter Vrey het 288 parkruns agter die blad

Pieter Vrey is sedert 2017 ’n lidmaat van Stellenberg-gemeente en het op 83-jarige ouderdom op 24 Junie 2023 sy 250 ste parkrun by die Meerendal-wynplaas in Durbanville suksesvol voltooi.  Saam met hom op die foto is ‘n jare lange drafmaat, Willie Smith (links) en sy seun, Riaan Vrey (regs). Op Saterdag 5 Mei het hy te midde van die reën en koue weer sy 288ste parkrun by Meerendal voltooi.  Pieter het in 2015 aan parkruns begin deelneem en hy is een van die Durbanville Parkrun-groep se ingeskrewe lede wat al die meeste verskillende parkruns voltooi het.

Pieter vertel dat hy al meer as 35 verskillende parkrun-roetes en op verskillende dorpe agter die blad het.  Sy gunstelingparkrun sal altyd die roete op die Meerendal-wynplaas in Durbanville wees, omdat dit sy tuisdorp is, maar hy noem ook dat die Paarl-parkrun ’n baie mooi roete is.  Vir diegene wat daarvan hou om roetes af te wissel, beveel hy aan om ook Malmesbury en Wellington se roetes te probeer.  Dit is beide baie mooi roetes alhoewel Wellington se roete ‘n bietjie moeiliker is met heelwat steiltes.  Pieter het ook ’n paar jaar gelede die Kayamandi-parkrun voltooi en vertel dat dit ‘n pragtige roete is.  “Jy stap teen ’n steil bult op en dan loop jy op die rand van die koppie en kan die hele Stellenbosch-vallei van daar bo af bewonder.

“Ek het op skool my arm twee keer in drie maande tydens rugbywedstryde gebreek, wat toe die einde van my rugbyloopbaan beteken het.  As jong werkende het ek begin krieket speel en toe ek te oud word daarvoor, het ek begin draf.  Ek het altesaam 744 padwedlope, waarvan 316 halfmaratons en 10 maratons was, afgelê.  Een van die maratons waaraan ek deelgeneem het, was die bekende New York-maraton.  Toe my knieë van die hardloop begin ingee, het ek begin stap en toe aan die parkruns begin deelneem.  Ek sien Saterdae dikwels ook vir ds. René Potgieter by Meerendal se Parkrun.”

Pieter is ook ’n gereelde helper by die roosterkoektafel op die gemeente se basaar.  Hy sê dat hy glad nie handig in die kombuis is nie.  Behalwe vir help met roosterkoeke, kan hy net koffie maak.

Indien jy aan die parkrun by Meerendal-wynplaas deelneem, wees gerus op die uitkyk vir Pieter Vrey met sy oranje pet en gaan maak kennis.