Teks Johannes 20:24
Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” 26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” 27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” 28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” 29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” 30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Ek is dankbaar dat Johannes gekies het om die storie van Thomas deel te maak van die storie van Jesus se opstanding. Want hy nooi ons uit om ook ons twyfel oor die opstanding in die oe te kyk. Thomas se storie herinner ons dat die storie oor die opstanding nog altyd ingewikkeld was en moeilik vir baie mense om te ontvang. Maar wat vir my betekenisvol was, was nie die feit dat Thomas getwyfel het nie. Ek dink ons almal herken dalk iets van ons eie geloofsreis in hom. Wat vir my uitstaan is dat hy so publiek was daaroor voor mense wat baie seker was van wat hulle glo, en dat sy gemeenskap waarvan hy deel was hom toegelaat het om dit te doen. Wat vir my betekenisvol is in hierdie storie is ook die manier hoe Jesus hom hanteer het. Nie met veroordeling of minagting nie maar met ‘n sagtheid en deurnis. Ek vermoed Thomas sou, jare na hierdie ontmoeting, met dieselfde sagtheid mense hanteer wat ook dalk getwyfel het. Thomas herinner ons dat geloof nie altyd maklik nie en dat dit nie altyd sommer oornag met ons gebeur nie. Van ons het dalk langer tyd nodig en dan kan ons rus in die wete dat ook Thomas op sy tyd sy pad teruggevind het na geloof.