In die liturgiese jaar is ons nou in Paastyd – die tyd tussen Paasfees en Hemelvaart, waar ons opnuut bewus word van die nuwe lewe wat die opstanding van Jesus Christus moontlik maak. Die opstanding van Christus nooi ons uit om deel te neem aan ’n nuwe realiteit. Die eerste Christene het bekend gestaan as die mense van die Weg. Mense wat die weg van Jesus volg. Met ander woorde, die opstanding nooi ons nie net uit om die onmoontlike te glo nie, maar om die onmoontlike te leef.
Hierdie week reis ons deur Handelinge 2 en die storie van die eerste gemeente. Die kerk het sedert hierdie eerste gemeente in ’n klomp maniere gegroei en ontwikkel, maar in hierdie eerste gemeente sien ons ’n klomp elemente wat ons opnuut uitnooi om kerk te wees in die wêreld. Mag hierdie week ons harte en gedagtes vernuwe, ons geloof versterk, en ons lei na ‘n dieper verstaan van die opstanding en die vreugde van ‘n lewe in Christus.
Handelinge 2:43-47
43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
Refleksie
Gemeenskap en eenheid
Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.
Wat beteken dit om eensgesind te wees? Dit beteken nie noodwendig om eenders, of dieselfde te wees nie. Handelinge vertel dat die eerste gemeente uit ’n klomp verskillende mense van verskillende kulture, rasse, tale en geslagte bestaan het. Almal in die eerste gemeente was verseker nie eenders nie. Maar hulle was eensgesind – hulle was saamgebind in Christus en het saam geleef om die weg van Christus te volg.
Wat dink jy beteken dit vandag vir die kerk om eensgesind te wees? Wat beteken dit om eensgesind te wees as deel van ’n diverse kerk?
Die tweede gedagte sê dat hulle alles met mekaar gedeel het. Ek wonder wat dit alles insluit? Die eerste, waarskynlik akkurate, aanname is dat hulle almal se besittings onder mekaar gedeel het. Maar dalk is die ‘alles’ groter as net besittings. Dalk het hulle in die eerste plek hulle harte met mekaar gedeel, wat hulle in staat gestel het om ook hulle besittings met mekaar te deel. Dit begin by vertroue. Hoe oop is jy om jou hart, jou diepste wese, met die mense rondom jou te deel? Ons erken dit dikwels nie eers vir onsself nie. Verbeel jou ’n gemeenskap van mense wat mekaar so vertrou dat hulle eensgesind is en alles met mekaar deel, selfs hulle harte.
Waarheen nooi hierdie gedagtes jou vandag uit? Deel jou hart vandag met God
Gebed
Here God, dankie vir die geskenk van ’n geloofsgemeenskap. Mag ons vandag, soos in die eerste gemeente, eensgesind wees en bereid wees om te deel, selfs en veral die diepste dele van ons hart.
Amen.