Deur: Ds. Schalk van Wyk
As jy nie ʼn engel met ’n masker herken nie, maak dit nie saak nie – dit gebeur immers gedurig, maar hou geen kort- of langtermyngevolge vir ’n mens in nie. Met ʼn afgod is dit egter ʼn ander storie. Afgode eis immers offers, en die offers is nie goedkoop nie. Hulle vra niks minder as jou dierbaarste en kosbaarste besittings nie en hulle doen dit so skelm, dat jy nouliks agterkom hoe duur jy betaal.
Deur die volgende reeksie skrywes nooi ek jou graag om saam na te dink oor dié verksuilde afgode. Maar eers wil ek kortliks my twee leermeesters oor hierdie onderwerp aan jou bekendstel en daarbenewens ook ʼn kort voorbeeld gee van wat ek met hierdie gemaskerde afgode bedoel.
Die eerste leermeester is Bob Goudzwaard. Die belangrikste wat ek van hom weet, is nie die allemintige hoeveelheid toekennings en eerbetonings wat hom te beurt geval het nie, maar dat hy in ʼn baie praktiese sin, ʼn toegewyde Christen is. Met “praktiese sin” bedoel ek dat hy ʼn ekonoom is wat, in plaas daarvan om heeldag oor die hemel te sit nadink, homself passievol beywer om ʼn soort politiek en ekonomie te skep wat rekening hou met die lewende God. Vir hom is die koninkryk van God dat God se wil op aarde gedoen sal word soos wat dit in die hemel gedoen word. Hy is al bejaard, maar is steeds emeritus professor in ekonomie aan die Vrije Universteit van Amsterdam. Hy het ook vir homself naam gemaak as politikus in Nederland en het al in die regering gedien. As ’n mens sy siening oor politiek en ekonomie moet opsom, sou dit dalk kon wees met dié sinnetjie: Genoeg is genoeg. Ons hoef nie altyd meer en nog meer te wil hê nie. Hy is veral bekommerd daaroor dat nasies en ekonomieë se voortdurende beheptheid met groei, onvolhoubaar is en slegte gevolge vir mense en die skepping inhou. Ek het soveel as wat kon van hom gelees, maar een besondere boekie het onder my vel ingekruip: Idols Of Our Time.
Goudzwaard noem dit nie in sy boek nie, maar oor afgode sluit sy gedagtes nou aan by die van my tweede leermeester in hierdie verband, Martin Luther. In Die Groot Kategismus het Luther geskryf dat die geloof magtig is omdat dit gode en afgode fabriseer. Dit waaraan ons ons hart aan hang, die één, die mag of die ding waarvandaan ons ons hulp en heil verwag, dit word ons god en, as dit nie die ware God is nie, dan is dit ’n afgod. Op hierdie manier het Luther afgode begin ontmasker.
Toe ek hierdie skryfstuk begin het met die opskrif dat afgode maskers dra, het ek ook ʼn bietjie gespeel met baie mense se geloof dat jy tog nie ʼn masker uit Afrika teen jou muur of ʼn Boeddhabeeldje op jou kaggelrak moet vertoon nie. Die soort goed bring bose geeste in jou huis en lewe in, en goed moet dan weer op ʼn manier uitgedryf word, verduidelik diegene vir jou. Ai toggie! Weet hulle dan nie:
“God het ons uit die mag
van die duisternis gered,
en verplaas na die koninkryk
van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding,
die vergifnis van sondes
ontvang het.”
(Kol. 1:13-14, 2020-vertaling)
Nou, ek kan self nie dink waarom iemand ʼn vet, glimlaggende Boeddha op die kaggelrak sou wou hê nie, maar dit is ʼn kwessie van smaak en nie van geloof nie. Om te glo dat daardie Boeddhatjie jou hoegenaamd onder die mag van die bose kan bring, is om Christus van sy eer te beroof. As die Gees van die Een Wat Sterker is (Lukas 11:22) in jou woon, dan is die beeldjie net klip, en die maskers uit Afrika net hout. Die sementpadda wat jy by Stodels gekoop het en die brandhout in jou braaikamer het net soveel (of in die hout se geval, groter) invloed op jou lewe as die Boeddhatjie op jou rak of die maskers wat jou muur versier.
Die gevaarlike afgode is egter dié wat glad nie na afgode lyk, of volgens vreesagtige bygelofies ʼn bose gees in hulle het nie. Hulle word ewe vrolik aanbid deur dieselfde mense wat met afgryse op hul gesig ander se laggende Boeddhatjies in die asblik wil gooi.
Vóór ek nog Bob Goudzwaard se boek gelees het, het ek so ʼn afgod vir die eerste maal raakgesien en Luther se bedoeling in die verband helderder verstaan. Dis toe ek ʼn storie uit die pen van die wonderbare Joodse skrywer, Chaim Potok gelees het. In sy roman, The Chosen ontmoet ons twee Joodse seuns wat in Brooklyn woon. Die verhaal speel af in die veertigerjare van die twintigste eeu, kort voor die moderne staat Israel geproklameer word. Dit is ʼn tyd van groot verandering in die wêreld. Die seuns, Reuven Malter en Danny Saunders kom uit verskillende agtergronde, word groot met verskillende oortuigings en het elk sy eie uitdagings. Reuven is ‘n moderne Ortodokse Jood wat ‘n sekulêre skool bywoon en ‘n rabbi wil word. Danny is ‘n Hassidiese Jood wat na verwagting sy pa se posisie as geestelike leier sal erf hy móét ʼn rabbi word, maar wil eerder sielkunde studeer. Hulle vriendskap help hulle om hul persoonlike en godsdienstige konflikte te oorkom en hulle leer nuwe perspektiewe by mekaar. Dit is ʼn wonderlike storie en open jou oë in vele opsigte. Jy gaan net soveel waarde as jou kinders daaruit put as jy dit saam met hulle lees (Dit is immers nie ʼn kinderboek nie!). O ja, en die afgode:
In die tyd waarin die storie afspeel, is almal besig om hulle voetwerk reg te kry vir die vestiging van die moderne staat Israel. Gevolglik is een van die politieke temas wat in die boek tot verskille tussen die twee genoemde Joodse geloofsgroepe lei: die Sionisme. Sionisme, het bitter min met diens aan God te doen en is deur en deur ʼn politieke filosofie. Die vader daarvan was Theodor Herzl, wat hom teen die einde van die 19de eeu begin beywer het vir ʼn Joodse staat in Palestina.
Danny se pa, Reb Saunders, is ʼn Hassidiese rabbi, en tot die ontsteltenis van die grootste groep van sy mede-Jode in die VSA, is hy teen Sionisme en die skep van die staat Israel gekant. Die rede wat hy vir sy teëkanting aanvoer is dat die staat Israel die plek van die Messias in die denke van die Joodse volk kan inneem.
Met ander woorde: Reb Saunders snap dat as jy eers jou veiligheid, jou welsyn, jou heil by ʼn staat of in die politiek begin soek, soek jy dit nie meer by die lewende God en by sy Koning, die Messias nie.
Dit is wat Luther bedoel het. Dit vanwaar jy jou heil verwag, dit wat jou laat veilig voel, dit wat jou totale lojaliteit opeis – dit word jou god. Dit is egter ʼn afgod. Hierdie soort afgod hang nie aan jou muur in die vorm van ʼn masker nie, maar jou hart hang aan dié soort afgod soos ʼn apie aan sy mamma. Die afgod (nie die apie nie) sit nie glimlaggend op jou kaggelrak nie, maar sit gemaklik tuis tussen jou ore.
Oor dié soort afgode wil ek, aan die hand van Bob Goudzwaard, vorentoe nadink.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss. Hy verwag nie dat almal noodwendig met hom saamstem nie en nooi lesers om hom per e-pos te kontak by swvanwyk@gmail.com.