Dagstuk | Dinsdag 20 Februarie 2024

Teks: Lukas 5:16: Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.

GEDAGTE

Jesus se lewe moes baie besig gewees het. Tog het Hy gereeld tyd gemaak vir stilte en om met God te praat. Dis asof ons nuwe geestelike krag kry en weer moed het vir die lewe. Dalk het God ons ook geskape met hierdie innerlike behoefte aan stilte.

’n Oostenrykse sielkundige, Satura, het gewerk met drie basiese menslike behoeftes:

  • Ons het behoefte aan prestasie, ons wil dinge regkry, dinge bereik, dinge doen in die lewe – ons studies, ons werk, ons sport;
  • Ons het ook ’n behoefte aan ekstase, aan opwinding, aan belewing, ons wil meegevoer word deur saamwees, deur musiek, deur vriende, deur verhoudings;
  • Maar, dan het ons ook ’n behoefte aan enstase, ’n behoefte wat baie keer afgeskeep word; ons wil tot stilstand kom en tuis kom by onsself, as’t ware by jouself kuier, met jouself vriende maak, tot rus kom in jouself.

Maar, dit is juis waarmee ons sukkel. Ons kom moeilik tot stilstand. Ons kom moeilik tot rus. Ons kom moeilik tuis in onsself. Ons is so gewoond aan al die adrenalien wat deur ons are pomp dat ons nie kan stil word nie. Dit bly vir ons ‘n uitdaging.

Stilte is een van die skatte wat Christus aan Sy kerk gegee het. Jesus was vir ons hierin ‘n voorbeeld om telkemale hierdie skat te besoek. Is dit iets wat jy ook gaan doen?

GEBED

Waar stiltes is

Waar stiltes is en heilige wind

Waar stiltes is sal Hy jou vind

Met balsem en olie en ewige wyn

Waar angste van dolheid in die eenkant kom kwyn

Waar stiltes is en woorde van hoop

Is dit moontlik om weer jou siel terug te koop

(Koos van der Merwe)