Vandag is Vrydag 16 Februarie. Die digter skryf: Vandag hier, môre nie meer nie… Ons hele lewe verloop tussen vandag en môre. Leef jy onnadenkend? Gaan jy onnadenkend met ander mense om? Hoe maklik kyk ek mis waar ek kon raaksien, stap ek verby waar ek kon stilstaan?
Thomas Merton skryf: “If you want to identify me, ask me not where I live, or what I like to eat, or how I comb my hair, but ask me what I am living for, in detail, and ask me what I think is keeping me from living fully for the things I want to live for.” Moenie jou kans op die lewe verspeel nie. Moenie met huiwering of onsekerheid leef nie. Wees gefokus, jou lewe is kosbaar. Bid saam met die Psalmdigter van Psalm 119:37: “Moet tog nie dat my lewe nutteloos wees nie.”
Ps 103:14-18 sê “Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ’n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte, vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom.”
Doen ‘n refleksiegebed waar jy terugkyk na jou week. Wat het by jou gebly? Waaroor wonder jy?
Staan veral stil by oomblikke in jou week waar jy vertroosting beleef het of naby aan God gevoel het. Wat het hierdie oomblikke jou van God gewys?
Let dan ook op tye wat jy in kontak gekom het met ervarings van lyding. Sou jy so voel, bring dit weer voor die Here.
Gebed: Here, ek vra vir ‘n diep bewussyn van U liefde en werk in my lewe. Amen.