Dagstuk | Woensdag 14 Februarie 2024

Vandag is 14 Februarie, valentynsdag en Aswoensdag op een dag. Is dit nie mooi nie? Dis asof die Here vandag vir ons wil kom herinner dat jy, sy geliefde van stof is. Ja uit stof is ons gemaak en tot stof sal ons terugkeer, maar vandag op hierdie vieringsdag herinner ons jou aan ’n God wat vir jou lief is en jou by die naam geroep het. Ons behoort aan Hom en Hy nooi ons uit om tydens hierdie 40-dae-reis oppad na Paasnaweek, onself opnuut aan Hom te verbind.

Psalm 27:4 : “een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in Sy tempel [1953]

Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. [1983]

Dit wat ek begeer, is ook altyd dat ek dit sal najaag. Gewoonlik soek ’n mens net altyd jou eie begeerte, maar dit bepaal jou lewe se koers. Lydenstyd wil ons hart se begeertes ondersoek. Waarna smag jy – ons het soveel keuses en soveel moontlikhede – maar die vraag bly: Wat is die een ding wat jy, met alles in jou, in hierdie tyd wil najaag? Een manier om in voeling te kom met jou diepste begeertes, is die geloofsgewoontes van ’n joernaal hou . . . skryf ’n woord of ’n gedagte wat in jou gedagtes opkom neer. Soek daardie een ding wat jy begeer.

Vandag is deel van die kerlike tradisie waar ons uit as ’n kruis op ons voorkoppe maak.

God is ’n God van tweede kanse en oorbegin. Daar is by Hom altyd hoop op nuwe moontlikhede. Jy moet wel eerlik na jou ou en dalk slegte lewenspatrone kyk. Om jou daaraan te herinner dat jy weer ’n kans op vernuwing kry. Ons nooi jou graag uit om vanaand 19:00 saam ons by die kerk bymekaar te kom waar ons onsself tot hierdie reis gaan verbind.

Tyd in gebed: Gaan steek vandag jou hande in die grond van jou tuin. Voel die tekstuur. Is die grond warm of koel? Ruik die grond in jou hande. Kyk hoe dit deur jou vingers terugval grond toe en hoe die stof dalk nog in jou hande agter bly. Herinner jouself dat jy stof is, deel van die aarde. Jy is gemaak uit iets. Jy is lewe gegee deur God se asem, Sy Gees wat in jou neusgate geblaas is.

Watter emosie kom by jou op as jy aan jou aardsheid dink?

Sou jy God se gesigsuitdrukking en stemtoon pertinent indink soos wat Hy vir jou hierdie sin sê, “Stof is jy, en jy sal weer stof word”… wat dink jy kommunikeer God deur hierdie woorde aan jou?

Watter kwesbaarheid wil jy nou voor God bring?

Rus in Hom in gebed…