Deur: Ds. Marius Schoombie
Daar is krag in simbole. Dink aan die simbool voor die VN se hoofkantoor in New York: ’n rewolwer se loop wat in ’n knoop gedraai is – ’n simbool van vrede, wat van jou verg om ’n wêreld sonder geweld en oorlog te verbeel. ’n Teken verwys na iets spesifieks, met ’n duidelike betekenis daaraan geheg – as jy ’n stopteken sien, dan moet jy stop. ’n Goeie simbool, daarenteen, het nie net een betekenis nie, maar nooi ons om deel te word van ’n narratief wat die wêreld anders uitbeeld. ’n Simbool vertel ’n storie.
Die Kerkraad van Stellenberg-gemeente het in 2023 die pad begin stap om ’n nuwe logo te ontwerp wat die storie van Stellenberg-gemeente vertel. Oor die afgelope 50 jaar vandat Stellenberg-gemeente se verhaal begin het, het die wêreld groot veranderinge beleef – so ook in Suid-Afrika en in eie konteks in die noordelike voorstede van Kaapstad. Te midde van ’n veranderende wêreld het Stellenberg-gemeente voortdurend vernuwe om die storie van God se inklusiewe liefde, oor grense heen te vertel. Ons het voortdurend vernuwe om mense uit te nooi om deel te word van ’n geloofsgemeenskap waar mense voel dat hulle behoort. Daarom het die kerkraad in 2023 ook die pad begin stap om ons logo te vernuwe om die identiteit en geskiedenis van die gemeente op ’n nuwe manier te simboliseer.
Die doel van hierdie reis is nie om die identiteit van die gemeente te verander nie, maar eerder om ’n nuwe simbool te skep wat die storie van Stellenberg-gemeente vertel en ons innooi om ons eie unieke plek in hierdie storie te vind. ’n Simbool wat getuig van ’n geloofsgemeenskap wat glo dat Jesus ons verlosser leef, wat met die liefde van Christus, inklusief, uitreik oor alle grense heen en wat leef as volgelinge van Christus: nader aan God, nader aan mekaar, om ’n verskil in die wêreld te maak en om voortdurend te vernuwe.
Ons is opgewonde om julle mee te deel dat hierdie soeke na ’n nuwe simbool byna voltooi is! Die nuwe logo sal op Sondag 3 Maart aan die gemeente bekendgestel word en ons nooi almal uit om die dag saam as gemeente te kom vier!
Hoe gaan die feesvieringe verloop?
- Oggend:
- Gesamentlike diens om 09:00. Geen familie- of meditatiewe diens nie. Ons hou almal saam kerk vir hierdie spesiale geleentheid.
- Kategese gaan aan soos normaal. Kategese na die diens vir alle laerskool groepe.
- Vier fees na die diens! Net soos ons elkeen se bydrae tot die koninkryk van God uniek is, versoek ons dat almal wat die diens bywoon ’n paar vingerhappies (iets vars, soets of souts) saambring sodat ons dit as geloofsgemeenskap na afloop van die diens, saam kan geniet. Indien jy bereid is om iets te bring, laat weet asb. die kerkkantoor by 021 976 4519, of ontvangs@stellenberg.co.za. Of klik HIER om aanlyn te bevestig.
- Aand:
- Aanddiens om 18:00.
- Kategese gaan aan soos normaal. Ons vier die nuwe logo in die kleingroepe na die diens.
- Meer besonderhede oor die feesvieringe na die aanddiens sal volg.
Ons sien uit om die dag saam met jou te vier!