Deur: Ds. Marius Schoombie
Die lewe is ’n reis saam met God. By Stellenberg-gemeente glo ons dat die Here met ons kinders ’n pad stap van vóór die doop, tot ná belydenis (en die res van lewens). Daarom praat ons van kategese as ’n reis waarop geloof gevorm word (of geloofsformasiereis). Soos op enige reis, is elke tree belangrik. Ons fokus dikwels op die groot oomblikke of eindbestemmings, maar dit is die volgende tree (en die volgende…) wat jou by jou bestemming uitkry. Daarom nooi ons jou om saam met ons as geloofsgemeenskap te stap in 2024.
James K. A. Smith skryf: “one of the most crucial things to appreciate about Christian formation is that it happens over time. It is not fostered by events or experiences; real formation cannot be effected by actions that are mere episodic. There must be a rhythm and a regularity to formative practices in order for them to sink in.”
Die kategesereis is ’n weeklikse ritme waardeur ons mekaar help om daaglikse ritmes te vestig wat geloof vorm.
Elkeen is op ’n ander deel van hierdie formasiereis:
Babas wat gedoop word en ouers wat laat doop.
Graad 1’s wat hulle eerste skooldag binne stap en vir die eerste keer kategese bywoon.
Graad 8’s wat ’n nuwe fase van hul lewe en geloof betree.
Graad 12’s wat hulle laaste eerste skooldag totsiens sê en hulself voorberei vir belydenisaflegging.
Ouers wat voortdurend leer hoe om saam met hul babas, kinders, tieners, studente en volwasse-kinders hul geloof uit te leef.
Volwassenes wat by kinders leer oor vreugde, eenvoud en tegnologie.
Volwassenes wat beleef hoe hulle deur God gevorm is en daarom wil help om ander te help vorm.
Oupas en oumas aan die einde van hul reis wat met geduld en liefde hul wysheid deel.
Waar jy ook al op jou reis is, by Stellenberg-gemeente is jy deel van ’n geloofsgemeenskap waar ons mekaar vorm om nader aan God en mekaar te leef, om ’n verskil te maak en om voortdurend te vernuwe. Een van die plekke waar geloofsvorming plaasvind is by kategese. Die kategesegroepe is intergenerasionele ruimtes waar volwassenes en kinders by mekaar leer oor geloof en mekaar vorm. Daarom nooi ons jou om betrokke te raak by ’n kategesegroep, omdat dit ’n ruimte is waar jou geloof gevorm word, terwyl jy geleentheid kry om iemand anders se geloof te help vorm.
Ons nooi alle kinders en tieners om deel te word van die kategesekleingroepe en alle matrieks om deel te word van die belydenisafleggingsproses.
Ons nooi alle tieners, studente en volwassenes om mentor te wees vir ’n kleuter- of laerskoolkleingroep.
Ons nooi alle studente en volwassenes om ’n mentor te wees vir ’n tienerkleingroep.
Ons nooi jou om saam met Stellenberg-gemeente en saam met God op reis te wees in 2024
Indien jy wil registreer vir kategese, meer inligting wil hê, of wil betrokke raak as kleingroepleier, lees gerus die Stellenberg Annibrand nuusbrief HIER