In hierdie week van Kersfees, reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus.
Filippense 2:5-7
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
Refleksie
Filippense 2 is een van die mooiste dele van die Bybel. Dit is in die vorm van ’n lied, of gedig, wat waarskynlik deur die vroegste volgelinge van Jesus gesing of gesê is. In hierdie lied sien ons dat die blote feit van Jesus se geboorte ons moet aanspoor om sy voorbeeld te volg. Jesus se geboorte is die grootste gebaar van nederigheid en opoffering. Jesus, wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie. Jesus het selfs sy bestaan op Godgelyke wyse prysgegee.
Een van die dinge in die wêreld wat vir mense die heel belangrikste is, is ons ego’s. Ons probeer ons selfbeeld so poets dat ander net die beste van ons sal sien. Enige foute maak ons toe onder grimering, of ons gaan duisende rande se skuld aan om die duurste, blinkste motors te koop sodat ons ’n goeie beeld vir ander kan voorhou.
Jesus gee sy beeld prys en verneder Homself en neem die gestalte van ’n slaaf aan.
Hoe kan ons hierdie Kerstyd in Jesus se voorbeeld volg? Hoe kan ons onsself verneder en diensbaar wees, eerder as om gedien te word. Waarheen nooi Jesus jou vandag uit in hierdie teks?
Gebed
Here, ons hou so vas aan die illusie van ons goeie selfbeeld, juis dikwels uit vrees dat ander mense die ware mens onder die oppervlak gaan ontdek. Maar U is bereid om Uself te verneder en ’n slaaf te word. U nooi ons om U daarin te volg. Help ons om nie vas te hou aan ons eie beeld nie, maar in U beeld te leef en diensbaar te wees aan ander en gehoorsaam te wees aan God se stem.
Amen