Vandag is Kersfees. Hierdie komende week reflekteer ons elke dag oor die betekenis van Kersfees. Kersfees beteken vir ’n klomp mense ’n klomp verskillende dinge – goed en sleg. Dalk moet jy, voor ons hierdie week se refleksies begin, eers bewus word van wat Kersfees alles vir jou beteken.
Word herinner daaraan dat Kersfees ten diepste gaan oor die misterie van die geboorte van Jesus – seun van God, God self wat mens word. Mag hierdie tyd ‘n geleentheid wees vir die verdieping van ons geloof, ‘n tyd van gedeelde vreugde, en ‘n herinnering aan die groot geskenk van liefde wat God aan ons gegee het deur Sy Seun, Jesus Christus.
Jesaja 9:1;6
Die volk wat in duisternis ronddwaal, het ‘n groot lig gesien;
hulle wat in ‘n stikdonker land woon – oor hulle het ‘n lig geskyn.
Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee.
Die heerskappy is op sy skouer.
Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Die profeet Jesaja het die koms van ’n kind voorspel wat goddelike titels sou dra: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Selfs net die geboorte van die kind bring lig vir ’n volk wat in duisternis ronddwaal. Hierdie kind waarvan Jesaja praat, word algemeen geassosieer met die geboorte van Jesus.
Wat beteken dit vir jou op hierdie Kersfees?
Dalk voel dit asof jy in duisternis ronddwaal, of dalk sien jy duisternis as jy na die wêreld om jou kyk? Hoe bring Kersfees vandag vir jou lig?
Dink aan jou verhouding met Jesus. Jesaja beskryf ’n kind wat goddelike titels dra: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Hoe beleef jy vir Jesus in elk van hierdie titels? Wie is Hy vir jou?
Luister weer na die teks. As jy dit hoor, waarheen nooi dit jou uit?
Gebed
Here, dankie vir die lig wat vir ons op hierdie Kersdag kan sien en ervaar – lig van Jesus wat vir ons op hierdie dag gebore is. Mag ons die diepte van Sy raad, die krag van Sy heerskappy, die liefde van ons ewige Vader, en die vrede wat Hy alleen kan bied, ervaar. In Jesus se naam, bid ons. Amen.