Vandag is Vrydag 8 Desember en hierdie week is ons tema: Adventskrans, waar ons nadink oor die nuwe kerklike seisoen waarbinne ons beweeg. Die Adventskrans is ‘n gebruik wat in die 16de eeu by Lutherane sowel as Katolieke in Duitsland begin het. Daarmee word Advent ingelei, die seisoen waarin Christene hulleself geestelik voorberei om die koms van Jesus Christus met Kersfees te vier.
Ons het met ons Kerssangdiens die mooiste Adventskrans gemaak wat vir die volgende paar weke tot Kersdag in die liturgiese ruimte teen die muur gaan hang. Die Adventskrans is ‘n sirkelvormige krans met immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Gewoonlik as die krans plat lê word daar vier of vyf kerse gerangskik. Vier Sondae voor Kersfees begin die seisoen van Advent en word elke week een kers op die krans aangesteek. Elke kers verteenwoordig ‘n aspek van die geestelike voorbereiding op die koms van Christus.
Vandag reflekteer ons oor ons 5de kers – CHRISTUSKERS (KERSFEES-LIG)
Die wit kers in die middel is die “Christuskers” en verteenwoordig die lig wat Christus gebring het. Die kleur is wit om Jesus se sondeloosheid en heiligheid uit te beeld en dat Hy ons witter as sneeu was soos ons lees in Jesaja 1:18. In Duitsland word hierdie kers Oukersaand aangesteek. Oukersaand word daarom ook “Heiligabend” genoem.
‘n Vers wat die boodskap van hierdie Christuskers raakvat is in Johannes 1:4-5 waar Hy Jesus se geboorte só aankondig:
“In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”
Gebed: Here, U het ons geroep om die lig van die wêreld te wees. Mag ons in hierdie tyd van voorbereiding ons lig laat skyn deur goeie werke en deur u liefde aan ander te toon. Help ons om die duisternis te verdryf en die weg na Christus te verlig. Amen.