Vandag is Maandag 4 Desember en hierdie week is ons tema: Adventskrans, waar ons nadink oor die nuwe kerklike seisoen waarbinne ons beweeg. Die Adventskrans is ’n gebruik wat in die 16de eeu by Lutherane sowel as Katolieke in Duitsland begin het. Daarmee word Advent ingelei, die seisoen waarin Christene hulleself geestelik voorberei om die koms van Jesus Christus met Kersfees te vier.
Ons het met ons Kerssangdiens die mooiste Adventskrans gemaak wat vir die volgende paar weke tot Kersdag in die liturgiese ruimte teen die muur gaan hang. Die Adventskrans is ’n sirkelvormige krans met immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Gewoonlik as die krans plat lê word daar vier of vyf kerse gerangskik. Vier Sondae voor Kersfees begin die seisoen van Advent en word elke week een kers op die krans aangesteek. Elke kers verteenwoordig ’n aspek van die geestelike voorbereiding op die koms van Christus.
Vandag reflekteer ons oor ons 1STE kers – HOOP
Die eerste kers, wat pers of blou is, simboliseer hoop. Dit word soms die “Profete Kers” genoem ter herinnering aan die profete, veral Jesaja, wat die geboorte van Christus voorspel het. Dit verteenwoordig die hoop wat gevoel word in afwagting van die komende Messias.
’n Vers wat die boodskap van hierdie Sondag raakvat is in Paulus se brief aan die Romeine 15:12-13:
“En Jesaja sê ook: Die wortel van Ísai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop. En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”
Gebed: Here, ons dank U vir die lig van hoop wat in Jesus kom. Mag ons harte vol vreugde wees terwyl ons u belofte van verlossing vier. Help ons om hierdie tyd van voorbereiding te gebruik om na U uit te sien met verwagting en hoop. Amen.