Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.
Psalm 119:130. “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is.”
Refleksie
Psalm 119 is ’n besonderse Psalm wat die woord van God besing. In hierdie vers word die Woord beskryf as iets wat lig bring vir mense. Met ander woorde, iets wat ons help om te sien.
Lig help ons om te sien, maar dit is interessant om te sien dat lig ook soms verblindend kan wees. Ek wonder watter tipe lig die woord vir ons bring. ’n Helder soeklig verlig een enkele area of voorwerp waarop die lig val, maar maak effektief die hele wêreld rondom dit donkerder. Toe ek as kind saam met my pa in die veld gaan kamp het, het hy my geleer hoe dit soms beter is om sonder ’n koplig in die donker te loop. As jy vir ’n ruk in die donkerte stap, raak jou oë gewoond daaraan en kan jy eintlik meer sien met die dowwe maanlig as wat jy ’n klein area met ’n kopliggie helder probeer maak.
Dit is ironies hoe ons, deur lig op een ding te skyn, die wêreld rondom ons donkerder maak. Ek vermoed die lig van die woord is meer soos ’n dowwe maanlig as wat dit soos ’n helder soeklig is. Dit is meer soos ’n lig waaraan ons oë stadig gewoond moet raak, wat ons help om in die donkerte rondom ons beter te sien, as wat dit ’n soeklig is wat net een area verlig en alles anders donkerder maak.
Tog beleef ek dat die Woord van God dikwels soos ’n soeklig gebruik word. Ons soek teksverse om net te verlig waarna ons in elk geval kyk en in die proses, verblind ons onsself tot die wêreld rondom ons. Mag ons leer om eerder in die dowwe lig van die woord te sit, sodat ons oë gewoond kan raak om die hele wêreld rondom ons, beter te sien in die lig van die Woord.
Gebed
Here, mag u Woord vir ons lig bring, nie sodat ons net die dinge waarna ons kyk beter kan sien nie, maar dat ons hele wêreld verlig kan word en dat ons alles rondom ons, beter kan sien.
Amen.