Dagstuk | Dinsdag 21 November 2023

Stellenberg-gemeente is besig om voor te berei vir ons Kerssangdiens met die tema: Lig vir die wêreld. Hierdie week staan ons elke dag stil by ’n ander gedagte oor lig.

Psalm 139:12.  “maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”

Refleksie

Ons is almal, dink ek, so bietjie bang vir die donker. Ons beweeg bietjie meer versigtig in die donker en as ons kan, sal ons eerder donkerte vermy. Ons neem selfs aan dat God nie in die donkerte is nie, maar net in die lig leef.

Ek onthou toe ek een keer saam met ’n groep vriende in ’n grot in Limpopo gaan rondkruip het. Toe ons sowat 2km in die grot in was, sê ons gids dat ons al ons ligte moet afsit en net vir ’n oomblik in die donkerte sit. Dit was die donkerste donker wat ek nog beleef het. Na ’n ruk gebeur die vreemdste ding – jy begin ’n gevoel kry van hoe die kamer van die grot “lyk” sonder dat jy enige iets kan sien. Al jou ander sintuie tree in om jou te help om ’n prentjie van jou omgewing te kry. Dit voel of jy op ’n ander manier leer sien.

Soms dink ek, maak ons te veel staat op ons oë. Ons oordeel bietjie te vinnig op grond van wat ons kan sien, die uiterlike. Ons tref te maklik onderskeid tussen wat ons as “lig” en “donker” beskou en neem aan dat God ook so na die wêreld kyk. Maar soos 1 Sameul 16:7 ons so mooi herinner: Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

Of soos Psalm 139:12 ons herinner: “vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”

Dalk is die donkerte nie iets vir ons om te vermy nie, maar ook ’n plek waar ons kan ontdek dat God op ’n spesiale manier teenwoordig is. As jy die sterre wil sien, moet jy bereid wees om in die donkerte in te gaan.

Stap vandag ’n pad saam met hierdie gedagtes:

Hoe lyk jou verhouding met donkerte? Wat beskou jy as lig en wat beskou jy as donker?

Hoe dink jy lyk God se verhouding met donkerte, as jy die woorde van Psalm 139 hoor?

Hoe nooi dit jou uit om anders te kyk na lig en donker?

Gebed

Here, wanneer die vrees en ongemak van donkerte ons oorweldig, herinner ons dat u daar is en dat U gemaklik in die donker sien, selfs wanneer ons nie kan nie.

Amen.