Marius Breytenbach
My gunsteling Kersfees-herinnering
Om die seën te beleef van Oukersaand en Kersdag saam met familie, is een van die Kersfees-herinneringe wat altyd by my opkom. Al is ons kinders vandag jong volwassenes, leef die tradisie van Kersvader steeds voort, maar in die plek van die oupas verskyn my dogter deesdae tot groot vermaak van almal.
My ideale Kersfeesspyskaart
Op die Kerstafel moet daar trifle met regtig baie room wees. En dan is daardie trifle so drie dae na Kersfees op sy lekkerste wanneer die room soos ’n gletser wat opgebreek het en in ’n see van jellie ronddryf.
My boodskap vir hierdie Kersfees
Kersfees is ’n herinnering daaraan dat elke dag ’n fees is. Moet dit nie misloop nie!
Philipp Dietmann
My gunsteling Kersfees-herinnering
My duidelikste Kersfees-herinnering is die kuiers by my ouma op Stellenbosch. Vir ons nefies en niggies wat van Johannesburg af gekom het, was die laat sonsondergang in die Kaap deel van die wonder van Kerstyd. Laataand speel in die park, optel van dennebolle wat aan die Kersboom gehang moet word en die aarbeie van Mooiberge-padstal wat ons self pluk en dan saam met vanieljeroomys eet – dit is alles deel van my herinneringe. Ouma het moeite gedoen om op Kersdag dan haar mooiste porseleinbakke uit te haal. Ek kry nou nog terugflitse van daardie dae elke keer as ek ’n mooi bak sien.
My ideale Kersfeesspyskaart
My gunsteling-Kersete moet ’n plakkie gammon en lamsboud insluit, afgerond met en ’n lekker nagereg, maar Kersfees is ook vir my sinoniem met ’n gebraaide aartappel.
My boodskap vir hierdie Kersfees
My wens vir volgende jaar is dat ons almal meer tyd sal maak om ons vriende en familie te waardeer en die samesyn te geniet. Die afgelope jaar het bewys dat dinge so vinnig kan verander, so, mag ons die mense in ons lewe nadertrek en die saamwees vier.
René Potgieter
My gunsteling Kersfees-herinnering
Ek was een van vier kinders en een Kersfees het ons besluit om die Kersverhaal vir die res van die familie op te voer. Ons het ’n week lank geoefen om dit op Oukersaand op te voer. Ons het ook lekker gelag, want met net vier “akteurs” moes ons vinnig van rolle kon verwissel. Maar dit sal my altyd bybly.
My ideale Kersfeesspyskaart
Op Kersdag is ek altyd diep bewus van mense wat min het om te eet. Dus probeer ek altyd om die Kersete eenvoudig, maar tog lekker te maak. Omdat ek van die Karoo af kom, waar dit altyd Desembers verskriklik warm is, het ons altyd kouevleis en slaai geëet, maar die hoogtepunt vir my bly ’n heerlike trifle.
My boodskap vir hierdie Kersfees
Tydens Jesus se geboorte ’n paar duisend jaar gelede het God vir ons in dade kom wys hoe lief Hy ons het. Die Nobelprysskrywer, John Steinbeck, het op verskeie plekke geskryf dat liefde sonder dade is soos wolke sonder reën. God het nie net gepráát oor sy liefde nie. Hy het dit ook duidelik vir ons kom wys. Kersfees bewys dat God se liefde eg is en dit bied aan ons ’n kykie in God se hart. Daarom sê Joh. 3:16 dat God die wêreld oneindig lief gehad het en sy liefde word op dié wyse duidelik deur Jesus geopenbaar.
Ons weet dat alles wat God deur middel van sy gestuurde Seun doen, voortvoei uit sy liefde vir die wêreld. Hierdie liefde is nie ’n oppervlakkige, gevoelsmatige ervaring nie, maar ’n selfverloënende, selfvernederende en opofferende liefde soos geopenbaar in die koms van Jesus. Sy liefde vir elke mens word duidelik hierdeur bewys. God se liefde sluit geen mens uit nie. Martin Luther het eenkeer gesê: “As God die wêreld lief gehad het, moet Hy mos ook vir Martin Luther lief wees, want Martin Luther is deel van die wêreld.” So kan ons elkeen ons name daar invoeg. God het vir my lief. Elke Kersfees kom sê God dit weer opnuut vir ons. Mag jy hierdie Kersfees besef hoe oneindig lief God jou het. Mag Kersfees 2023 vir jou en jou gesin ’n geseënde tyd wees.
Marius Schoombie
My gunsteling Kersfees-herinnering
Toe ek op laerskool was, het ek die voorreg gehad om naby my oupa en ouma te bly. Elke jaar, op Oukersaand, sou ons gesin by hulle gaan eet. Ek en my broers sou ’n klein geskenkie kry en een of ander vorm van sjokolade (gewoonlik Astro’s). Ek kan nie enige van die geskenke onthou nie, maar Astro’s het nou nog ’n spesiale plek in my hart.
Na ete (en die trifle wat my Ouma vir poeding gemaak het en waarvoor my Oupa baie lief was), sou ons by die Kersboom gaan sit en my oupa sou die storie van Kersfees vir ons lees, of vertel. My oupa was ’n dominee voor hy afgetree het. Ek het hom net as Oupa geken, nie as “Dominee” nie, maar ek onthou hoe belangrik die storie van Kersfees vir hom was. Ek verbeel my dat ek as klein laaitie daardie tyd soms bietjie omgewens het, omdat ek eerder wou Astro’s eet en in die kamer langsaan met die Clavinova-klavier wou gaan speel. Maar as ek terugdink, is daardie tyd om die Kersboom en my oupa wat die storie van Kersfees vertel, kosbaar.
My ideale Kersfeesspyskaart
Eerstens is my ideale Kersfeesete ’n ete saam met ander, so ek verbeel my ’n klomp disse om lekker met ander mense te deel. So, om mee te begin, terwyl almal saamkuier – ’n ligte kaasbord met vars vrugte, varsgebakte brood en konfyt. Daarna my ma se skaapboud (dit smaak net nie dieselfde as sy dit nie maak nie) met oondgroente, wortelslaai en ’n goeie bottel rooiwyn.
Vir poeding soek ek enige iets behalwe trifle. Daardie liefde het ek nie by my oupa geërf nie.
My boodskap vir hierdie Kersfees
Hierdie sê ek dalk meer vir myself as vir ander: Vier fees, wees opgewonde en bly oor die hoop wat in Jesus gebore is met Kersfees. Steek Kersliggies aan en versier die donkerte met lig! Verander die donker dele van die wêreld in iets moois. Laat toe dat die vreugde en hoop van Kersfees jou verander, sodat jy met hoop, vreugde, vrede en liefde kan leef in 2024. Daar is genoeg redes om hoop-loos te voel. Kersfees herinner my dat God nuwe lewe en nuwe hoop bring te midde van ’n morsige wêreld. Mag ons vashou aan die hoop wat ons in Hom het en gaan leef as mense wat hoop het.
Johan Visser
My gunsteling Kersfees-herinnering
Van my mooiste herinneringe aan Kersfees is die tye wat ons saam met verskeie families – ooms, tannies, neefs en niggies – deurgebring het. Ons almal saam by my ouma se huis. Gewoonlik was die eetkamer vol grootmense wat aan tafel gesit het en in die kombuis het die kinders gesit en die Kersete om die kombuistafel geniet. Twee tafels, omrede ons so baie was, maar een familie in Christus. Op Oukersaand sou ons almal laataand al ons geskenke onder ’n regte Kersfeesboom oopmaak.
My ideale Kersfeesspyskaart
Die lekkerste van die Kersete was natuurlik die klomp opsies waaruit ’n mens kon kies, maar my gunsteling was die trifle en dan die tradisionele middagslapie as die laaste kersie op die koek.
My boodskap vir hierdie Kersfees
Kersfees is iets wat ons as gelowiges dwarsoor die wêreld vier. Die geboorte van ons Here. Die koms van die Messias. En ons ken tog almal die storie. Maar my gebed is dat jy opnuut sal ontdek wat Kersfees vir JOU beteken. Want ons het ook almal stories. En êrens hoop ek dat jou storie en die storie van die Seun van Nasaret by mekaar gaan uitkom. En dat hierdie verhaal weer op ’n nuwe manier vir jou gaan sin maak. Geniet hierdie Immanueltyd saam met jou geliefdes. God by ons . . . gemeente, genade en vrede vir julle!