Om voortdurend te vernuwe … maak mense heel.
2 Korintiërs 4:16. Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om agteruit te gaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
Hierdie teks kom uit ‘n gedeelte in Korintiërs waarin gelowiges se lewens vergelyk word met ‘n kleipot wat maklik breek. Kleipotte was dié huishoudelike items wat in die Bybelse tyd die meeste gebruik is. Dit was ook van die kosbaarste items in hulle huise omdat dit vir soveel doeleindes gebruik is. Met die geringste stamp het ‘n stukkie daarvan afgebreek of ‘n kraak ontstaan wat dit onbruikbaar maak. Wanneer dit uit jou hand val word dit oombliklik vernietig. Paulus het hierdie welbekende en kosbare item gebruik om op ‘n duidelike en kragtige manier met gelowiges te praat oor die stampe en stote van die lewe wat ons onbruikbaar laat. Ook die groot tragedies wat in sekondes oor ons lewens kom en mense in skerwe op die vloer laat. Ons bid elke dag dat die Here ons en mense vir wie ons omgee moet bewaar. Te midde daarvan kry ons en die wat ons lief het seer. Ons word te midde van ons geloof in God uitgelewer aan die stampe in die lewe wat ons kwes en breek. Dit is ‘n gegewe sê Paulus, want ons is soos kleipotte. Maar in ons dra ons die skat van Jesus se dood en opstanding. Wat beteken dit vir jou vandag? Paulus sê in hierdie gedeelte dat ons juis deur die konstante realiteit van gebrokenheid deur God se Gees heel mense gemaak word. Dit beteken dat wanneer dit vir jou voel alles aan skerwe op die vloer lê en jy ‘n definitiewe einde bereik het, God se Gees wat in jou woon, jou kom heelmaak. Hoe dit werk is nie iets wat ‘n mens in ‘n preek of dagstukkie kan verduidelik nie, dit is iets waarop ons in ons gebrokenheid moet vertrou en ontdek. Die feit dat ek en jy vandag nog behoue is getuig daarvan.
Gebed
Here, maak dit deur u genade dit vir my moontlik wat natuurlikswys onmoontlik is – om die vernedering, swaarkry en lyding wat die lewe elke dag oor my pad bring, te kan dra. Ek sukkel om die sin daarvan te verstaan omdat dit mense van buite sigbaar gebroke laat. En dit voel of alles ook in ons gebreek is. Ons dra nie net ’n hart wat seer is nie, maar moet leef met gebroke harte. Ons geloof in u dood en opstanding kom verander alles. Ons is realisties en verwag die stampe van die lewe wat sy merktekens op ons laat, maar ons verwag ook die krag van u opstanding wat besig is om van ons heel mense te maak. Dankie Here dat ek vandag in my gebrokenheid daardie mens is. Amen.