Deur: Ds. Marius Breytenbach
Ons gemeente se karakter en identiteit is oor die afgelope 52 jaar deur gelowiges se roeping, gawes, talente en toewyding gevorm. Soos wat mense in die omstandighede van ons land en onmiddellike omgewing meegeleef het, so het die gemeente spontaan in ’n unieke rigting gegroei. Oor etlike jare het dit mense die ruimte gebied om kinders groot te maak, geestelik te groei, vriendskappe te smee en in mekaar se lief en leed te deel en daardeur te ervaar hoe God ons vorm om met betekenis in hierdie wêreld te leef. Vanuit hierdie spontaneïteit het Stellenberg-gemeente se visie en missie oor die jare heen gestalte gevind: Jesus ons Verlosser leef! en Stellenberg reik uit oor alle grense heen. Hierdie uitreik geskied na binne en buite. Na binne fokus ons om lidmate nader aan God en mekaar te begelei. Hier vanuit spruit ons roeping om onsself oop te stel sodat ons voortdurend deur God vernuwe kan word en dan met ’n verskil in die wêreld te leef. Op hierdie manier het Stellenberg-gemeente oor die afgelope 52 jaar gegroei tot ’n makrogemeente waar ’n diversiteit van mense tuiskom en waaruit ’n verskeidenheid van bedienings voortvloei.
Dit alles word moontlik gemaak deur lidmate se maandelikse dankofferbydraes, tiendemaanddankoffers, asook die opneem van weeklikse bankkollektes. In die ou dae het hierdie inkomstes al ons uitgawes gedek. Vandag is ons, soos die meeste ander kerkdenominasies, afhanklik om ’n groot deel van ons inkomste aan te vul deur inisiatiewe soos die feesmark, asook die verhuring van lokale, selfoontorings en die koffiewinkelperseel. Hierdie dienste dra by tot die gemeente se inklusiewe karakter en die diens wat ons in die groter gemeenskap lewer. Dit is alles slegs moontlik omdat lidmate in ons gemeente meeleef.
Daarom is ons opreg dankbaar vir elke lidmaat wat met oortuiging hulle tyd, gawes, en finansiële bydraes met ons gemeente deel. Ons ingesteldheid was oor die jare heen om nie lidmate elke Sondag bewus te maak dat ons van finansiële bydraes afhanklik is nie. Ons leef uit die oortuiging dat dit iets is wat weekliks spontaan moet voortvloei uit die aard van lidmate se dankbaarheid en die vrug van die gemeente se werksaamhede. Tog is dit ook nodig om effektief en openlik oor die gemeente se finansies met lidmate te kommunikeer. Ons doelwit is om ’n derde van ons inkomste na buite die gemeente se grense te kanaliseer na plekke van nood en waar bestaande bedienings ondersteun word. Die res word na binne die gemeente aangewend om ’n ruimte te skep waar lidmate geestelik kan groei en ondersteun kan word om daagliks met ’n verskil in die wêreld te leef. Oorweeg dus om gereeld op die volgende wyses tot ons gemeente se funksionering by te dra:
- Weeklikse bankkollektes (die deurkollektes gaan elke week vir ‘n spesifieke diensorganisasie).
- Maandelikse dankofferbydraes – dit is ons hoofbron van inkomste. Lidmate kan per debietorder, elektroniese inbetaling, of kontant ’n bydrae maak. Oorweeg asseblief om jou debietorder jaarliks aan te pas.
- Ons versoek lidmate om jaarliks in die laaste drie maande van die jaar ’n eenmalige bykomende bydrae te oorweeg.
Dankie vir elkeen in ons gemeente wat meelewing toon.