Feesmark 2023 – ontmoet van ons uitstallers

Leza Coetzee het 16 jaar gelede haar hand aan die maak van kaartjies gewaag en sedertdien nog nooit teruggekyk nie.  Dié tydverdryf is uit nood gebore toe sy haar ma, wat van ’n staatspensioen afhanklik was, finansieel moes ondersteun.

“Ek het in daardie stadium by PwC gewerk, waar ek hulle opleiding behartig het.  Ek het iets gesoek waarmee ek na-ure ’n ekstra inkomste kon verdien, wat my in staat sou stel om my ma finansieel by te staan.  Ek het toe eers spyseniering probeer, maar dit was nie so suksesvol nie.  Toe begin ek kaartjies maak wat ek op markte verkoop.  My vriende het in daardie stadium vir my gesê dat mense die kaartjies net die eerste jaar sal koop en daarna gaan die  koopgier taan, maar hier is ek steeds – 16 jaar later en die kaartjies verkoop steeds.

“Elke kaartjie word met die hand gemaak en ek het een Saterdag ’n rekordgetal van 500 kaartjies die dag verkoop.  Toe moes ek darem vinnig inspring om nog voorraad te maak.

“Die mark het ’n wonderlike atmosfeer en dit is jaarliks vir my ’n groot voorreg om by Stellenberg se feesmark ’n uitstaller te wees.  Ek maak my reg om nog vir baie jare kaartjies te maak en by die mark te verkoop.”

Liezl van Coller het vanjaar vir die eerste keer haar kunswerke by die feesmark uitgestal.  Sy is sedert 2017 voltyds ’n kunstenaar en bedryf daarmee saam ook ’n ramery by haar kunsateljee.  Voor dit het sy ongeveer 10 jaar in die modebedryf gewerk en ook haar hand aan binnenshuisversiering gewaag.

Haar skilderye is meestal abstrak, maar sy sê dat sy ook ook blomme en landskappe skilder.  Sy vertel dat sy dikwels vir hotelle en gastehuise skilderye skilder, volgens riglyne wat hulle aan haar gee rakende hulle voorkeur vir kleurskemas en style.  Tog bly elke skildery ’n kreatiewe proses wat eers in haar innerlike vastrapplek moet kry alvorens sy haar hand aan die kwas kan slaan.  Sy vernuwe ook dikwels bestaande skilderye sodat dit by ’n nuwe kleurskema of verandering in dekorstyl van ’n vertrek kan aanpas.  Dan hoef gastehuiseienaars, of binnenshuisversierders nie nuwe skilderye aan te koop, of nuwe hangplek aan mure te prakseer nie – ons werk dan met die bestaande skilderdoeke en gee dit ’n splinternuwe voorkoms.

“Tydens die Covid-19-pandemie het die aard van die bedryf baie verander.  Bestellings vir skilderye het minder geraak, of die galerye waar ek my werk vertoon het, moes noodgedwonge sluit,” sê Liezl.  “Ek het nog nooit my skilderye op ’n mark probeer verkoop nie en het glad nie geweet wat om van ’n mark te verwag nie, maar ek het besef ek moet iets doen met al die skilderye wat ek het.  Dit sluit voorbeelde van wat ek al geskilder het in, of skilderye wat ek uit galerye moes verwyder en toe het ek gedink ek gaan dit waag om by die feesmark aansoek te doen.

“Ek is verstom oor die reaksie wat ek ontvang het en ook hoe goed die skilderye verkoop het.  Ek sal my skilderye volgende jaar graag weer by die feesmark uitstal en het nou ’n baie beter idee hoe om dit te vertoon. Dit was die beste besluit wat ek kon neem om vanjaar by Stellenberg se feesmark aansoek te doen en ek is baie dankbaar teenoor die Here vir die seën wat ek by die mark ontvang het.”

 

Enesia Manjonjo verkoop handgemaakte mandjies in verskillende ontwerpe, groottes en style.  Sy is ’n Zimbabwiër wat tydelik in Suid-Afrika woon en elke drie maande na haar tuisland terugkeer.

Die mandjies wat sy verkoop word van ’n tipe bamboesplant, wat inheems aan Zimbabwe is, gemaak.  Haar hele familie, altesaam 12 mense, is deel van die mandjiebesigheid.  Hulle vleg sedert 2005 die mandjies met die hand en vervoer dit dan per bus of trok na Suid-Afrika waar hulle verskillende afsetpunte vir die produkte het.

Enesia stal vanjaar vir die eerste keer haar mandjieware by die feesmark uit en sy sê sy is baie tevrede met die verkope.  Sy is deur die loop van die jaar weekliks ’n uitstaller by die Milnerton-vlooimark en ook maandeliks by die Canalwalk- en Somerset-winkelsentrums.