Dagstuk | Vrydag 10 November 2023

TEKS: 2 Kor 9:7-8. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. 8En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

RIGLYN 3:  GEE UIT DANKBAARHEID

Wanneer ek gee moet ek uit dankbaarheid gee.  Ek moet gee omdat ek verstaan dat daar ‘n dag in my lewe gekom het, waar ek begryp het dat die Here Jesus my sonde aan die kruis betaal het, dat Hy my ‘n leeftyd se sonde kwytgeskeld het en dat Hy my uit die koninkryk van die duisternis geneem het en my na die Koninkryk van die lig toe gebring het, en as ek dit verstaan, dan gaan my hart oop en dan gaan my beursie oop en dan begin gee ek met ‘n ander gesindheid – dan ek gee omdat ek dankbaar is.

Ons moet uit dankbaarheid gee. Dit moet nie van ons afgedwing word nie. Daar moet nie ‘n diaken verbykom en sê: waar is jou bydrae nie? As ons met daardie gesindheid gee, dat dit uit ons afgepers moet word, dat jy op jou tande kners as jy van geld hoor, dan is daar ’n fout in jou hart en nie by die kerk nie.  Jy moet vrywillig gee, soos God dit op jou hart lê. Dit is die regte gesindheid.  Wat sien die Here in jou hart as jy jou offer ingooi?

Een van die geheime van ’n gelukkige lewe is dankbaarheid. As ek en jy dit kan reg kry om met dankbaarheid te gee, verander dit die wêreld vir ons.  Wanneer ons by die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak verby kyk, sien ons die seën wat ons het raak. Dankbaarheid word ’n realiteit in ons lewens as ons besef dat alles wat ons het is ’n geskenk van God is. Om te kan besit is ’n geskenk, om te kan werk, om ‘n familie te hê – dit is alles geskenke uit sy hand. Dankbaarheid is egter nie net ’n emosie nie, maar gaan altyd oor tot aksie.

GEBED

Here, dankie vir alles wat ek het. Uit dankbaarheid wil ek ook gee aan ander wat nodig het en aan U gemeente. Amen