Graad 7’s vier ’n belangrike roetemerker op hul geloofsreis

Deur: Ds. Marius Schoombie

Die lewe is ’n reis saam met God. By Stellenberg-gemeente glo ons dat die Here met ons kinders ’n pad stap van vóór die doop, tot ná belydenis (en die res van hul lewens). Op hierdie reis is daar belangrike roetemerkers op hul pad. Die bekende skrywer, Terry Pratchett, som die belangrikheid hiervan uitstekend op:

 “If you do not know where you come from, then you don’t know where you are, and if you don’t know where you are, then you don’t know where you’re going. And if you don’t know where you’re going, you’re probably going wrong.”

Roetemerkers help ons om te sien waar ons vandaan kom en waar ons tans is (oriëntasie), dit help ons om te sien van watter storie ons deel is en wie saam met ons stap (identifisering) en dit gee ons geleentheid om iets van ons reis te erken en bevestig (bely). Die Doop en Belydenis van geloof is voorbeelde van twee belangrike roetemerkers op ons geloofsreis.

Daar is egter ook ander belangrike roetemerkers op ons pad. In die NG Kerk is daar ’n al hoe groter bewuswording dat die oorgang van kind na tiener só ’n roetemerker is wat gevier moet word. En terwyl die Algemene Sinode nog besig was om te vergader oor die instelling van hierdie en ander roetemerkers in die NG Kerk, het Stellenberg-gemeente dit al prakties uitgeleef.

Op 15 Oktober, op die eerste gesamentlike oggenddiens van die kwartaal, is ons graad 7’s en ouers genooi vir ’n spesiale diens, waar die eerste deel van die graad 7-roetemerker gevier is. Dit was ’n geleentheid waar die graad 7’s hul doop kon vier deur ’n klippie uit die doopbak te haal as teken dat hulle vashou aan hul doop en waar die ouers en die res van die gemeente spesiaal vir die graad 7’s kon bid en ondersteun op hul geloofsreis.

Die graad 7’s en hul ouers is ook genooi na die aanddiens, waar die graad 7’s weer hul klippie terug in die doopbak gesit het as belydenis dat hulle vir God vertrou met hul geloofsreis vorentoe. Dit was ook dan die begin van hul reis as deel van Stellenberg se senior kategese, wat voortvloei vanuit die aanddiens.

Dit was ’n geleentheid wat almal wat daaraan deelgeneem het, verryk het! Dit was in besonder spesiaal vir die graad 7’s en hul ouers, maar ook vir die hele gemeente. ’n Klomp gemeentelede sou na die tyd getuig hoe hulle met trane in hul oë gesit het om te sien hoe ouers hul hande op hul kinders se skouers sit en hul seën vir hul pad vorentoe. Dit is een van die kosbare eienskappe van roetemerkers – wanneer ander die geleentheid kry om ’n roetemerker in die gemeente te vier, versterk dit ons eie geloof en help dit ons om weer self te oriënteer, daarmee te identifiseer asook iets van ons eie geloofsreis te bely.

Ons is dankbaar vir die Here se genade wat ons graad 7’s op hul geloofsreis begelei!

*Vir meer inligting oor Roetemerkers in die NG Kerk, kyk gerus hier:

KYK: Roetemerkers: ‘Dit vervang nie die geloofsbelydenis nie’